Dit was meer as drie ure en geen van die verbygaande motors het gestop nie. Ek was bang dat dit donker sou word terwyl ek daar gewag het. Die Here weet wat die aasvoëls van die nag aan my sou doen. Die twee mans wat my liggaam so misbruik het kon weer na my toe gekom het.

Na nog ’n uur waarin ek hopeloos by die pad gestaan het, het ’n groot trok gestop. ’n Kleurlingdrywer het deur die venster geloer.

Waar gaan jy?” het hy gevra.

“Kaapstad. Kan jy my oplaai?” het ek gevra, terwyl ek raai wat hy in sy taal gesê het.

Jy’s koel – gorgeous. Jy kan inspring, ” het hy met ’n glimlag gesê.

Ek het niks gehad om te dra nie; als was gesteel. Ek het in die trok geklim. Die sitplekke was so gerieflik en groot. Ek het nie vir die drywer gesê dat ek geen reisgeld gehad het en vir hulp gesoek het nie.

“Jy’s gelukkig. “Ek laai vandag goed af in Kaapstad,” het hy gesê en na my gekyk. “Gewoonlik is dit net Johannesburg of Durban.”

“Dankie Vader dat ek jou dan vandag ontmoet het,” het ek met ’n vinnige glimlag gesê.

“Jy hoef nie te betaal nie. Ek kan sien jy het geen geld by jou nie. Wat’s jou naam? Ek is Sam,” het hy gesê, en weer geglimlag.

“My naam is Rudo.”

Ek wou nie hierdie vreemdeling vertel van my lewe nie, maar ek het darem ’n gratis rit gekry. Hy het my belowe dat hy vir my ’n plek sou kry om in Kaapstad te bly. My telefoon en dagboek met al my nommers was gesteel, dus kon my vriendin wat vir my gewag het my nie kontak nie, en ek ook nie vir haar nie. Sy was ook ’n Zimbabwiër en die enigste persoon wat ek in Suid-Afrika geken het.

In die trok, op daardie sagte sitplekke het my liggaam stadig begin ontspan. Ek het meer gemaklik begin voel. Hierdie man was gaaf om my saam te laat ry. Hy het gesê hy was in sy middel-vyftigerjare en geskei – alhoewel ek dit nie regtig geglo het nie, want hy het nie na my gekyk toe hy dit gesê het nie. Hy was oud genoeg om my pa te kon wees, of selfs ouer, en hy het ’n groot maag gehad.

Ons het by ’n Caltex-garage gestop en hy het vir my ’n vleispastei, koeldrank en toiletware gekoop. Maar voordat ek geëet het, wou ek eers myself skoonmaak. Hy het vir my ’n langbroek en bloes gegee wat in ’n plastieksakkie agter sy sitplek was. Wie se klere was dit? Ek het daaroor gewonder terwyl hy my gewys het waar die badkamer was.

Ek het ’n vinnige stort geneem en die nuwe klere aangetrek. Toe ek na myself in die spieël gekyk het, kon ek ’n pragtige sestienjarige jong dame sien, maar gedagtes van myself wat in die bos wakker word met pyn tussen my bene en bloed, het teruggespeel.

Sam het alreeds begin wonder wat so lank neem. Ek het hom buite gekry en hy het vir my die kos aangegee. Ek het hongerig geëet. Ek het vir amper ’n dag niks geëet nie en ek kon voel hoe my maag hierdie heerlike kos met groot vreugde verwelkom. Ek het laas ’n pastei gehad toe my ouers nog gelewe het, toe ek elf jaar oud was. Die hele tyd wat ek geëet het, het Sam glimlaggend na my gekyk. Hy het nie eers aan sy kos geraak nie.

***

Vertel ons wat dink jy: Het Rudo haar ‘Goeie Samaritaan’ gekry?