Maande het verbygegaan en die vyandigheid tussen die susters het voortgeduur. Musiek het in die huis gespeel maar die meisies het nie saamgesing nie.

Een Saterdagaand was Babalo nie tuis teen middernag nie. Sy was eenuur en tweeuur ook nie tuis nie. Sy het nie haar ouers gekontak nie en ook nie haar selfoon geantwoord nie. Hulle ma het Lerato wakker gemaak. “Kontroleer jou foon. Miskien het sy vir jou geSMS, ” het sy gesê.

“Baie onwaarskynlik.” Maar Lerato het haar foon kontroleer, en soos voorspel, was daar geen boodskap van haar suster nie. Sy het ook nie die nommers van Babalo se vriende gehad nie.

Lerato en haar ouers het in die sitkamer gesit en wag. Drie-uur het verbygegaan, vieruur het verbygegaan, vyfuur het verbygegaan. Daar was nog steeds geen teken van Babalo nie. Selfs Lerato was bekommerd. Haar woede jeens haar suster het verdwyn, en al waaraan sy kon dink was die moontlikheid dat sy Babalo vir altyd kon verloor het.

Sesuur, net toe die voëltjies begin sing, het die deurklokkie gelui. Buite het twee polisiemanne gestaan, en Babalo, sonder haar skoene. Haar bene was vol modder en vol skrape, en daar was ’n bloederige sny op haar kop. Babalo het haar arms om haar ma gegooi en in trane uitgebars.

“Wat het gebeur?” het haar ma geroep.

“Sy en twee vriende was in ’n ongeluk betrokke. Die vriend wat bestuur het, het pas sy lisensie gekry maar het beheer oor die motor verloor,” het die offisier gesê.

“Het enigeen sleg seergekry?” het haar ma gevra.

“Gelukkig nie.”

“Hoekom het jy nie gebel nie, Babalo?” het haar ma saggies gevra. “Ons was siek van bekommernis.”

“Ek het nie meer lugtyd gehad nie,” het Babalo gesnik.

“En jou vriende?”

“Hulle fone is gebreek in die ongeluk.”

“Wel, ten minste is hulle nie stukkend nie. Waar is die ander twee, Offisier?”

“Ons kollegas het hulle huis toe geneem.”

Hul ouers het die polisie offisiere bedank en binne toe gegaan. Toegedraai in haar ma se arms, het Babalo soos ’n klein gebreekte voëltjie gelyk.

“Ek sal die noodhulpkissie en ’n kom warm water kry,” het Lerato gesê en na die badkamer gehardloop.

Babalo het genestel gesit in haar ouers se arms, terwyl haar suster sag en liefdevol haar wonde skoongemaak het. Haar ma het toe haar nagklere aangetrek en haar in die bed gesit, terwyl haar pa vir haar ’n koppie melkerige tee, versoet met heuning gemaak het. Lerato het gekyk toe Lerato versigtig haar tee afgesluk het, terwyl sy regop in die bed sit.

Trane het oor Lerato se wange geloop. “Ek het gedink ons het jou vir altyd verloor.”

“Dit was so angswekkend Lee; ek het gedink ek gaan doodgaan. Die kar het gerol.”

Hulle ouers het na mekaar gekyk. “Ek dink julle meisies moet praat. Ons sal later hieroor praat. Ons moet net dankie sê dat jy veilig is. Ek en Ma gaan nou slaap,” het hulle pa gesê en hul ma uit die kamer vergesel.

Lerato het haar arm versigtig rondom Babalo gesit.

“Ek is jammer ek was so aaklig teenoor jou,” het Babalo gesê. “Andile was nooit my kêrel nie. Ek het maar net so voorgegee om jou seer te maak. Ons het net eenkeer gesoen, en dit was oor sy vriende. Toe het hy gesê hy wil nie met my uitgaan nie want hy het regtig van jou gehou.”

“Het hy dit gesê?” het Lerato gesê.

“Ja. Hy’s mal oor jou Lee.”

“Regtig?”

“Ja.”

“Ek het geen idee gehad nie… wel hy het probeer om ons weer saam te kry.”

Trane het van Babalo se gesig afgerol en sy het dit met die agterkant van haar hand afgevee.

“Ek’s jammer, Lee. Ek was jaloers…jaloers dat jy ’n kêrel gehad het wat jou regtig liefhet. Jaloers op jou skoolwerk, jou hardloop… op alles. Ek’s so jammer.”

Lerato het geknik.

“Dis OK. Ek was ’n regte teef teenoor jou ook. Ek is ook so jammer.”

“Ek sou ook ’n teef gewees het,” het Babalo gesê.

Die oggendson het deur die venster begin skyn. Lerato het gesug.

“Dit was ’n baie lang nag Babs. Gedurende daardie tyd het ek gedink ek het jou verloor, en die gedagte het my vernietig. Dit was toe dat ek besef het dat niks van hierdie goed saak maak nie. Babs, al wat saak maak is dat jy lewe. Kêrels sal kom en gaan, maar ek het net een suster, en nie net ’n suster, ’n tweelingsus.”

Toe het Lerato saggies Whitney Houston se song ,‘And I will always love you…’.begin sing. Babalo het saamgesing, haar stem swak en krakerig: ‘will always love you…’.

Die susters was uiteindelik weer verenig. Verenig in sang.

***

Vertel ons wat dink jy: Sal die susters se verhouding nou verander?