Sy oë gloei, maar nie met lig nie. Met donkerte.

Ek is bang, bang, bang. Ek is so dikwels bang.

“Julle gays dink julle is so special, nè?” sê hy.

Ek skud my kop.

“Ja, julle dink julle is. Julle loop rond met daai girly stappie, act soos vroue. Act soos hoere. Soos gemors. Soos diere.”

Ek antwoord nie. Enigiets wat ek sê, enigiets wat ek doen, sal met geweld beantwoord word. Hierdie tipe mans praat nie. Hulle maak net seer. Al wat hulle kan doen is om seer te maak.

“Ek …” begin ek, maar hy gryp my kakebeen in sy hand en druk so hard ek kan die sin nie klaar maak nie.
“God het die man vir die vrou gemaak,” preek hy, amper soos ʼn priester.

Hy’s mal van woede, maar daar’s iets anders. Hy glo so diep in wat hy sê.

“Wat julle … vuilgoed doen …”, en daar is spoeg op sy lippe terwyl hy dit sê, “is teen die natuur. Dis teen God. In ander lande hang hulle perverts soos jy.”

Ek begin antwoord, maar my woorde is ʼn bietjie gewurg, want sy greep op my wange maak dit moeilik om te praat.

“Ons … is nie … in … ‘ander lande’ nie …”

Hy klap my teen die kant van my kop en ek val, my ore suis.

“Ek’s so siek vir julle moffies wat maak of julle normaal is,” sê Mdu. “Julle is scum. Ek sal julle nooit as mans aanvaar nie.”

Ek luister net hoe hulle oor my praat asof ek niks werd is. Ek is so stunned van die hou teen my kop dat ek aan skok ly. Ek reageer nie.

Ek sal hulle maar laat preek oor hoe ʼn goddelose, siek, perverted ou ek is en hoe ek in die publiek met klippe gegooi moet word of whatever¸ en dan sal hulle energie verloor of whatever, dink ek.

Hulle joke oor of hulle my van die dak moet hang, of my in die toilet moet verdrink.

Hulle lag. Dis moeilik om te weet of sulke mense ʼn grap maak. Hulle praat altyd so oor mense wat hulle haat. Dis hoekom hulle so gevaarlik is. Hulle lewe van haat, soos ek en jy van kos en lug lewe.

Hulle is die freaks, nie ek nie.

Toe doen ek iets wat ek nooit gedink het ek sal die moed voor hê nie.

“Julle is nie mans nie,” fluister ek. Daar is ʼn donker, gevaarlike stilte.

“Wat sê jy?” vra Songezo, sy stem lig, dodelik, soos gif.

My bloed vries. Maar ek sê dit, ek kan myself nie stop nie. Ek moet my waarheid praat. Ek moet.

“Julle sê julle is mans,” sê ek, “maar julle is nie. Julle is bang, stupid, hulpelose laaities.”

***

Vertel ons: Is hierdie ʼn akkurate voorbeeld van hoe gay seuns en mans gereeld geboelie word, sover jy weet? Wat dink jy van wat Levi nou net gesê het?