Toe Noluvuyo uit die hoërskool gebou uitgeloop het was dit alreeds donker. Die skool het soos ’n spookdorp gelyk met die enigste mense in sig die Matrieks en hulle ouers of familie wat die oueronderwyservergadering bygewoon het. Sy was die enigste een wat geen familie daar gehad het nie. Mavis het haar weereens teleurgestel. Noluvuyo moes alweer vir mense jok en verskonings opmaak waarom haar oudste suster nie die vergadering bygewoon het nie.

Dit het gereën en alles was nat en glad. Sy het die verkeerde dag gekies om goedkoop skoene te dra. Die waarheid is dat sy geen keuse gehad het nie. Die ander nuwe paar skoene wat sy gehad het was streng vir haar deeltydse naweek werk by die klerewinkel. Sy het in die dames mode afdeling gewerk en sy kon nie afsteek teen al daardie goedgeklede winkelbestuurders deur gemors skoene te dra nie. Sy kon nie die werk verloor nie; om die familie te versorg het háár werk geword sedert Mavis besluit het om haar tyd en geld in sjebeens regoor Philippi uit te gee.

Haibo, Noli, het jy vergeet van my?” het Mavuyi uitgeroep. Nadat sy oor nog ’n paar poeletjies op die nat pad gespring het, het Noluvuyo uiteindelik stilgestaan om vir haar vriendin te wag.

“Ek’s regtig haastig om by die huis te kom, Mavuyi. Die kinders is seker nou alleen en honger.”

“Dis hoekom ek voorstel dat ons die bus neem,” het Mavuyi uitasem gesê, toe sy oor ’n baie groot poel gespring het.

“Okei, ke. Maar laat ons gou maak of ons gaan dit mis.”

Mavuyi het gesukkel om by Noluvuyo te bly. “Luister, Noli. Daar is iets wat ek al lankal vir jou wou vra. Wat gaan regtig by julle huis aan? Hoekom kan Mavis nie na Mzwandile en Siposethu kyk nie? Drink sy weer?”

Noluvuyo het stil gebly. Mavuyi het na haar gekyk en gewag vir ’n antwoord. Uiteindelik het sy besluit om die waarheid te vertel.

“Mavuyi, ek het nie geweet hoe om dit vir jou te sê nie. Ek dink ek was so hoopvol toe Mavis opgehou drink het. Maar een aand het sy een drankie gehad en dit was die begin. Dis regtig weer sleg by die huis. Ek kan dit nie meer bly wegsteek nie. Sy gaan altyd uit met haar simpel kêrel en kom dan dronk huis toe. Ek’s die een wat gedwing word om die gemors op te ruim wat sy so los.”

“Yho, ek’s so jammer, chommie yam,” het Mavuyi saggies gesê en haar arm om Noluvuyo gesit en haar ’n stewige drukkie gegee.

“Ek reken die rede waarom ek jou nie vertel het nie is oor ons veronderstel is om die meisies te wees wat als onder beheer het. En ek het gedink ek het toe Mavis opgehou drink het. Maar nie meer nie. Daar’s geen tyd om te studeer nie en ek raak agter by die skool.”

Die bus het by die sypaadjie langs hulle ingetrek en water het uit sy wiele gespuit. Hulle het ingespring en probeer om nie papnat te word nie. Die drywer het simpatiek vir die twee mollige meisies geglimlag, uitasem van die vinnig loop en hardloop om die bus te kry.

Die twee het in hulle stoele gaan sit en die bus het weer vertrek. Mavuyi het onseker gelyk of sy Noluvuyo spasie moes gee of aanhou vrae vra. Sy het op die ou end net met haar foon sit en speel.

Noluvuyo het haar oë toegemaak. Sy het haar begin indink hoe wonderlik die lewe sou wees as sy en haar niggie en nefie by Mavuyi kon bly wie se pa ’n goeie werk het. Hulle het so ’n pragtige warm huis gehad. Hulle sou so goed vir klein Siphosethu en Mzwandile gesorg het. Hulle sou al die kos en klere kon kry wat hulle wou hê. Maar sy het geweet dat dit nooit sou gebeur nie. Noluvuyo het die meeste nagte wakker gelê en gedink aan ’n oplossing vir die slegte situasie waarin hulle by die huis was. Dit was nie regverdig dat haar werk afgeskeep word oor Mavis nie. Sy het ambisies gehad maar hulle het by die dag verder weggeraak.

Nadat die bus vir Mavuyi afgelaai het by een van die eerste stop punte in Philippi, waar die strate nog helder verlig was, het die bus koers gekry na Noluvuyo se gedeelte, waar die meeste van die straatligte nie gewerk het nie. Toe sy tuis gekom het was sy nie verbaas om hulle hut in pikdonkerte te sien nie. Sy het haar foon se liggie aangeskakel.

Binne in die huis het sy Siphosethu en Mzwandile opgekrul gekry onder ’n kombers in haar kamer. Mam’ Khethiwe, die vrou wat sy gevra het om na hulle te kyk as hulle terugkom van die skool af het duidelik nie vir Noluvuyo gewag om terug te kom nie voor sy die kinders huis toe gestuur het nie. Haar suster was nêrens te sien nie.

Toe sy by die kamer inkom , het sy oor haar ma se werksak gestruikel wat in die deur gestaan het. Sy het dit opgetel en dit onderstebo oor die bed uitgegooi en gehoop dat daar ’n bietjie geld in sou wees wat Caroline soms vir haar suster gegee het vir die naweek. Geen geld het uitgeval nie, net ’n stukkie opgevoude papier: Sy het dit opgetel en gelees.

Zuziwe, ek het aangejaag. Ek weet nie waar om te begin nie. Ek weet net dat ek my kinders se lewens opgemors het en dat ek besig is om Noluvuyo se lewe ook op te mors…

Noluvuyo het op die hoek van die bed gaan sit. Allerhande soorte vrae het deur haar gedagtes gegaan. Het dit beteken dat haar suster reg was om te verander en wou begin om ’n beter ma te wees? Sou dinge uiteindelik beter geword het?

Sy moes haar suster al hierdie vrae vra, maar waar was sy? Sy moes haar kry.

Nadat sy die brief weggesit het, het sy na die bure gegaan en die vrou gesmeek om haar tienerdogter, Agnes te stuur om na die kinders te kyk terwyl sy vir Mavis gaan soek het. Nadat sy vir Agnes instruksies gelos het het sy ’n baadjie aangetrek en uit die huis gegaan.

Op die pad huistoe het sy deur haar selfoonnommers geblaai. Bra Mike was die ou wat sy gewoonlik gebel het as haar suster weggeraak het. Sy taverne was immers Mavis se gunsteling uithangplek. Sy het sy nommer gekry en gebel. Die telefoon het gelui, maar niemand het opgetel nie. Sy het weer en weer probeer. Uiteindelik het iemand opgetel. Dit was Thabo, een van die kelners by Bra Mike se taverne.

“Hallo, bhuti. Dis ek, Noluvuyo, is Mavis daar?”

“Hoe gaan dit met jou Meisie? Wat het ek gedoen om ’n oproep te verdien van so ’n oulike-”

Maar Noluvuyo het hom stilgemaak voor hy nog iets kon sê. Sy was nie in die bui vir flankeer nie. “Bhuti, het jy my suster vandag gesien? Is sy nie nou daar nie?”

“Ek weet nie. Laat ek rondkyk en vir party mense vra.”

Noli kon die musiek van die taverne in die agtergrond hoor. Toe Thabo terugkom na die foon het hy net slegte nuus gebring. “Hulle sê jou suster is in die tronk Haar kêrel het Bra Mike gesteek en hulle het haar gekry met die mes en sy beursie…”

Noluvuyo het nie geweet of sy moes gil of huil nie, dus het sy stilgebly. Thabo moes verstaan dat sy geskok was en nie die krag gehad het om te antwoord nie. Sy het omgedraai en teruggehardloop na hulle hut toe.

Die kinders het nog geslaap en toe Agnes huistoe is, het sy na haar suster se kamer gegaan en haarself op die bed neergegooi. Hoe sou sy dit aan klein Siphosethu en Mzwandile verduidelik? En hoe sou sy haar suster uit die tronk kry?

***

Vertel ons wat dink jy: Wat moet Noluvuyo doen?