Hulle moer my. Behoorlik. Songezo skop my kop. Een keer, twee keer, ek weet nie hoeveel keer nie. Al wat ek sien is sy skoen wat na my kom, weer, weer, weer, weer – ʼn hamer.

Ek maak nie ʼn geluid nie. Ek is in te veel pyn om te praat.

Mdu kyk.

Na ʼn skop in my maag, wat my in twee laat vou, sê Mdu, “Los dit, bru. Hy’t sy les geleer.”

“Moffie,” sis Songezo terwyl hy op my neerkyk.

Sy gesig lyk soos moord, ʼn masker. Spoeg vorm op sy lippe. Hy laat ʼn dik bol spoeg op my val. Dit land, plons op my gesig.
Ek begin huil.

“Ek wil nie hierdie moffie hoor huil nie,” sê Mdu, hy klink verveeld.

Songezo lyk asof hy besig was om te jag, en iemand hom skielik gestop het, net toe hy sy spies wou gooi. Hy wil aangaan.

Maar hy besluit daarteen. Miskien het Mdu hom oorreed.

“As jy vir iemand hiervan vertel, moffie,” sê hy, en hy praat stadig, ʼn dreigement wat my rillings gee, “sal ek jou moffie-keel vir jou afsny. Verstaan jy my?”

Ek doen niks nie.

Hy skop my weer, dié keer teen die bors. Ek gil. Ek is in pyn.

Verstaan jy my!?” brul hy, soos ʼn bul.

Dude, chill,” sê Mdu.

“Hou jou bek!” skree hy, en gluur na Mdu. “Moenie my sê jy’s ʼn moffie-lover soos David nie.

Mdu hou sy hande gelate op. Ek kan sien hy dink dit het messy geraak en hy wil wegkom.

“Laat ons net hier wegkom, bra,” sê hy vir Songezo, en trek aan sy baadjie.

Songezo se oë pen my vas soos ʼn vloek. “Onthou – as jy iets sê, is jy dood. Nie opgedonner nie. Nie seer gemaak nie. Dood.”

Hulle loop. Hulle slaan die deur toe.

Ek lê in die donker. Ek bloei – ek weet nie hoe erg nie. Ek kan nie sien nie. Ek kan nie asemhaal nie.

Miskien is die lewe nie dit werd nie, om te moet veg om so te oorleef nie.

Ek proe bloed in my mond. Ek pass uit.

***

Vertel ons: Wat moet Levi oor hierdie aanranding doen?