“So wat gaan hier aan?”

Kiara lig haar hand op om haar oë te beskerm teen die polisievan se kollig. Sy sien dat een polisieman uit die van is, en die ander een dophou uit die bestuurder se sitplek.

“Wat maak julle kinders hier dié tyd van die aand?”

Die polisieman is nie baie lank nie, maar hy lyk baie breed in sy opgestopte, koeëlvaste baadjie. Hy frons terwyl hy na hulle kyk en Kiara dink dat hy moeg lyk.

Sy kyk na Zaakirah, verwag haar vriendin gaan ’n slim antwoord gereed hê, maar tot haar verbasing sien sy dat Zaakirah net daar staan met haar mond oop. Dié een keer het Zaakirah niks om te sê nie. Jaydon is ook stil. As iemand nie gou begin praat nie, gaan hulle stilte gou verdag skuldig lyk.

“Ons…” sê Kiara, haar stem piepend van die senuwees, “…um, ons was net … oppad huis toe.”

Hy kyk na die hond lang haar sy, en sy wenkbroue lig toe Kettinghond na hom terugkyk.

“Is daardie jou hond?” vra die polisieman met ’n frons.

“Nee!” sê Kiara, en wil dadelik haar tong afbyt. Waarom het ek dit gesê? “Ons, um, ons het haar gekry. Sy het net daarbuite gestaan. Ek dink…” sy stotter toe die polisieman vraend na haar kyk.

“Ja?” sê hy. “Gaan voort.”

“Ons dink sy moet kom van daai huis in Esther-straat,” sê Kiara vinnig. “Jy weet, die een met allie honde? Waar die gêng woon? Ek het gehoor daardie mense neem deel in dog fights. Sy moes op ’n manier van hulle af ge-escape het.”

Kiara voel asof haar leuens sigbaar is op haar gesig. Hy gaan vra hoekom ons haar aan ’n leiband het as ons haar nou net gevind het. Maar dis nie regtig leuens nie, dis alles waar, sê sy hardkoppig aan haarself. Ons het haar gevind. Ek het nooit gesê waar ons haar gevind het nie, het ek?

“Ek ken die plek waarvan jy praat,” sê die polisieman. Hy haal sy pet af, en vryf oor sy gesig en deur sy hare. Toe kyk hy na Zaakirah en Jaydon.

“Julle ouens is vreeslik stil,” sê hy. Maar voor hulle kan antwoord, draai hy terug na Kiara. “En waarheen vat julle haar nou?”

“Ek weetie,” erken Kiara. “Sy is so maer. Ons wou haar bietjie kos gee. Maar die ding is, nie een van ons kan haar huis toe vat nie. En ons kan haar nie terug Esther-straat toe vat nie, kan ons?”

“Alles olraait, Dirks?” roep die bestuurder van die kajuit af, en die polisieman lig ’n hand op.

“Net ’n paar kinders, Tommy,” sê hy. “Het vir hulle ’n hond gekry.” Hy kniel voor Kettinghond en hou sy hand uit na haar. Kiara hou haar asem op. As die hond nou knor, of na hom hap…

Maar Kettinghond laat sak net haar massiewe kop en ruik stil aan die polisieman se hand, net soos sy vroeër aan Kiara s’n geruik het. Die polisieman skud sy kop en bekyk haar. “Sy is regtig in ’n slegte toestand,” sê hy. Kyk na daardie ribbes. En van hierdie littekens is nog heel vars. Maar sy is jonk genoeg, sou ek raai. Twee, miskien drie jaar oud. Maar sy het ’n harde lewe gehad.”

Sy mond word hard soos wat hy op sy tande kners, maar hy reik uit en vryf die hond se kop heel sagkens, laat haar ore deur sy vingers glip.

“Arme honne,” mompel hy. Toe sug hy en staan weer op. “Wel,” sê hy, “ek kan haar nie by julle los nie, dis duidelik. En ek gaan beslis nie haar eienaars probeer opspoor nie. Die mense wat dit aan haar gedoen het verdien nie ’n hond nie. Ek sal haar moet terugvat na die stasie.”

“Gaan officer haar dan tronk toe vat?” sê Zaakirah, haar stem skril.

Die polisieman glimlag. “Nee,” sê hy. “Sy is nie onder arres nie. Ek sal haar terug na die stasie vat vir die nag en bietjie kos in haar lyf kry, en môreoggend sal ek haar na die DBV vat.”

“Maar hulle sal haar doodmaak daar!” sê Zaakirah, en tree vorentoe. “Hulle maak honde en katte en goed dood, nie waar nie? Hulle ‘maak hulle aan die slaap’ maar eintlik maak hulle hulle dood.”

“Hulle sal haar nie net doodmaak sonder rede nie,” sê die polisieman toe hy die leiband by Kiara neem. “Hulle sal haar bekyk en haar toets om te sien of sy enigsins aggressief of gevaarlik is. Sien of sy in ’n normale huis kan inpas. As ’n troeteldier, bedoel ek. Mense neem diere aan by die DBV, jy weet. Hulle het ’n veearts wat haar sal ondersoek en haar die nodige mediese sorg sal gee. Sy het heel moontlik ’n lang ruk honger gely. Sy sal inspuitings moet kry, skoongemaak word, daardie soort ding.”

“Maar as hulle dink sy is nie goed genoeg nie, sal hulle haar doodmaak, nè?” hou Zaakirah vol.

“As hulle dink sy is aggressief, of as niemand haar aanneem nie, is ek bevrees so,” sê die polisieman. “As sy betrokke was by die hondegeveg-tipes wat haar haar hele lewe mishandel het, mag sy dalk nooit ’n veilige troeteldier wees nie. ’n Groot hond soos hierdie kan baie skade doen. En nie baie mense sal een as ’n troeteldier wil hê nie.”

“Jy moes hom nie toegelaat het om die leash te vat nie, Kiara!” beskuldig Zaakirah haar. “Hoe kan jy hom net toelaat om haar te vat? Na al–”

Jaydon stamp haar waarskuwend voor sy enigiets anders kan sê.

“Maar wat anders gaan ons doen, Zaakirah?” sê Kiara. Sy voel na aan trane. Dit was ’n lang en verskriklike nag, en sy hou nie daarvan om die teiken van Zaakirah se kwaai woorde te wees nie.

“Sy’s reg, Zaakirah,” sê Jaydon, die eerste keer wat hy praat van die polisie aangekom het. “Ons hettie ’n choice nie. Kiara doen die regte ding. Dankie dat jy ons help, officer.”

“Ek is konstabel Dirks,” sê die polisieman, en knik na Jaydon. “Julle kan my môre kom soek by die Wynberg-stasie, OK? Dan kan julle nuus kry oor julle vriend hier. Ek gaan julle kinders nou laat huis toe gaan, al het ek ’n gevoel dat ek julle name moet neerskryf en uitvind wat julle rêrig mee besig was.”

Daar is ’n ongemaklike stilte. Toe glimlag konstabel Dirks. “Kom ons kyk of sy saam met my sal kom. Tommy, ek gaan net gou hierdie ounooi agterin laai, OK?” Hy trek aan die leiband en loop stadig na die agterkant van die bakkie met Kettinghond langs hom.

“Wat ’n soet honne,” sê konstabel Dirks terwyl hy die deur oopmaak. “Iemand het jou ten minste goed opgelei.” Hy kyk na Kiara. “Sy was dalk op ’n tyd iemand se troeteldier, weet jy. Mense steel die honde vir gevegte en om te teel. Veral hierdie ras, die vegboelterriërs. Ek het dit al oor en oor gesien. En die ergste ding is, dikwels is die diewe kinders. Seuns so jonk as elf of twaalf.”

Hy skud sy kop en buig af om oor Kettinghond se kop te streel. “Op, honne!” beveel hy en sy spring agter in die bakkie in.

“Nou ja. Dis dit,” sê konstabel Dirks toe hy die bakkie se deur sluit. “Julle kinders beter nou huis toe gaan, hoor? Moenie dat ons julle weer hier buite rond sien nie, anders sal ek ’n paar vrae moet vra wat julle nie sal wil antwoord nie.”

Die drie van hulle knik sonder ’n woord en kyk hoe die polisiemotor stadig wegry, die blou lig draaiend. Hulle kon net die hond se kop sien, afgeteken in die klein agterste venstertjie van die bakkie, waar sy na hulle staan en kyk. Skielik voel Kiara baie koud en baie moeg.

Sy haat dit om aan Kettinghond te dink, alweer alleen agter in die polisievoertuig. Wat sou sy dink? Hoe kon sy enigsins verstaan wat met haar gebeur? Sy het Kiara vertrou om na haar te kyk, en Kiara het haar weggee aan die polisie.

“Ai Kiara,” sê Zaakirah, en sy sit haar arm om Kiara se skouer. “Sorrie dat ek op jou geskree het. Ek was net upset. Ek is seker sy sal nou olraait wees. Die SPCA kan haar nie net doodmaak nie. Sy is so ’n soet hond; selfs die cop het so gesê.”

Kiara voel die trane teen haar wange afglip en sy sluk die knop in haar keel. Sy wens sy kan saamstem met haar vriendin se woorde, maar sy weet dat Zaakirah net besig was om gaaf te wees.

Kettinghond is ’n groot, lelike hond, oortrek met die littekens wat haar wrede lewe haar gegee het. Wie sou haar ’n tweede kans wou gee? En as niemand haar wil aanneem nie, sal sy uitgesit word, alweer heeltemal alleen in ’n koue hok by die SPCA.