My klere was alreeds vuil omdat ek in die bosse ingesleep is, die Here weet alleen waarheen daardie twee mans my geneem het. Die laaste ding wat ek kan onthou was die geweldige hou teen my wang en toe het alles weggeraak. Ek kyk af op my romp. Daar is bloed oor die hele onderste gedeelte. My hele lyf voel dood. Daar was ’n poel water in die grond daar naby. Ek het my broekie gewas en opgehang om droog te word aan die tak van ’n boom.

Dit was die enigste stukkie onderklere wat ek gehad het. Al my besittings is gesteel deur die guma guma-bende. Hierdie bende het mense aangeval en beroof in die bos tussen die Suid-Afrikaanse en Zimbabwiese grens. Hulle teikens was onwettige immigrante. My spaargeld van tamatieverkope in die strate van Harare was weg, alles verniet. Maar ek moes sterk wees want ek was nog ver van my bestemming af. Ek het nie presies geweet waar ek is nie, slegs dat ek die grens oorgesteek het en in Suid-Afrika was – die land van melk en heuning.

Elke Zimbabwiër wat van ’n reis vanaf Suid-Afrika teruggekom het, het iets gehad om te wys. Maar op hierdie oomblik het ek niks gehad nie. My klein besigheid was nie baie winsgewend nie, want ek het min inkomste gehad om mee meer vrugte en groente te koop, soos die ander verkopers gemaak het. Met tye het ek die tamaties wat ek as sous moes verkoop het, gebruik om by ons pap te eet. Suid-Afrika was my laaste hoop om werk te kry sodat ek in staat sou wees om my sibbe te versorg.

My naam is Rudo, wat ‘liefde’ beteken.

Liefde is spesiaal, indien jy omring is deur familie en vriende wat jou liefhet. My ouers wat vir my die kosbaarste was, is dood en ek moes die juk dra om alleenouer vir my jonger sibbe te wees. Dit was nie iets wat ek aan iemand anders kon oorlaat nie want daar was niemand wat my jonger broers kon ondersteun nie.

Dit was moeilik om my twee broers te onderhou met die geld wat ek deur vrugte en groente verkope gekry het. Ek was sestien, maar was nie op skool nie. Om skool toe te gaan was vir ons ’n luukse; dit was belangriker om iets in ons mae te kry.

As ek nou aan kos dink, grom my maag. Ek kan nie eers onthou wanneer laas ek iets geëet het nie. Om te dink aan wat sopas met my gebeur het, was erger. Daardie twee mans wat my verkrag het het iets by my weggeneem wat ek meer waardevol geskat het as enigiets. Iets wat ek kon sê my eie is. Iets wat ek nooit met geld kon koop nie. Hulle het ’n deel van my lewe geneem.

Ek het langs die boom gehurk, my knieë vasgegryp, en die trane laat vloei.

Na ’n tyd het ek my gesig met my bloes afgevee en opgestaan. Maak nie saak wat nie, ek moes aangaan met my reis.

Ek hoop dat daar ’n Goeie Samaritaan sal wees wat my na Johannesburg, of selfs Kaapstad sou neem, waar ek veronderstel was om heen te gaan. Dus het ek langs die kant van die pad gesit en bid en wag dat ’n kar sou stilhou en my oplaai.

***

Vertel ons wat dink jy: Watter keuses het Rudo op hierdie stadium? Hoe sou jy in haar situasie gevoel het?