Mavis het daar in die koue en donkerte buite Mitchell’s Plein-polisiestasie gestaan en aan haar kinders gedink. Aan Sakhumzi gedink. Gedink aan die drank waarna sy gesmag het. Alles het so vinnig daar in die stegie gebeur. Die polisie het nie eers haar naam gevra, waar sy vandaan gekom het, en of sy van Bra Mike gesteel het nie. Hulle het haar nie ’n kans gegee om te verduidelik dat die mes Sakhumzi s’n was en dat hy Bra Mike gesteek, sy beursie geneem, in haar sak gedruk en toe weggehardloop het nie.
Die manlike beampte het haar vorentoe gedruk terwyl die vroue beampte die agterkant van die vangwa oopgemaak het. “Klim in,” het sy geroep terwyl die mede beampte Mavis gestoot het, wat stadig begin inklim het.
“Maak gou,” hy het haar van agter gestoot. Haar kop het teen die bokant van die deurraam gestamp en sy het ineengekrimp toe sy op die metaalvloer vorentoe geval het.
Toe hulle die deur agter haar gesluit het het sy haar hand uitgesteek en geraak aan die plek waar haar kop die metaal gevang het. Haar hand was bloederig. Dit was ’n fout. Sy moes uit die vangwa kom. Sy moes aan die beamptes verduidelik en teruggaan na haar kinders. Sy het ’n drankie nodig gehad. In haar paniek het sy teen die kante van die wa begin slaan. Maar die beamptes het dit nie eers opgemerk nie toe die vangwa deur die strate gespoed het nie. Toe hulle ’n slaggat in die pad getref het is sy van die een kant na die ander gegooi. Sy het teen die dak gedruk en haarself probeer stabiliseer, maar haar hande het nog steeds gebewe.
Die vangwa het skielik gestop en sy het die deure hoor slaan toe die beamptes uitgeklim het. Dit het soos ’n ewigheid gevoel wat sy in die donker gewag het. Sy kon die beamptes op hulle handradio’s hoor praat. Toe het hulle teruggespring in die wa en weer weg gespoed. Teen die tyd wat hulle by die Mitchell Plein-polisiestasie aangekom het, het Mavis heeltemal tred verloor met die tyd. Sy was opgekrul in die hoekie van die vangwa. Sy het haar baadjie uitgetrek en dit teen die sny op haar kop gedruk. Gelukkig het die bloeding gestop. Maar dit het ’n gemors veroorsaak en haar hande het droë bloed op gehad. Daar was bloederige handmerke op die kante van die vangwa.
“Klim uit Mama!” het die manlike beampte gesê, “ons het belangriker dinge om te doen as om hier vir jou te staan en wag.” Maar sy kon nie beweeg nie. Haar keel was so droog dat sy skaars haar eie spoeg kon insluk. Die beampte het ingeleun en haar uitgepluk. Die stasie se helder ligte het soos naalde in haar oë gevoel.
Die vroulike beampte het haar skouer gegryp en haar vorentoe gedruk. Die twee beamptes het geklets en hard gelag terwyl sy voor hulle uit geloop het. Elke tree was moeilik. Haar liggaam het so swaar gevoel. Binne die polisiestasie het ’n ander beampte haar naam en adres gevra. Haar hand het so gebewe dat dit moeilik was om die letters te kon uitmaak.
Toe is sy met ’n lang grys gang afgelei na ’n sel toe. Al die ligte en geraas was verwarrend en haar kop het geklop.
Sy het ’n drankie nodig gehad. Baie dringend. As sy een kon kry sou die lewe se herstel knoppie gedruk word en dinge sou weer begin sin maak.
Die geraas van selhekke wat toeslaan kon deur al die gange gehoor word. In die afdeling waarin hulle was was daar twee aangrensende selle – een vir mans en een vir vrouens. Beide was groot genoeg om minstens ses mense elk te hou. Die mans se sel was vol. Daar was een ander vrou in Mavis se sel, sy het gehurk in die hoek gesit. Die polisievrou het die hek oopgemaak en Mavis in die sel ingestoot.
“Haibo, sista, die tronk is nie ’n plek vir dames soos jy nie,” het een van die mans in die oorkantste sel geroep, “wat het jy gedoen om hier by-”
Maar een van die selmaats het hom stil gemaak.
“Wie gee om hoekom die feeks hier is? Sy is nou ’n krimineel net soos die res van ons!”
“Hey voetsek wena, man,” die vrou in die hoek van Mavis se sel het opgestaan en die tralies van die sel geskud en geskree. “Almal hier binne is onskuldig totdat die hof jou skuldig bevind het!”
“Hay’suka wena, S’bu, jy maak asof jy alles weet,” het die man geantwoord, “jy was al soveel keer in die hof dat jy dink jy’s nou die regter.”
“Hou net jou bek man,” het Sbu deur die tralies gespoeg. Die oorkantse ou het sy middelvinger vir haar gewys toe sy omswaai om na Mavis te kyk. Sy het Mavis stadig op en af bekyk, en haar van kop tot toon deurgekyk asof sy probeer sien het wat se tipe persoon sy was.
Mavis se bene het geruk toe sy stadig na die enkelbed aan die agterkant van die sel gestrompel het.
Sy het haarself op die bed opgetrek en bewend onder die enkel kombers opgekrul. Maar die vrou, Sbu, wou haar nie laat slaap nie. Sy het gekom en op die bed langs Mavis gaan sit en haar hande op haar skouers gesit. “Ek’s Nosibusiso, my sista. Wat noem jou familie jou?”
Mavis het haar kop gedraai en na Nosibusiso gekyk. Sy het haar spoeg ingesluk om haar keel nat te maak. “Hulle noem my Somnci, maar my naam is Mavis,” het sy stadig gesê.
“Geen kwaad nie, my sista, maar daardie skobbejakke is reg. Jy lyk nie asof jy hier hoort nie. Wat het met jou gebeur?”
“Ek het opgemors,” het Mavis skor gefluister. Selfs al was die vrou ’n krimineel, het sy gelyk asof sy omgee. Stadig en pynlik het Mavis haar vertel wat gebeur het.
Nadat sy haar storie klaar vertel het, het Mavis haar gesig in die palms van haar hande toegemaak en begin snik. “Haibo, my sista. Hou nou op huil. Jy sal ’n dik vel hier binne moet kry as jy wil oorleef.”
“My kinders weet nie eers waar ek is nie,” Mavis het die trane teruggevee met die agterkant van haar hand.
“Het daardie polisie skobbejakke jou nie toegelaat om hulle te bel nie? Hulle moet seker maak jou kinders is veilig.”
Maar Mavis het net haar kop geskud en haar oë toegemaak. Sy het nie die krag gehad om op te staan van die bed nie.
***
Vertel ons wat dink jy: Het Mavis die reg om haar kinders te bel? Wat gebeur met mense se kinders as hulle in die tronk is?