“Lerato, Lerato! Andile is hier,” het Babalo geroep. “Kom binne Andile, ek is seker sy sal nou uitkom.”

Andile het in die portaal gaan staan. Hy het baie modieus gelyk in skinny jeans en ’n denim baadjie. Hy het na cologne en haarjel geruik. Babalo het na die badkamerdeur gehardloop en by die deur gesis, “Lerato, kom uit –nou dadelik!”

Lerato het die deur op ’n skrefie oopgemaak, haar suster ’n dankbare kyk gegee, en op haar tone by die portaal ingestap. Skielik het sy voor Andile verskyn soos ’n goedgevormde godin. Sy oë het wyer geraak.

“Wow. Jy lyk….stunning.”

“Dankie,” het Lerato gesê en diep asem gehaal. “OK, kom ons gaan.”

“Baai Babalo,” het Andile gesê.

Hulle het gegaan, en nou was dit Babalo se beurt om in die stilte van die huis te wees. Dit het nie lank geduur nie, ’n paar minute later het haar selfoon gegons met ’n SMS:

Hi B, wt v dans

@ di Starlight vnaand?

Yebo!

Babalo het stuur gedruk en in die stort gespring.

Lerato en Andile het ’n stadige stappie na die dorp en die fliek geneem. Lerato het ’n paar keer op haar hoë hakke gestruikel, en sy het regtig gewens dat sy haar tekkies aangehad het. Sy was verbaas hoe maklik dit was om met Andile te praat, haar angstigheid het vinnig verlaag en sy het begin om sy geselskap te geniet. Die aand het regtig goed verloop; na die film het hulle wegneem-ete gekoop en toe weer huis toe geloop.

“Haai,” het Andile gesê, “dit was pret. Wil jy my ontmoet vir ’n hardloop môre”

“OK, wat van omtrent vyfuur?” het Lerato gesê.

“Sien jou by ons gewone plek. In hardloopskoene hierdie keer!”

“Eintlik dink ek sal liewers die heeltyd hardloopskoene dra. Sien jou môre.”

Toe sy in die huis instap, was haar ouers besig om TV te kyk. Die eerste ding wat sy gedoen het was om haar skoene uit te skop.

“Waar’s Babs?”

“Gaan dans,” het haar ma gesê, “maar sy het vir jou dié nota gelos.”

Haai Lee, hoop dit was ’n wonderlike aand! Ek is by die Starlight! Sien jou later.

“Dis lekker om te sien julle twee kom so goed oor die weg,” het haar ma goedkeurend gesê.

*****

Terwyl Babalo sonder ’n kêrel gebly het, het Andile en Lerato mekaar gereeld gesien, mekaar ontmoet om saam te hardloop en op Saterdagaande uit te gaan. Een aand het hulle mekaar gesoen, dus was hulle toe amptelik ‘nooi en kêrel’.

Een middag het Andile ingeloer om by Lerato te kuier. Die meisies was besig om te studeer vir ’n Wiskundetoets vir die volgende dag. Onder Lerato se opleiding het Babalo uiteindelik algebra begin verstaan. Terwyl Lerato en Andile op die bank gesels het, het Babalo verdwyn en weer verskyn in ’n baie stywe, laehals rok.

“Gaan jy dans op ’n Donderdagmiddag, Babs?” het Lerato geterg.

“Nee. Dit was net te warm in daardie krapperige skool uniform. Lerato, ons het ’n gas. Het jy hom ’n drankie en ’n snoephappie aangebied?”

“Oeps. Andile, ek sal vir ons iets te drink kry.”

Terwyl Lerato na die kombuis gegaan het, het Babalo vinnig haar plek langs Andile op die bank ingeneem. Sy het nader aan hom geskuif, en seker gemaak dat sy genoeg borsgleufie wys, en toe het sy koketterig haar kop gedraai en gesê, “So Andile, vertel my hoe gaan dit met die hardloopklub?”

Andile was ’n bietjie verbaas maar het oor ditjies en datjies gesels. Toe Lerato in die deur verskyn met ’n skinkbord sap en koekies, het haar oë in afgryse groot geword. Babalo het amper op Andile se skoot gesit! En hulle het gelag en grappies gemaak.

“Wil enigiemand sap hê?” het Lerato in ’n stywe stem gevra en toe ’n skerp blik na haar suster gestuur. Maar dit het nie gelyk of Babalo dit opmerk nie.

Lerato het haar suster maar te goed geken; Babalo het altyd ’n ou nodig gehad om haar te bewonder, en noudat sy tussen kêrels was, was Andile duidelik gewillig om haar die manlike aandag te gee waaraan sy konstant ’n behoefte gehad het. Onbewus van Lerato se gevoelens, het Babalo aanhou giggel en toe Andile se knieg op ’n vrypostige manier geklap.

“Wil julle sap hê?” het Lerato in ’n skerp stem gesê.

“Gaaf. Dankie Lerato,” het Andile gesê.

Lerato het in stilte haar sap gedrink en ’n koekie geëet terwyl sy gekyk het hoe Babalo met haar kêrel flankeer. Net toe Andile sy glas leeggemaak het, het sy opgespring en gesê, “Jammer Andile, dit word laat. Ons het nog nie klaar voorberei vir die Wiskunde-eksamen van môre nie. So ons moet nou totsiens sê.”

“Ek het gedink ons is klaar,” het Babalo gesê, verbaas dat die teepartytjie so vinnig beëindig is.

“Nee, ons moet nog voorbeelde doen. Sien jou môre by die skool, Andile.” Andile het opgestaan en Lerato het hom haastig na die deur geneem. “Na die eksamen sal ek meer tyd hê, het sy gesê en hom ’n piksoentjie op die wang gegee.

Nadat sy die deur toe gemaak het, het sy teruggegaan na die sitkamer om Babalo te konfronteer. “Wat het jy gedoen,” het sy gesis, “deur met my kêrel te flankeer?”

Waarvan praat jy, Lee?”

“Moenie jou dom hou nie Babalo. Jy het hier ingekom met daardie rooi slet rok met jou borste wat in sy gesig uitval! Wat dink jy – dat ek ’n idioot is?”

“Hou op om te oorreageer. Ek was net besig met skadelose pret.”

“Hy’s my kêrel –nie joune nie. Myne! Bly weg van hom af. En moenie vandag meer hulp van my verwag vir die Wiskunde-eksamen nie.”

Lerato het haar boeke opgetel, in haar kamer ingegaan en die deur toegeslaan.

***

Vertel ons: Wat dink julle oor Babalo en Andile wat flankeer?