Drie aande later sit ons almal om die tafel vir aandete, toe Tata vir Melusi sê, “Ek en jou ma wil hê jy moet vanaand saam met ons na die gemeenskapsvergadering gaan.”

“Ek’s besig.”

Mama sit haar vurk en mes neer. “My seun, ek dink nie jy verstaan nie. Ek en jou pa sê vir jou om saam met ons na hierdie vergadering te gaan.”

Melusi wys na my. “Laat sy gaan.”

“Cebisa gaan by Nandi by die huis bly,” sê Mama.

“In elk geval,” sê Tata. “Hierdie vergadering het meer met jou te doen. As die projek voortgaan, sal daar dalk vir jou werksgeleenthede wees.”

“Soos wat?” vra my broer snedig. “Bokke oppas?”

Tata haal sy skouers op. “Hulle gaan eers mense nodig hê om geld in te samel en te bou. Jy kan dalk ’n paar vaardighede aanleer.”

My broer snork.

Nandi gil. Silwane spring op en sit sy kop op haar skoot. Maar ek sien dadelik wat die probleem is: ’n korrel rys het op haar hoender geval. Ek skiet dit vinnig af en sy bly onmiddellik stil.

My ouers sug, maar sê niks nie. Almal weet Nandi laat nie toe dat verskillende kossoorte aan mekaar raak nie. Dis waarom haar hoender op ’n klein bordjie is en haar rys in ’n bakkie. Nogtans gebeur dié soort ding en as jy dit nie regmaak nie, kan selfs die hond haar nie kalmeer nie.

Maar my broer gluur nou na haar. “Sy moet skool toe gaan.”

“Sy’s op ’n waglys vir ’n spesiale skool,” herinner Tata hom. “Dit sal alles op die ou end uitwerk.”

“Wat’s die punt daarvan om na die vergadering te gaan as sy nie skool toe gaan nie?”

“Noudat sy Silwane het, laat sy die buurvrou toe om na haar te kyk wanneer dit nodig is. As jy werk het, sal ons daarvoor betaal. Kom ons gaan na die vergadering en hoor wat die mense te sê het.”

Melusi skud sy kop. Maar hy gaan saam. En ek word die huis gelos om Nandi in die bed te kry.

Ek kan seker nie te veel kla nie, want dis soms pret om Nandi in die bed te kry. Vroeër vanaand toe ek die wasgoedbalie vol water en borrels tap vir haar bad, het sy haar hande geklap. In die water het sy al die borrels bestudeer, haar gesig baie ernstig. Maar ek kon sien sy geniet dit. Sy het selfs een in haar hand gevang en gekyk hoe die reënboogkleure warrel.

“Gelukkig, Nandi?”

Sy het geneurie as antwoord.

Sy neurie ook toe ek haar slaaptydstorie lees. En toe ek haar in haar bed toemaak, druk sy my styf vas. Sommige mense sê mense soos Nandi kan nie liefhê nie. Maar ek dink nie dis waar nie. Sy is net kieskeurig, jy sien. Sy is lief vir haar familie, sy is lief vir Silwane. Miskien is dit die res van ons wat te maklik vertrou en ons liefde te vrylik uitdeel. Kyk byvoorbeeld na Buntfu. Hy was altyd my broer se beste vriend. En nou? Ek weet nie wat hy is nie, maar ek dink nie dis enigiets goed nie.

***

Vertel ons: Wat dink jy oor Cebisa se stelling, “Miskien is dit die res van ons wat te maklik vertrou en ons liefde te vrylik uitdeel?”  Is dit waar? Waarom of waarom nie?