Die deur het oopgemaak en ’n ou man het verskyn, waarskynlik Melissa se oupa. Hy was heeltemal aangetrek, maar sy gesig was geplooi, soos Peter se Pa s’n wanneer hy in sy stoel aan die slaap geraak het. Peter het gesukkel om woorde te kry om aan die man te verduidelik wat hy so laat in die nag daar kom maak het. Dit mag dalk ’n beter idee wees om nie dadelik met die waarheid vorendag te kom nie. Die man mag dink hy is mal.

“Goeie naand, Meneer.”

“Het jy enige idee hoe laat dit is, jong man?”

“Ek’s jammer, Meneer.”

“Jy beter wees. Waaroor gaan dit? En wie is jy?”

Die ou toppie was duidelik in ’n slegte bui. Peter moes versigtig wees hoeveel hy aan hom bekendmaak. Hy moes binne kom om meer uit te vind.

“My naam is Peter en ek’s hier om oor Melissa te praat.”

Die ou man het teruggedeins asof Peter hom geklap het. “Wat? Wat van haar?”

“Dit is baie belangrik, Meneer. Kan ek inkom?” Peter het strak in die man se gesig gestaar.

“OK,OK. Ek is nie seker waaroor dit gaan nie…. maar kom in.”

Die huis het soos ou mense geruik. ’n Muwwerige reuk wat jongmense herinner het dat die dood ’n realiteit is. Peter het ongemaklik in die woonkamer gestaan. Hy het gewag totdat die ou man gaan sit het voordat hy op die bank naaste aan die deur gaan sit het. Dit was warmer hier as by die Wilson’s se huis. Bedompig warm, asof die vensters nie dikwels oopgemaak word nie.

“So, wat is so belangrik?”

“Meneer, vroeër vanaand het ek deur die buurt gestap. Ek het gedink ek sou ’n stil aandjie hê, maar toe loop ek my vas in ’n meisie – of sy het eerder in my vasgeloop. Sy het vir my gesê dat iemand haar gevat het.”

“Gevat?”

“Ja, Meneer. Ontvoer, het sy gesê.”

“En toe?”

“Wel, ek het haar na die huis geneem wat ek oppas, maar sy het ontsteld geraak en uitgehardloop. Nou is ek op soek na haar.”

“Hier? En jy sê vir my hierdie meisie – jy dink die meisie is Melissa?”

“Ek weet dit is Melissa, meneer.”

’n Ouer vrou het die woonkamer binnegekom. Die muwwerige reuk het verdubbel toe sy langs die ou man gaan sit het. Melissa se ouma. Sy het minder verward as die ou man gelyk, maar sy was meer ontsteld.

“Wat gaan hier aan?” het sy gevra.

“Niks. Die jong man is duidelik deurmekaar. Hy dink hy het vanaand vir Melissa gesien.”

Weereens, ’n geskokte reaksie, asof Peter die ou dame se hart uit haar bors geruk het. “Wat laat jou so dink?”

Peter het na die ou paar op die bank gekyk. Hulle sekerheid dat hy verkeerd was, was senutergend. Die enigste ding wat hy kon doen was om kalm te bly. Hy het met ’n vraag geantwoord.

“Is u van Peters, Mevrou?”

“Ja.”

“Wel, dis wat sy vir my gesê het haar naam was.” Peter kon nie sy frustrasie meer inhou nie. “Ek sê julle ek het Melissa Peters vanaand gesien!”

Die ou man het vorentoe gesit, sy oë bultend. As hy ’n haelgeweer gehad het, het hy Peter nou in die gesig geskiet. Sy vrou het afgekyk in haar skoot asof sy bang was om Peter in die oë te kyk.

“Wie de hel dink jy is jy?” Die ou man se stemtoon was vyandig en koud.

“Ek vra om verskoning. Dit was ’n lang nag.”

“Loop net, voor ek jou uitgooi!”

Die ou man se harde stem het deur die huis gegalm. ’n Meisie het van iewers dieper uit die huis gekom en na Peter gestaar. Peter het sy oë geknip en weer geknip. Hierdie meisie het soos Melissa gelyk, maar dit was definitief nie sy nie. Om te begin was haar klere skoner. Sy het skoene aangehad en haar oë was rebels.

“Gaan terug na jou kamer!’ het die ou man beveel. “Dit gaan jou nie aan nie.”

“As dit oor Melissa gaan, het dit met my te doen.”

Die rebelse meisie was duidelik nie banggemaak deur die ou man nie. Sy het vasbeslote gelyk om te bly. Die ou man het gevou toe hy van Peter af weggedraai het. Sy woede het gelyk of dit na die meisie oorgedra is toe hy sy mond oopgemaak om op haar te begin skreeu. Maar voordat hy sy woorde kon uitkry het sy ’n tree nader aan Peter geneem.

“Wat weet jy van Melissa af?” het sy geëis.

Peter was nou baie diep betrokke.

***

Vertel ons wat dink jy: Waarom tree hierdie familie so snaaks op as hulle oor Melissa hoor?