Peter het teruggehardloop na die huis toe. Sy gedagtes het gejaag. Miljoene gedagtes het soos spinnekoppe oor sy brein gekruip. Hy het na die kombuis gehaas en die foon opgetel. Die polisie sou weet wat om te doen. Hy het diep asemgehaal en die spinnekoppe afgeskud. Wat het hy te sê gehad? Hy het niks gehad nie. Die meisie het verdwyn en die polisie sou nie ’n tiener glo sonder dat daar ’n volwassene ook by is nie. Hy het die foon op die mikkie teruggesit en teen die muur geleun.

Dis nou wat van drie weke se vrede en maklike geld geword het. Peter se nag het in chaos verval. ’n Rustige stappie deur die buurt het in ’n versoek om hulp van ’n ontvoerde meisie verander. Dit is te sê as sy wel ontvoer is. Hy het in die voortuin gestaan en sy lip gekou. Wie was hierdie meisie? Sy het wanhoop en moed gewys wat Peter nog net in flieks gesien het. En toe, soos ’n idioot het hy haar in die steek gelaat. Hy het opgekyk na die sterre en ’n eed geneem. Hy sou haar kry en haar deur haar trauma help, of sy hom vertrou het of nie.

Hy het die tyd op sy foon gekontrolleer. Net voor tien. Hy het na die oorkant na die bure se huis gekyk. Die ligte was nog aan. Miskien het Mev. Pryce geweet wie die Peters mense was. Hy het die huis gesluit en langsaan toe gegaan. Hy sou versigtig moes wees om nie Melissa se naam te noem nie. Hy kon haar nie tweemaal in een aand verraai nie. Hy het die deurklokkie gelui en was verbaas om ’n vinnige antwoord te kry. Die deur het oopgegaan en ’n aantreklike vrou in haar veertigs het oopgemaak. Sy het ’n oosterse kamerjas aangehad.

“Ja?”

Peter het gesluk. Sy eerste nag van huis oppas en hy het klaar ’n probleem. “Goeie naand. Ek is jammer om u te pla.”

“Dis in die haak. Ek het net TV gekyk.”

“Goed, uhm… ek’s Peter. Ek pas die Wilson’s se huis op. Ek moet u iets vra.”

“O, hallo Peter.” Mev. Pryce het hom op en af bekyk en geglimlag. “Mnr.Wilson het my van jou vertel, maar hy het nie gesê hoe aantreklik jy is nie. Ek’s Wilma Pryce. Lekker om jou te ontmoet.”

Peter het weer gesluk. Hy het Wilma se uitgestrekte hand geskud. Haar greep was los, maar haar hand was warm, en sy het dit in syne laat bly. Was sy besig om met hom te flankeer? Hy het teruggetree en meer ernstig gepraat.

“Lekker om u ook te ontmoet Mev. Pryce. Ek het vroeër ’n brief in die posbus gekry wat aan ’n Mnr. Peters geadresseer is. Weet u waar hy bly?”

“Dit moet die Peters in Crowleystraat wees.”

Peter se hart het gespring. Die straatbordjie wat Melissa so ontstel het. Eerste bewys dat sy die waarheid vertel het. “Ja,” het hy gesê, “dis waarskynlik hulle.”

“Wel, hulle bly net ’n paar strate ondertoe. Nommer 34 dink ek. Die posman raak altyd deurmekaar met die pos. Ons is Cowlingstraat. Maar jy beplan nie om nou soontoe te gaan nie? Is dit nie taamlik…laat nie?” Sy het weer vir Peter geglimlag.

“Uhm…nee – ek bedoel ja. Ek bedoel dankie, Mev.Pryce.”

“Geen probleem nie, Peter … en dis Wilma. Loer enige tyd in. My man werk snags.”

Peter het ongemaklik sy voete verskuif. Wilma het sy ongemak aangevoel en nader aan hom geleun.

“Moenie bang wees nie, Peter. Ek byt nie,”het sy gesê. Peter kon haar warm asem op sy wang voel. Sy was besig om te naby te kom.

“Ek moet regtig nou gaan, Mev. Pry – ek bedoel Wilma. Dit was lekker om u te ontmoet.” Peter het geretireer, en amper van die stoep afgeval.

“Goeienag, skattie.” Sy het verleidelik vir hom geglimlag.

Peter het haastig van die stoep af padgegee. Hy het nie Mev. Pryce vertrou dat sy hom nie heel sou opeet nie.

Maar sy navraag was die moeite werd. Hy het uitgevind waar Melissa gebly het. Dit was alles besig om op ’n snaakse manier te begin sin maak.

Sy behoefte om Melissa op te spoor het meer dringend geraak toe hy sy pad na die Peters se huis begin. Hy het al die inligting wat hy van haar gekry het weer teruggespeel. Haar ontvoerder het haar verkrag, sy naam was Cupido en hy was klaarblyklik baie invloedryk.

Al Peter se eie probleme – wat om met sy lewe te doen, hoe om sy eie ding te doen sonder om sy ouers seer te maak – het vervaag in vergelyking met waardeur Melissa is.

Hy het by Crowleystraat aangekom en aanhou loop totdat hy nommer vier en dertig gesien het. Die ligte was nog aan. Spanning het tentakels in sy maag gegroei. Of Melissa was hier, óf die ontvoerder – of erger.

Peter Cho het na die deur opgeklim en die klokkie gelui.

***

Vertel ons wat dink jy: Wie is in die huis?