“Daardie sakkerige sportman t-hemp moet gaan,” sê Babalo en gooi dit op die vloer. “Daar is baie seuns in die atletiekklub. As jy gaan hardloop, dra hierdie!” Sy het ’n stywe pienk tenktoppie na Lerato gegooi. “Trek dit aan.”

Vir die eerste keer in ’n lang tyd het Lerato en Babalo nie met mekaar kompeteer nie, maar saamgewerk. Elke middag het Lerato Babalo met algebra en enige ander skoolwerk wat sy nie verstaan het nie, gehelp. Soos belowe, het Babalo aan Lerato se voorkoms gewerk. Sy het haar hare gevleg en haar hele klerekas oorgedoen.

“Ai Babs, ek voel simpel in hierdie.”

“Trek dit aan; en hierdie sjoebroekie. Nie daardie sakkerige kortbroek wat soos ’n ou man se onderbroek lyk nie.”

“Babs,” het Lerato gekerm, “dis net nie ek nie.”

“Nie jy nie – nog nie. Komaan. Ek het jou huiswerk gedoen, nou doen jy myne.”

Lerato het die tenktoppie en die sjoebroekie aangetrek, en voor die vollengte spieël gaan staan.

“Nou ’n bietjie lipglans,” het Babalo gesê en ’n bietjie op haar suster se lippe geverf. Sy het teruggestaan om haar handewerk te bewonder. “Wow! Dis mos nou beter.”

Lerato het haarself in die spieël ondersoek. Sy moes erken, Babalo het ’n ongelooflike werkie gedoen. Die haarstyl, lipglans en stywe klere het haar ’n totaal verskillende voorkoms gegee. Sy het verloklik gelyk.

“Gaan nou. Dis amper tyd vir hardloop klub. Hardloop agter daardie seuns aan!”

“Só aangetrek? het Lerato gevra met oë wat ooprek.

Babalo het haar oë gerol en haar hande geklap. “Nee. Aangetrek in jou pa se slaapklere. Ja! Net so! Gaan!”

Lerato het nie verder geredeneer nie en by die deur uitgedraf. Sy het om die blok gehardloop na die ontmoetingsplek by die park. Sy moes erken die klere het goed gevoel. Hulle het vaartbelyn gevoel en haar bewus gemaak van haar liggaam wat sy gewoonlik nie na opgelet het nie. Lerato het stadiger gehardloop toe sy nader aan die saamkom groep kom.

Skielik het sy ’n wolwefluit gehoor.

“Mooi nuwe stelletjie Lerato,” het Andile haar klere bewonder.

“Dankie,” het Lerato gemompel en nie geweet waarheen om te kyk nie. Haar selfvertroue het verdamp en sy het gewens sy het liewer haar ou blou hemp en sakkerige kortbroek aangehad.

“Wil jy vandag saam hardloop?” het Andile gevra.

“OK,” het Lerato gesê. Sy het voorheen al Andile opgemerk maar het nog nooit met hom gepraat nie. Hulle het met die koppie begin afhardloop teen ’n gemaklike pas.

“Jy is dan Babalo se tweelingsuster,” het Andile gesê.

Lerato se hart het gesink. O toggie. Hier gaan ons al weer. Hy praat met my om by Babalo uit te kom. Dis nou wat die uitrusting my in die sak bring, het sy gedink.

“Jip,” het Lerato geantwoord. “Wil jy haar nommer hê?”

“Nee dankie.”

“Hoekom nie? Al die seuns wil haar nommer hê.”

“Sy’s nie my tipe nie,” het Andile gesê. “Resies tot by die briewebus?”

“OK!” Die twee was weg. Lerato het gehardloop so vinnig as wat sy kon en die resies gewen.

“Vervlaks!” het Andile geroep, en geblaas. “Ek is deur ’n meisie gewen. Dit het nog nooit voorheen gebeur nie.”

“Daar’s altyd ’n eerste keer,” het Lerato geterg.

“Maar nie ’n tweede nie. Resies na die blou kar,” het hy geroep.

Hierdie keer het Lerato nie gewen nie. Maar vir die res van die oefensessie het hulle resies gejaag, en grappies langs die pad gemaak. Toe hulle terugkom by die begin was hulle albei uitgeput.

“Jy is goed Lerato, regtig goed. Dit was die beste hardloopsessie ooit. Niemand daag my ooit so uit nie.” Hy het stil gebly, en toe weer gepraat, “Hmm …Lerato…. sal jy daarvan hou om Saterdagaand te gaan fliek?”

“Ek?” het Lerato gesê.

“Nee, die onsigbare meisie agter jou. Ja, wie anders?”

“O…hmm…ja…OK.”

“Koel. Sien jou dan.”

Hulle het totsiens gewaai en Lerato het die hele pad huis toe gehardloop, gespring en gehuppel. “Babs! Babs! Dit het gewerk – jy sal nie glo wat gebeur het nie,” het sy gegil en vir Babalo die hele storie vertel. Babalo was verheug oor die sukses van haar plan.

“Môre geen huiswerk na skool nie. Lee, ons gaan inkopies doen. Jy moet asemrowend lyk op Saterdagaand.”

Onder Babalo se leiding het Lerato ’n uitrusting gekoop wat sy nooit sou kies nie: ’n kort stywe swart spandeks rok oor ’n helder, patroon bedrukte spanbroek, met rooi krale, rooi hakskoene en goue hoepeloorringe. Babalo het haar hare en grimering gedoen en teen sewe-uur Saterdagaand was Lerato soos ’n nuut-verskynde skoenlapper, reg om te begin vlieg.

Sy het op en af in die huis begin loop. “Babs, ek kannie dit doen nie. Ek voel nie soos ek nie. Ek wil nie gaan nie. Wat sal ek vir hom sê?”

“Jy sal aan iets dink. Moenie bekommerd wees nie.”

Lerato het opgekyk na die kombuishorlosie.

“Ons het nog vyftien minute – dis genoeg tyd. Trek jy aan. Gaan jy in my plek.”

“Ek kan dit nie doen nie. “Moenie laf wees nie. Jy is net senuagtig. Dit sal goed wees, jy sal sien.”

“Ek gaan nie; ek gaan nie!” het Lerato geroep en na die badkamer gehardloop en die deur gesluit.

Babalo het aan die deur gehamer. “Lee! Lee! Kom uit.”

“Nee. Ek gaan die hele nag hier bly.”

“Nee jy gaan nie. Kom uit. Hy sal binnekort hier wees.”

“Nee. Ek sal nie!”

En maak nie saak wat Babalo gesê het nie, Lerato het geweier om die deur oop te maak.

***

Vertel ons wat dink jy: Sal Lerato haar senuwees oorwin en op die afspraak gaan? Wat dink jy sal gebeur?