Binne maak ek vir Nandi droë roosterbrood. Dis haar gunstelingkos. Toe ek dit op die tafel neersit, begin sy neurie. Dit beteken sy is gelukkig.

“So goed?” vra ek.

“Mmmmm,” neurie Nandi en eet ’n happie.

Ek skud my kop. Die kind sou net roosterbrood eet as sy daarmee kon wegkom. Nandi wil niks eet wat slap of sag is nie, of dit nou sop, pap, of selfs ’n mango is. Jy sien, in Nandi se wêreld, moet kos soos ’n wortel kraak, of ten minste ferm wees, soos rys. Sy wil nie eens brood eet wat nie gerooster is nie— brood moet kraak, anders gil sy. Verstaan my nou mooi, dié kind sal ure lank skree as sy regtig ontsteld is. As jy vir haar ’n hemp met ’n etiket aan aantrek, sal sy skree en skree en skree tot jy die etiket afpluk. Ek is verstom dat enige van ons nog kan hoor.

“Wil jy enigiets doen, Nandi?”

Sy ignoreer my en vat nog ’n hap van haar roosterbrood.

Ek tel my foon op en kyk na my boodskappe. Hulle kan in een sin opgesom word: Almal geniet hulself gate uit sonder my.

“Mmmm,” sê Nandi, en ek kyk net betyds op om te sien hoe sy vir die hond van haar roosterbrood gee.

“Jy mag hom nie by die tafel voer nie,” sê ek.

Sy en die hond ignoreer my, terwyl Silwane sagkens die geskenk vat en dit met een hap insluk.

Sy klap haar hande en ek sug.

Dis grillerig om honde aan tafel te voer, maar ten minste is sy gelukkig, nè? Dis moeilik om te weet wat in haar kop aangaan. Maar vandat Silwane hier aangekom het, skree sy baie minder, slaap sy beter en eis nie die heeltyd om opgetel te word nie. Sy raak swaar, en die enigste mense wat sy toelaat om haar op te tel, is Mama, Tata, Melusi en ek. Nou loop sy rond, solank Silwane langs haar sy is. Baie makliker, jy sien? Sy sal ons selfs toelaat om haar nou en dan by die buurvrou te los, solank sy haar hond het.

“Woef!” Silwane se ore is gespits, waaksaam.

Ek spring op en storm na buite. Nes ek verwag het, daai bleddie bokke is terug en besig om aan die wasgoed te kou. “Hayi!” gil ek. “Voetsek!”

Ek hoor ’n gilletjie en sien Nandi en Silwane het my gevolg. Sy glimlag en haar gesig straal. Dié kind is mal oor diere, selfs stink bokke wat wasgoed eet.

“Silwane,” beveel ek en wys na die bokke.

Die hond draf gehoorsaam nader en blaf.

Die bokke laat spaander en Nandi waai vir hulle totsiens. Waai sy ooit hallo of totsiens vir ’n mens? Hayi!

“Mooi so, honne,” sê ek vir Silwane.

Hy waai sy stert en keer terug na Nandi. En dis waar, hy is ’n goeie hond. Silwane was Mama se werkgewer se idee. Die vrou het gehoor van ’n nie-winsgewende organisasie wat honde aan mense met spesiale behoeftes verskaf. Mama het die vorms ingevul en Nandi gevat om deur ’n paar vreemde dokters ondersoek te word. Nandi het op hulle geskree tot die hond in die vertrek ingebring is. My sussie het aan daardie hond vasgeklou asof hy ’n reddingstou is en dit het haar heeltemal kalmeer. Wanneer sy deesdae ooit bang of angstig raak, kom Silwane styf teen haar sit en help haar om te verstaan dat alles okei is. Sy flap ook haar hande minder, en druk nie meer so dikwels haar vingers in haar ore nie.

Voëls land op die wasgoeddraad en Nandi stop om na hulle te staar. Haar mondjie vorm ’n perfekte O.

“Hou jy van voëls, Nandi?”

Sy neurie.

Voëls is ten minste beter as bokke.

***

Vertel ons: Ken jy enige kinders soos Nandi? Het jy al ooit gehoor van “terapie” – of dienshonde soos Silwane?