Die gepakte saal het gebewe in afwagting; dit was asof almal hulle asems opgehou het, in afwagting om te hoor wie die volgende wenner is.

“Die medalje vir die beste student in Wetenskap gaan aan Lerato Chabalala!” het die hoof uitbasuin.

Die saal het in applous uitgebars. Met haar kop omhoog, het Lerato na die verhoog gestap om haar derde prys te ontvang. Sy het alreeds die pryse vir Engels en Wiskunde gekry.

“Hoeveel meer pryse dink jy gaan jou suster wen?” het Khanyi vir Babalo gesê.

“Wie weet? het Babalo geantwoord, “maar sy gaan nie die Mej.Pragtig prys kry nie.”

“Nee, daardie een gaan aan jou!” het Khanyi gesê.

“Maar dis nie ’n skoonheidskompetisie nie. Dis ’n prysuitdeling,” het Babalo gesê terwyl sy haar arms oor haar bors kruis.

“En nou, die toekenning vir Geskiedenis,” het die hoof gesê, “gaan aan…Lerato Chabalala!”

“Ek glo dit nie!” het Babalo geroep. “Kan sy nie vir iemand anders ’n kans gee nie?”

Die saal het in bulderende toejuiging uitgebars.

“Lerato Chabalala is duidelik die ster van die Matriekklas!” het die prinsipaal trots gesê.

Lerato het teruggestap na haar sitplek, kop omhoog, vier medaljes styf in haar hand, elk met ’n verskillende kleur lint. Haar gesig, wat gewoonlik uitdrukkingloos was, het gegloei van geluk.

“Welgedaan Lerato!” het Khanyi gesê.

Babalo het voor haar uitgekyk en niks gesê nie.

“Gaan jy nie jou suster gelukwens nie?” het Khanyi gevra.

“Gelukkig was dit nie ’n skoonheidskompetisie nie!” het Babalo gesis.

Lerato se gesig het geval. “Ek wens jy kon vir my part gelukkig wees,” het sy stil gesê.

“Ek wens jy wil verdwyn,” het Babalo gesê.

“En nou sal ons die skoollied sing,” het die hoof gesê.

Die meisies het opgestaan en begin sing. Lerato het met vreugde en trots gesing terwyl Babalo aan haar wrewel uiting gegee het.

Lerato en Babalo was ’n tweeling wat so verskil het dat hulle soos die ou gesegde lui: ‘soos dag en nag’ verskil het. Dit was moeilik om te glo dat hulle susters was, wat nog te sê ’n tweeling. Lerato was lank en rankerig, maer soos die takke van ’n wilgerboom, terwyl Babalo kort was met sexy kurwes en goedgespierde bene. Lerato het klein swart ogies gehad met ’n ronde gesig terwyl Babalo se gesig hartvormig was met hoë hoekige wangbene en groot oë wat effens opwaarts gebuig het.

Babalo was die skoonheid tussen die twee susters. Sy het mense aangetrek met haar skoonheid, vonkelende persoonlikheid en parmantige glimlag. Lerato met haar terughoudende en kalm geaardheid het nie dieselfde aandag as haar suster ontlok nie. ’n Introvert van nature, het sy tuis gevoel wanneer sy langafstand hardloop met die wind wat teen haar vel waai, of stil besig om aan haar studies te werk.

*****

“Waar gaan jy vanaand heen?” het Lerato gevra. Sy het met haar bene onder haar ingevou op Babalo se bed gesit en gekyk hoe haar suster haar voor die spieël mooimaak, omdraai en haar miniromp hoër optrek.

“Haai – haal jou hardloopskoene van my bed af!” het Babalo geraas. “Jy kon in hondepoef gehardloop het.”

“Ek het nie in hondepoef gehardloop nie!” het Lerato geantwoord.

“Trek hulle in elk geval uit.”

Lerato het haar skoene uitgeskop, en haar lang, gladde atletiese bene uitgestrek. “So, waarheen gaan jy vanaand?” het sy herhaal.

“Op ’n dubbelafspraak: Xola en ek, en Khanyi en Beni. Ons gaan dans by die Starlight Klub. Nie ’n plek waarvan jy sal hou nie.”

“Hoe weet jy?”

Babalo het haar oë gerol. “Nie vir jou tipe nie.”

“En watter tipe is dit?” het Lerato gevra.

“Die tipe waarvan seuns nie hou nie.”

Nou het Lerato haar oë gerol. “Wel Babs, laat ons hoop jy kry ’n ryk man om vir jou te sorg, want met jou skoolpunte gaan jy nie na die universiteit kan gaan en ’n goeie werk kry nie. So wat as die seuns van jou hou? Aan die einde van die dag sal jy ook eindig deur een of ander vet ou te bedien wat in elk geval ander poppies spyker.”

“Teef!” het Babalo gegil toe sy ’n haarborsel na Lerato gegooi het.

“Ek veronderstel die waarheid maak seer,” het Lerato geantwoord terwyl sy vir die haarborsel koes.

“Dis nie die waarheid nie!”

“Dit is. Watter vaardighede het jy Babs, behalwe om ’n slet te wees?”

“Jy’s net jaloers – omdat geen seuns van jou hou nie!” het Babalo geskreeu.

“Ek sou nie tyd vir hulle gehad het nie, selfs al sou hulle belangstel,” het Lerato gesis.

“Ek gaan na Khanyi se huis. Ek het genoeg van jou gehad,” het Babalo gesê en haar hoëhakskoene aangetrek, haar handsak geneem en uit die kamer gemarsjeer en die voordeur toegeslaan.

Die huis was snaaks stil sonder Babalo. Hulle ma was nog nie tuis van ’n kerkvergadering nie, en hulle pa het nog gewerk. Lerato het van die bed af gehop en by die venster uit gestaar. Sy het nie presies geweet wat om te doen nie aangesien sy alreeds gehardloop het en al haar huiswerk klaar gemaak het. Die stilte en eindelose ure het voor haar uitgestrek. Alhoewel sy dit nooit hardop sou sê nie, het sy gewens sy het ook vriende gehad, ’n kêrel en op pad uit om te gaan dans.

***

Vertel ons: Watter raad sal jy vir elke suster gee?