Die geluid van voetstappe in die huis maak my wakker. Ek loer na die ander bed en sien in die dowwe lig dat Silwane met gespitste ore regop sit. Jy sien, Silwane is nou nie wat jy ’n aggressiewe hond sou noem nie. Sy prioriteit is Nandi. Maar hy sal blaf as iets regtig fout is. Dit beteken dat die voetstappe aan Melusi moet behoort, wat ons die aflope drie dae nie met ’n oog gesien het nie.

Ek sluip uit na die kombuis en daar staan my broer, besig om grondboontjiebotter op ’n sny brood te smeer.

“Wat maak jy?” sis ek.

“Goeienaand aan jou ook,” sê hy sleeptong en sy stink asem tref my soos ’n vuishou.

“Is jy dronk?” fluister ek.

Hy lig die bottermes teen sy lippe en tik dit teen hulle, asof hy die vraag oorweeg. “Ek’s okei.” Maar pleks daarvan om sy brood verder te smeer, staar hy na die mes asof hy nog nooit een gesien het nie. Hy draai dit om en om, en laat die maanlig op die vuil oppervlak dans asof dit iets pragtigs is.

“Wat maak jy?” vra ek en gryp die mes uit sy hande.

Hy knip sy oë, asof hy vergeet het ek is daar. Toe kyk hy af na die brood. “Honger,” sê hy, strompel na die tafel en val in die stoel neer, terwyl hy ’n massiewe hap vat.

Ek gaan sit in die stoel oorkant hom. “Waar was jy, hè? Mama en Tata was bekommerd gewees.”

“Besig,” mompel hy met ’n vol mond vol brood.

“Waarmee?”

“Niks met jou uit te waai nie.”

Stukke gekoude brood val uit sy mond. Dis walglik.

“Ek weet dis jou vakansie, maar dalk kan jy die heining begin maak? Vra dalk vir Buntfu om te help. Die bokke kou alewig die wasgoed. En ander mense se hoenders kom aanhoudend in Mama se tuin in, jy sien, en—”

“Besig,” sê hy en skud sy kop.

Ek haal my skouers op. “Okei, okei, ek verstaan. Miskien sal ek dan jou vriende vra om te help. Want ek kan nie Silwane dophou en ander mense se diere weghou nie. Miskien sal Yedwa of Jokisile of selfs Bonga help as––”

Melusi se hand skiet uit en gryp my pols.

“Hei, dis seer,” sê ek en probeer loskom.

“Jy bly weg van hulle,” spoeg hy dit uit.

Ek ruk weg en masseer my arme pols. “Whatever, jy’s ongeskik.”

Hy skud sy kop, dan kreun hy en vryf sy kop met sy palms. “Cebisa, ons kan later daaroor praat, maar hoor nou mooi, moenie ander mense gaan vra om te help nie. Ek sal dit doen wanneer ek daarvoor tyd kry. Verstaan jy my?”

Ek glo hom nie, maar voor ek iets kan sê, hoor ek ’n fyn gilletjie in my slaapkamer. Ek staan op voor Nandi regtig die stuipe kry. Silwane mag haar dalk kalmeer, maar as sy wakker word en sien ek is nie daar nie – is sy steeds geneig om te skree.

“Sjuut,” sê ek en klim terug in my bed. “Ek’s hier, liefkind. Silwane is hier, jy’s okei.”

En ná ’n snuif is sy okei. Snoesig langs haar hond.

Ek kyk lank hoe die twee slaap, terwyl my gedagtes om Melusi maal. Waarmee is hy deurmekaar? Nandi en haar hond het nie dié soort probleme nie. Eintlik het Silwane geen probleme nie. Hy kry twee etes ’n dag, word elke Sondagmiddag gebad, en slaap so veel as wat hy kan. Rêrig, al wat die hond hoef te doen is om Nandi toe te laat om hom lief te hê. Dis ’n lekker lewe. As die Here ooit besluit om my terug aarde toe te stuur ná ek sterf, hoop ek ek sal as ’n bedorwe hond soos Silwane terugkeer.

***

Vertel ons: Wat dink jy is fout met Melusi?