Teen die tyd dat Babalo tuisgekom het, het Lerato klaar die foto op Facebook gesien. Een van die meisies in die klas het die foto gesien en vir haar ’n boodskap gestuur om in te teken. Toe Babalo dronk in hulle kamer ingestrompel het, het Lerato haar foon met die Facebook-foto opgehou om dit vir Babalo te wys.

“Babalo, wat beteken dit? Wat het jy gedoen dat jy my kêrel vanaand gesoen het?”

“Ag, Lee dis niks. Dit was ’n grap. Sy vriende het hom aangehits. Ek het hulle sien sing, ‘Soen haar! Soen haar! Soen haar!’ so ek het net saamgespeel.”

“Babalo! Hoe kon jy? Hoe kon jy?” het Lerato geskreeu.

“Lee, jy neem hierdie hele kêrel ding te ernstig op,” het Babalo gesê en die spandeks rok uitgetrek en op haar bed neergesak.

“Babalo, jy het nie meer ’n suster nie. Jy het nie meer ’n tweelingsus nie. Ek wil niks met jou te doen hê nie. Dis verby met ons –verby! Moenie met my praat nie. Moenie naby my kom nie. Sover dit Andile betref, hy is ’n ruggraatlose niksnut. Jy kan hom kry. Neem hom, en kry my oorskiet aangesien dit nie lyk asof jy deesdae jou eie kêrel kan kry nie.”

“Ek wil hom nie hê nie.”

“Duidelik wil jy. So neem hom. En los my alleen.”

“Lerato, kalmeer. Dis net speletjies.”

“Speletjies? Speletjies? Babalo, hoe kan jy sê om met mense se gevoelens te speel is net speletjies?”

“Hy is net ’n seun Lerato. Net soos enige ander een.”

“Maar hy was my seun.”

“Ek raai jy was nie sy meisie nie.”

Lerato het haar kop geskud. “Jy verstaan regtig nie, nè?”

“Ek veronderstel nie,” het Babalo haar skouers opgetrek en onder haar kopkussing vir haar nagklere gesoek.

Lerato kon nie meer haar trane terughou nie. Sy het uit die kamer gehardloop, in die badkamer in, die deur gesluit en gesnik.

*****

Die volgende week het Babalo ’n teksboodskap aan Andile gestuur:

Sien jo @ Starlight Sat aand?

Andile het geantwoord:

Jammr ht planne di nawk.

Toe het hy Lerato se nommer gebel. “Haai Lee, dis ek, Andile. Wil jy Saterdagaand uitgaan?”

Lerato het diep asemgehaal en vir ’n oomblik gedink. “Nee. Ek wil nie…nie na wat met my suster gebeur het nie.”

“Ag Lee, ek is opgesteek deur Ben en die ouens. Regtig, dit was ’n grap. Ek stel nie belang in haar nie. Lee, sy is nie regtig my tipe nie. Kan ons nie maar hierdie hele ding agter ons sit en teruggaan om net ek en jy te wees nie?”

“Hoekom? Is jy skaam omdat die foto van julle twee wat soen oor die hele Facebook is?”

“Komaan Lee, stop dit. Ons is goed saam.”

“Ons was goed saam. Verlede tyd, Andile, nie die teenwoordige. Maar jy het dit ruïneer.”

“Ons maak almal foute Lee. Ek vra verskoning. Ons was simpel, en ek was dronk.”

“O, dronkenskap is altyd ’n goeie verskoning!”

“Laat ons asseblief weer probeer.”

“Nee Andile, die skade is gedoen. Totsiens.”

En voor hy enigiets anders kon sê, het Lerato die foon neergesit. Maar ’n deel van haar het gewens sy het nie.

*****

Saterdagaand het weer aangebreek, soos dit altyd doen.

“Met wie gaan jy uit?” het Lerato gevra terwyl sy kyk hoe Babalo lipstif aansit.

“Andile,” het Babalo gejok.

“Moenie twak praat nie Babalo. Hy het vir my gesê jy is nie sy tipe nie.”

“Hy het duidelik van gedagte verander. Geniet jou aand met jou boeke,” het Babalo gesê en haar aandsakkie opgetel.

“Wel, ek glo jou nie!”

Maar Lerato was nie seker wat sy geglo het nie. Miskien was dit waar. Sy het gevoel haar hart is gebreek toe sy sien hoe haar suster by die voordeur uitstap en die eensaamheid van die aand voor haar uitstrek.

*****

Babalo het aanhou jok, en stories opgebou oor afsprake met Andile, wat sy met trots vir Lerato vertel het.

Lerato het dus al hoe meer in ’n wêreld van sissende stilte teruggetrek. Sy wou niks met haar tweelingsus te doen hê nie, geweier om met haar te praat, selfs al het Babalo voortgegaan op haar normale borrelende manier en voorgegee dat niks verkeerd was nie. Die atmosfeer in die huis het dik geword soos ’n swaar winter stowepot.

Toe een dag, terwyl Lerato op haar bed gelê het, besig om ’n novelle te lees, het Babalo in die kamer ingehuppel en op Lerato se bed gaan sit.

“Raai wat?” het sy aangekondig. “Ek het ’n nuwe kêrel – Sipho – die ou wat die foto van my en Andile daardie aand geneem het.”

Lerato het haar ignoreer en aanhou lees.

“So, Andile is weer joune. Hy is regtig nie my tipe nie. Hy’s te boekerig en sportief vir my, meer jou tipe. In elk geval, ek dink hy mis jou.”

“Dis sy probleem,” het Lerato gesê.

Babalo het met die kant van die duvet begin speel.

“Kyk, ek’s jammer Lee. Ek het nie gedink wat ek doen nie. Ek was net vermakerig. Kan ons weer vriende wees?”

Lerato het aanhou lees en haar geïgnoreer. Toe het Babalo opgespring en die radio langs haar bed aangesit. Die ou liedjie I Will Always Love You deur Whitney Houston het gespeel. “O, kom nou Lee! Dis een van ons goue oues. Sing saam met my. ‘Cause I will always love youuuuuu’,” het Babalo geneurie.

Lerato het oor haar boek geloer. “Jy dink jy kan ’n song sing en dan maak dit alles beter?” het Lerato gesê.

“Ek dink ons is susters en ‘I will always love youuuuuuu’, het Babalo weer gesing.

“Ek dink dat gaan meer as een of ander ou song neem om dinge tussen ons beter te maak,” het Lerato geantwoord.

“Komaan Lee, moenie so suur wees nie. Sing net!”

Maar Lerato het nie belanggestel nie. Sy het net in haar boek gestaar en aanhou lees.

***

Vertel ons wat dink jy: Moet Lerato Andile en Babalo vergewe? Moet sy Andile terugneem?