Die meisie se gestaar het in Peter se siel ingebrand. Haar oë het gekook asof Peter haar matriekafskeidrok beledig het. Peter het na haar teruggestaar, woordeloos. Sy het haar oë weggedraai en op die bank reg langs Peter gaan sit. Sy ongemak het vinnig vererger as die “rebelmeisie” gepraat het.

“Ek het jou ’n vraag gevra. Is jy doof, stom of net ’n idioot?”

“Wat’s jou probleem?” het Peter skerp gevra. Dit was nou nie meer grappies nie. Hy was hier om hierdie mense te help en hulle het hom behandel asof hy iets regtig slegs gedoen het.

“Antwoord my net.”

“Sy het my vertel dat sy deur ’n ou ontvoer is.”

Die ou man het opgestaan en Peter vasgegryp. “Wat gaan hier aan? ’n Tipe siek speletjie wat jy speel? Hou jy daarvan om met ander mense se emosies te speel?” Kwaai spoeg het op Peter beland. Hy was vir die eerste keer daardie aand bang. Die rebelmeisie het opgespring en die twee uitmekaar gemaak.

Die ou dame het gevries op die bank bly sit, haar blik op die vloer asof die vuil mat die enigste ding was wat haar geraak het.

“Kyk. Julle moet my glo. Melissa het my vertel dat sy deur ’n ou gevang, ontvoer is. Sy het hom Cupido genoem.”

“Cupido?” het rebelmeisie gevra. Sy het verward na haar grootouers gekyk. “Is jy seker dis wat sy gesê het?”

“Ja. Hy het haar gemartel. Ek wou haar net soek en haar help.”

“En is jy seker jy het haar vanaand gesien?”

“Ja. Luister, ek het regtig nie hierheen gekom om met julle te praat nie. Dis Melissa wat ek wou kom sien. Om seker te maak sy is OK. Sy wou nie gehad het dat ek die polisie bel nie. Is sy hier of nie?”

Nog ’n verwarde kyk. Rebelmeisie het stadig gepraat. “Sy is nie. Sy was nie hier vir ’n tyd nie.”

“Wat bedoel jy?” Dit was besig om vreemder en vreemder te word. Die ou paartjie en rebelmeisie het hartseer uitdrukkings op hulle gesigte gehad. Dit was asof hulle iets verskrikliks onthou het, en Peter het dit veroorsaak. Hy het weer gaan sit en weer gevra: “Wat bedoel julle?”

Die ou man het begin snik. “Dit is onmoontlik dat jy haar kon gesien het. Net onmoontlik!”

“Onmoontlik? Maar ek het nou net vir julle gesê ek het. En sy is in gevaar. Luister,” het Peter nou gebabbel, en hulle probeer laat besef hoe ernstig die hele ding was, “ons moet vinnig maak. Sy wou nie dat ek die polisie bel nie, maar miskien–”

Die ou man het sy hand op Peter se arm gesit. “Seun, ek kan nou sien dat jy dit goed bedoel. Ek kan sien jy is ’n goeie seun. Maar daar is niks wat ons kan doen nie. Melissa is al meer as twintig jaar vermis.”

“Wat?” Peter het na die ou man gestaar. Het hy reg gehoor? “Maar dis onmoontlik. Die meisie wat ek ontmoet het was jonk.” Hy het na rebelmeisie gekyk. “Omtrent jou ouderdom.” Hy het sy kop geskud. “Ek weet nie wat hier aan die gang is nie.”

“Jy beter weer begin,” het rebelmeisie gesê. Sy het ten minste nie meer gelyk asof sy hom wou uitslaan nie.

Peter het weer herhaal wat hy hulle alreeds vertel het, met nadruk op Melissa se ouderdom, haar voorkoms en die meeste van alles, haar beangste vrees. “Sy het gesê dat sy gedink het dat sy hom kon vertrou,” het hy afgesluit. “Ken julle die Cupido?”

Die meisie het die ou man na ’n stoel gelei en hom saggies op die rug getik. “Mnr. Cupido was ons buurman.” Sy het op ’n ernstige toon gepraat. “En jy vertel my dat hy haar geneem het?”

“Ja. Ek’s jammer.”

“Wag hier.” Sy het uit die kamer gehardloop en ’n minuut later teruggekom met ’n groot plat boks met “Melissa” daarop in gekrulde letters geskryf. Sy het langs Peter gaan sit en die foto-album uitgehaal. Sy het dit oopgemaak en na ’n foto gewys.

“Is dit die meisie wat jy gesien het?”

“Ja.”

Dit was Melissa. Geen twyfel daaroor nie. Haar hare was groot. Haar jeans met ’n hoë middel. Sy het reg uit die laat tagtigerjare gestap. Die foto het verdof, maar haar oë was so helder soos altyd.

“O, God.”

Die trane was tragies. Rebelmeisie se bravade het in ’n see van smart opgelos. Peter wou haar troos, maar hy was bang.

“Melissa was my tannie.” Die meisie se stem was stil. “Ek het haar nooit ontmoet nie. Sy het verdwyn voordat ek gebore is. Die polisie het later vir my grootouers gesê dat hulle maar moes opgee; dat Melissa waarskynlik dood was.”

Melissa. Vermis vir twintig jaar? Waarskynlik dood? Maar hy het haar gesien, net ’n paar uur gelede.

Ten minste het almal hom nou geglo. Die bui in die kamer het verander. Alles het kalmer gevoel. En diep hartseer.

***

Vertel ons wat dink jy: Wat dink jy moet die familie nou van Peter se storie dink?