Babalo het die volume op die CD-speler harder gestel toe albei meisies die woorde van Tina Turner se Simply the Bestsaamsing. Hulle het na dié lied geluister sedert hulle jong kinders was. Dit was in hulle ouers se musiekversameling, en hulle het albei die woorde uit hulle koppe geken:

You’re simply the best, better than all the rest
Better than anyone, anyone I’ve ever met
I’m stuck on your heart, I hang on every word you say
Tear us apart no, no, baby, I would rather be dead.

Hulle het lepels van die eetkamertafel af gegryp, gemaak asof dit mikrofone was, vir mekaar gesing en mimiek asof hulle in ’n musiekvideo was. Dit was altyd so as hulle musiek gespeel en saam gesing het; al die jaloesie het verdwyn en hulle het net tweeling susters geword, verenig in sang. Sommige mense sê tweelinge het ’n geheime taal. Vir Lerato en Babalo was hulle geheime taal sang. Wanneer hulle saam gesing het was hulle sielsusters, nie opponente nie.

Albei meisies het engele stemme gehad – dit was die een ding waarin hulle albei ewe begaafd was. Hulle het graag hulle gunsteling deuntjies geharmoniseer en improviseer. Hulle het ’n wye verskeidenheid van musiek gesing, van die goue oues van hulle ouers se CD-versameling soos Donna Summers en die Supremes van die 1970’s, tot Driemanskap, ’n Kaapstadse hip-hop orkes.

Die meisies het die Tina Turner lied met hulle arms oopgesprei soos dansers in ’n musiekblyspel geëindig.

“Kom ons sing dit weer,” het Babalo uitasem van al die dans en sing gesê. Sy was duidelik nie so fiks soos haar atletiese sussie nie.

“OK. Maar kom ons sing dit hierdie keer regtig hoog, soos ’n hele oktaaf hoër.”

“Ahhh,” het Babalo gesing en ’n hoë noot gekry. “So?”

“Ja, ditsem! Laat waai suster!” het Lerato gesing.

As sy saam met haar suster gesing het, het Lerato al haar skaamheid en inhibisies verloor; dit was die enigste tyd wat sy gevoel het sy kon luid en wild wees. Maar as enigiemand sou kyk, selfs hulle ouers, sou Lerato weer in haar ou stemmige self terugtrek.

Babalo het ‘speel’ op die CD-speler gedruk en Tina Turner het dit weer uitbasuin. Die meisies het in die kamer rondgetol, hierdie keer het hulle met mekaar gedans, en op die bank neergeval, histeries aan die lag.

“Jy weet, jy kan na Tina Turner lyk,” het Babalo gesê.

“Wat?” het Lerato gelag.

“Ek kan jou hare in ’n wilde 1980 Tina Turner-styl doen. Dit sal koel wees.”

“Babs, ek sal verspot lyk.”

“Kom ons probeer dit, het Babalo gesê, na haar kamer gehardloop en ’n kam en blik haarsproei gegryp, en toe begin om Lerato se hare teug te kam. “Dit gaan ’n hele nuwe jy wees. Die seuns sal jou nou raaksien!”

“Hulle sal dink ek is ’n frats,” het Lerato gesê.

“Hulle dink alreeds so,” het Babalo op ’n laggende noot gesê. ’n Opmerking wat gewoonlik soos doringdraad gesteek het, het nou snaaks geklink terwyl Babalo Lerato se hare gekam het.

“Gepraat van seuns… met wie gaan jy die naweek uit?” het Lerato gevra.

“Niemand nie. Bly by die huis.”

“Bly jy by die huis? Hoekom? Wat het van Xola geword?”

Babalo het gesug. “Ek het hom gelos. Hy was so vervelig. Hy wou net die heeltyd sokker kyk. So nou is ek vry en aan die loer. Maar ek het nog niemand gesien van belang nie. Wat van jou Lee? Daar moet iemand interessant wees by die atletiekklub.”

“Nee! Net ’n spul doffels en bleeksiele soos ek,” het Lerato gelag.

“Dan kan jy jou perfekte pasmaat kry.”

Lerato het skielik gevoel hoe haar gesig warm word van verleentheid. “Die waarheid is Babs, ek weet nie hoe om seuns te lok of selfs mee te praat nie. Miskien… miskien kan jy my wys?”

Babalo het gelag. “Dis maklik, jy maak net oogkontak, fladder jou ooglede, stap met ’n wikkel, en sê betekenisvol ‘hallo’, ” het sy gesê en al die aksies gedramatiseer. “Komaan, maak soos ek.”

Lerato het die flankeeragtige gebare nageboots. “Ek voel verspot.”

“Dis als ’n spel Lee. Jy moet net leer hoe om te speel.”

“Ek’s nie baie goed met speletjies nie, Babs. Ek’s beter met skoolwerk.”

Babalo se oë het van ondeundheid gevonkel toe sy die kam in haar hande draai. “Ek het ’n wonderlike idee! Hoekom ruil ons nie – Ek sal vir jou flankeerlesse gee en jou help om ’n mooi kêrel te kry, en in ruil help jy my om beter punte op skool te kry?”

“Maar ek gaan nie baie ver kom met hierdie hare wat soos ’n brandsiekkat lyk nie!”

“OK, ek sal iets meer vroulik doen, soos vlegsels met krale of iets.”

“Ja, doen beslis iets anders. Moenie dink die Tina Turner-voorkoms gaan die ouens in vervoering bring nie,” sê Lerato.

“En in ruil, gee jy vir my algebra lesse, sê Babalo.

“Top.”

Toe doen die meisies a high -five en sing nog eenkeer saam met Simply the Best.

***

Vertel ons: Wat dink julle van die ooreenkoms wat die susters gemaak het om mekaar te help?