“Cebisa, wag vir my!”
Ek draai om, sien my beste vriendin Elihle, en glimlag. “Molo. Lekker om jou te sien.”
“Molo,” sê sy stralend. “Ek het jou die vakansie gemis.”
“Ek het jou ook gemis. Hoekom het jy nie kom kuier nie, hè? Vandat Nandi die hond het, skree sy nie meer wanneer kuiergaste kom kuier nie.”
Elihle klap haar tong. “My ma het my in die werk gesteek. Sy wil ’n nuwe gemeenskapskraal-ding begin. Om die waarheid te sê gaan sy heel moontlik die inligting vir jou ouers ook WhatsApp. Sy wil van die werklose jong mans soos Melusi betrokke kry.”
Ek skop ’n klip uit die pad en vra, “Wat bedoel jy met ’n gemeenskapskraal en hoekom sal dit my broer help?”
Elihle haal haar skouers op. “Ek’s nie seker nie. My ma het my die hele Riglyne vir Stedelike en Buitestedelike Dierboerdery laat lees, dis waarom sy vir almal wat sal luister WhatsApp. Dit het alles begin omdat sy moeg is vir die bokke wat ons wasgoed en groente eet en die varke en hoenders—”
Ek knik. “Ek weet presies waarvan jy praat. Ek moes die bokke amper elke dag dié vakansie wegjaag.”
“Presies. So, my ma dink dit kan diere uit mense se tuine hou en werk aan ’n paar van die jong mans verskaf.”
“H’m,” sê ek.
“So, dink jy Melusi sou belangstel? Ek meen, hy moet seker moeg wees om Nandi op te pas?”
Ek haal my skouers op. Ek wil nie vir haar sê ek is nie seker of Melusi meer veel aandag aan Nandi gee nie. Hy spandeer altyd tyd saam met sy vriende tydens vakansies, maar dié keer was dit die ergste. Twee nagte ná die grondboontjiebotter-insident, het hy met bloed op sy jeans huis toe gekom.
“Dis nie my bloed nie,” het hy vir Mama gesê.
“Wie s’n is dit dan?” het sy aangedring.
En al wat hy aanhou sê het is, “Dis niemand s’n nie. Ek belowe, dis niemand s’n nie.”
Ek verstaan nie waarom my ouers hom daarmee laat wegkom het nie. Ek meen, bloed moet van iemand af kom, nie waar nie?
Gelukkig lei skool my aandag van my suster en broer af. Nie dat ek klaswerk geniet nie, maar dit hou my besig en ek hou daarvan om my vriende te sien en na die kooroefening te gaan. Mense lag, stuur briefies aan en fluister geheime. Die lewe is makliker hier, jy sien.
Maar kort voor lank loop ek huis toe. En wat sien ek? Melusi wat met Buntfu stry terwyl Nandi haar gesig in Silwane se pels wegsteek.
“Hayi!” hoor ek Melusi skree. “Hierdie hond is nie een wat jy sommer by die DBV kan vervang nie.”
“Asof jou idioot-suster die verskil sal agterkom. Gee haar ’n opgestopte speelding en sy sal net so dom en gelukkig wees.”
Ek hardloop op hom af. “Hou jou mond. My suster is nie dom nie, sy’s net anders.” En toe die woorde my mond verlaat, weet ek dis waar. Nandi mag dalk nie praat nie, jy sien, maar as jy haar ’n raaisel gee, los sy dit in ’n oogwink op.
Buntfu rol sy oë en snork. “Ja, ja, whatever.” Hy lig sy ken en kyk na Melusi. “Wanneer jy eendag besluit het of jy regte geld wil verdien of nie, kan jy my laat weet. Tot dan moet jy maar lekker babaoppasser speel vir die idioot.”
Toe hy wegloop, draai ek na Melusi. “Wat gaan aan?”
Hy haal sy skouers op. “Niks. Ek moet waai.”
“Hei, ek het nog huiswerk om te doen.”
“Dis jou probleem, ek’s klaar,” sê hy.
Toe hy wegloop, waai Nandi. Maar eers later die aand besef ek dis die eerste keer wat ek haar dit sien doen het—vir ’n mens waai, bedoel ek.
Vertel ons: As jy in ’n area bly soos die een waar Cebisa woon, is daar behoorlike heinings en veekrale, of het jy probleme met dier wat orals rondloop? Jy kan die Riglyne vir Stedelike en Buitestedelike Dierboerdery hier lees.