Nandi het na die deur toe gedraai. Sy weet nie wie sy verwag het nie, maar sy het nie haar ma verwag nie. Sy was by die werk, en normaalweg sou sy eers baie later van haar skoonmaak werk af terugkeer.

“Nandi! Wat doen jy by die huis?”

Dit was haar ma. Nandi het op haar bed gaan sit en nie na haar gekyk nie. Sy het haar kop gebuig en na die vloer gekyk en gewag dat die geskreeu moes begin. Sy is nie teleurgestel nie.

“Hoe lank al gaan dit nou al aan?!” het haar ma geroep. “Hoe lank al bly jy by die huis en gaan nie skool toe nie?”

Nandi het nie geantwoord nie.

“Antwoord my Nandi!” het haar ma geroep en voor haar gaan staan, gebuk en reg in haar gesig geskreeu. Nandi het haar gesig weggedraai.

“Antwoord my!”

Nandi het opgekyk.

“Wat sal dit help?” het sy saggies gesê en haar skouers opgetrek. “Jy luister in elk geval nooit na my nie.”

Nandi se ma het skielik teruggestaan en stadig na haar eie bed geloop en daarop gaan sit. Sy het diep gesug en haar kop in haar hande gesit.

“Wat’s fout?” het Nandi na ’n oomblik gevra.

“Ek is siek,” het haar ma agter haar hande gesê. “Ek kan net nie vandag werk nie. Ek is siek. En ek is moeg. Hoekom moes jy vandag dit ook nog aan my doen Nandi? Hoekom gee jy my moeilikheid?”

“Ek het nie bedoel om enigiets aan jou te doen nie Mamma. Ek moes net vandag iets doen, dis al. Ek het met jou probeer praat, maar jy luister nooit nie. Jy is altyd te moeg, altyd te besig met werk, of kerk, of…”

“Nandi,” het haar ma gesê en haar hand opgelig. “Bly net stil. Jy is net vyftien jaar oud. Jy moet nog maak soos daar vir jou gesê word. Ek werk hard vir jou. Vir jou toekoms.”

Nandi het gesug, haar skoolboeke begin bymekaar maak vanwaar hulle oor haar bed gestrooi gelê het. Trane het in haar oë opgewel en stadig oor haar wange geloop.

“Wat was so belangrik dat jy van die skool af moes bly om dit te doen?” het haar ma gevra, wat nou op haar bed gelê het en na haar gekyk het in die dowwe lig van die kamer.

“Niks Mamma. Dit maak nie saak nie.” Nandi het met haar hand oor haar wang gevee en stadig haar boeke in die skoolsak begin terugpak.

“Niks is belangriker as jou opvoeding,” het haar ma ferm gesê. Toe het sy saggies bygelas, “Jy wil nie soos ek wees nie, wil jy? Kyk na my. Ek is so siek en moeg, maar ek het geen keuse nie. Ek moet elke dag gaan skoonmaak. Ek moet dankbaar wees dat ek ’n skoonmaakwerk het.”

Nandi se ma het diep gesug.

“Kan ek vir Mamma medisyne kry?” het Nandi saggies gevra en weer gaan sit. Sy het die brief wat sy aan haar ma begin skryf het na haarself toe getrek oor die bedsprei.

“Nee,” het haar ma gesê. “Ek het parasetamol geneem. Ek sal môre beter voel. Ek moet net rus.”

Nandi en haar ma het in stilte na mekaar gekyk in die kamer. Nandi het gevoel waar die stukkie papier in haar sak was. Na ’n tyd het sy gepraat, baie saggies en baie aarselend.

“Mamma,” het sy gesê, “daar is iets wat ek vir jou moet vertel. Iets wat ek nou al vir maande vir jou wil sê.”

“Hmmm,” het haar ma gemompel. Haar oë was toe, en Nandi kon sien dat sy aan die slaap begin raak.

“Mamma,” het Nandi gesê, en skielik ’n gevoel van dringendheid gehad, ’n gevoel dat sy moes praat, vir haar ma vertel voordat sy aan die slaap sou raak.

“Hmmm,” het haar ma gesê en probeer om haar ooglede oop te maak. “Wat is dit?”

“Ek verwag Mamma,” het Nandi gesê, so saggies dat sy self gesukkel het om te hoor, en dus het sy haar ken gelig en weer gepraat, hierdie keer harder .

“Mamma, ek is swanger.”

***

Vertel ons wat dink jy: Hoe dink julle sal Nandi se ma reageer op die nuus dat Nandi swanger is? Wat dink jy staan in die nota in Nandi se sak?