Nandi se ma het regop gesit. Nandi het haar vuiste geklem, en haar hele lyf het verstyf. Sy het haar asem opgehou. Haar ma was stil. Sy het opgestaan. Nandi het haar skoolsak na haar toe getrek en dit voor haar gehou soos ’n tipe skild. Sy het haar oë toegemaak. Sy het gehoor hoe haar ma ’n tree na haar kant toe gee.

“Ek’s jammer Mamma,” het Nandi haarself hoor sê.

Haar ma het nog steeds niks gesê nie. Nandi het haar oë oopgemaak. Skielik het haar ma drie tree oor die kamer na haar toe geloop. Nandi het die klap deur haar gesig gevoel voordat sy eers besef het wat aan die gebeur was. Sy het opgespring.

“Mamma! Moenie!” het sy gehuil met die skooltas nog steeds voor haar vasgeklem.

“Slet! Hoer!” het haar ma geskreeu waar sy net ’n paar sentimeter voor Nandi gestaan het. Nandi het stil gestaan. Trane het oor haar wange gestroom en haar neus het geloop.

Nandi se ma het swaar asemgehaal en haar hande geklem en gelos waar dit langs haar sye gehang het. Sy het Nandi ’n laaste kwaai kyk gegee, en toe op haar hakke omgedraai en na die deur geloop. Sy het dit oopgetrek en toe was sy weg. Die deur het oop agter haar gestaan, die waterige sonlig het skuins ingeskyn.

Nandi het stadig na haar bed terugbeweeg. ’n Koue wind het in die kamer ingewaai. Sy het die nota en die pen opgetel wat nog steeds op haar bed gelê het.

Sy het die nota wat sy geskryf het gelees, en bygevoeg:

Ek is so jammer Mamma. Ek weet ek het nog meer probleme vir jou gemaak. Ek wou nooit gehad het dat dit moes gebeur het nie.

Totsiens.

Nandi het opgestaan. Sy het haar bedsprei reg getrek, en haar skoolsak netjies op die grond langs die bed gesit. Sy het oor die vloer beweeg en die nota op haar ma se bed gelos.

Toe het Nandi by die oop deur uitgeloop, en dit agter haar toegetrek. Sy het van die huis begin wegloop, en sy het nie teruggekyk nie.

***

Vertel ons wat dink jy: Wat gaan Nandi nou doen? Het Nandi se ma regverdig teenoor haar opgetree? Hoekom dink jy het haar ma op dié manier reageer?