“Makazi!” het ’n klein stemmetjie vir Noluvuyo geroep. Eers het dit gevoel of dit van ver af kom, maar toe het dit nader geraak. Sy het uiteindelik haar oë oopgemaak. Dit was klein Siphosethu wat haar geroep het. “Ek’s honger, Makazi,” het sy gesê met haar groot bruin oë wat die klein kamertjie verlig het.

Noluvuyo het verlig gevoel. Sy het verwag dat die eerste woorde uit haar niggietjie se mond sou wees waar haar ma was, maar dit was nie.

“Ek sal nou vir jou help, baba.”

“Okei, Makazi. Maar ek wil die graanvlokkies hê wat jy gekoop het.”

Noluvuyo het vir die eerste maal geglimlag sedert sy die nuus oor haar suster gehoor het. Dit het goed gevoel dat sy vir haar niggie iets kon gee van dié dingetjies wat ander kinders geniet. Sy het die twee komberse waarmee sy haarself die vorige aand mee toegemaak het eenkant toe gegooi. Die lewe in ’n hut was net bedoel vir dié wat die koue kon hanteer. Haar nek het regtig styf gevoel. Sy het die grootste deel van die nag haar oor haar familie bekommer. Wat sou met haar suster gebeur? Sou sy ’n tronkvoël word? Noluvuyo het antwoorde gesoek. Maar waar sou sy dit kry?

Die eerste antwoord wat sy moes kry was ’n verskoning om vir die kinders te verduidelik hoekom hulle ma nie daar was nie. Sy het haar pantoffels aangetrek en stadig na haar suster se slaapkamer geloop. Daar was Mzwandile, nog vas aan die slaap. Ten minste het ek darem nog tyd om te dink, het sy gedink. Toe sy daar staan en afkyk het na hom was sy met soveel liefde vir hom en sy sussie gevul. Sy sou doen wat dit ookal geverg het om na hulle te kyk.

As hy wakker word sal Mzwandile vol vrae wees. Hy was ’n slim tienjarige. Hy sou presies wou weet wat met Mavis gebeur het. En sy sou nie dinge vir hom kon wegsteek nie.

Sy het graanvlokkies vir Siposethu ingegooi en toe na haar kamer gegaan om te probeer uitwerk wat sy moes doen. Daar wás iemand wat sy op kon steun. Iemand wat kon help. Hy het haar voorheen gehelp. Hy was die vorige jaar by haar skool maar was nou besig om aan die universiteit te studeer.

Sy onthou die gebeure van die dag toe Joseph haar gehelp het toe Mzwandile so siek was. Daardie dag het sy ’n oproep van die hospitaal gehad. Mzwandile is na die Ongeluk en noodeenheid geneem deur ’n onderwyser van sy laerskool. Hy het begin opgooi gedurende die ete pouse en toe het hy in die klas flou geword en sy kop gestamp. Joseph het saam met haar hospitaal toe gegaan om hom te gaan haal, maar sy het haar bankkaart by die huis vergeet. Dit sou nie veel gehelp het nie aangesien sy nie genoeg geld in haar rekening gehad het om die hospitaalfooi te betaal nie. Sy was paniekerig toe hulle vir haar die bedrag gesê het maar Joseph het die geld betaal, sonder om te verwag dat sy dit moes teruggee. Hy het selfs vir haar R100 geleen. Sy het nie geweet van enige ander ou wat dit vir haar sou doen sonder om iets terug te verwag nie.

Drie maande het verbygegaan sedert daardie gebeurtenis en sy het nie veel met Joseph sedertdien gepraat nie, maar as hulle iewers ontmoet het het hulle gegroet en het hy haar ’n drukkie gegee. Sy het deur die nommers op haar foon geblaai. Sy nommer het opgekom. Sy het dit gebel en na twee luie het hy geantwoord.

“Joseph wat praat, hallo?”

“Haai Joseph.”

“Noli, Noli! Dit is ’n lekker verassing. Ek het gedink jy het dalk my nommer verloor of iets. Ek het jou eintlik die ander dag gesien by– ” Maar sy het hom in die rede geval.

“Ek’s in die moeilikheid Joseph. En jy is die enigste persoon waaraan ek kon dink. Jy is die enigste een wat my kan help.”

“Noli, wat’s verkeerd? Wat het gebeur?” Noluvuyo het begin huil. “Is dit jou familie? Is julle ouens in een of ander moeilikheid?”

“Ja, Joseph. “Dis my familie.”

“Wat het met hulle gebeur?” Maar voordat sy kon antwoord, het hy weer gepraat. “Jy weet wat? Moenie my nou vertel nie. Ek sal jou In Philippi Park binne twintig minute ontmoet.”

Noluvuyo was nog aan die huil toe die oproep klaar is. Haar neus het geloop; sy het geweet sy moes haar trane afdroog en haarself netjies maak voordat die kinders haar sien. Maar dit was te laat, Mzwandile het alreeds haar trane gesien. “Hoekom huil jy, sisi?” het hy gevra terwyl hy kaalvoet en nog gapend by die deur gestaan het.

“Dis niks nie, kwedin‘” het sy gesê, en hard probeer om te glimlag terwyl sy ’n kussing gegryp het om na hom toe te gooi.

“Jy moet na my toe kom vir hulp, sisi. Ek sal daai persoon wat jou laat huil opdons, net soos daai stoeier Batista doen!”

Sy was verbaas dat hy nie meer vrae gevra het nie. Maar sy was ook verlig dat hy nie het nie. Sy het nog steeds nie ’n goeie verskoning uitgedink hoekom hulle ma nie daar was nie.

Toe Mzwandile aangetrek is het sy vir die kinders gesê dat sy inkopies moes gaan doen en hulle na die bure geneem sodat Agnes na hulle kon kyk. Sy kon sien Mzwandile het nie geglo dat sy na die winkels toe sou gaan nie. Die kyk in sy oë het haar hart gebreek. Hy het geweet sy ma is in gevaar.

Noli was halfpad by die bure se hek uit toe sy teruggedraai het. Mzwandile en Siposethu het daar gestaan en haar agterna gestaar. Sy het iets baie belangrik vergeet. Sy het teruggehardloop na hulle toe. “Span Fanteni!” het sy geroep. “Waar is my drukkies?” Die kinders het in haar arms ingehardloop. Sy het altwee kinders styf teen haar vasgedruk. Weereens het ’n glimlag oor haar gesig geflits. Span Fanteni was nog steeds ’n sterk span – selfs al was Mavis, hulle kaptein, nêrens te vinde nie.

***

Vertel ons wat dink jy: Dit is belangrik om iemand te hê waarop jy kan staatmaak in ’n krisis, soos Joseph. Hoe dink jy kan hy Noli help?