“Nog innie kooi!”

Daar is ’n geratel soos haar ouma die gordyn ooptrek, en Kiara knip haar oë in die sonlig wat by haar slaapkamertjie instroom. “Opstaan!” sê ouma Arendse. “Dis ’n sonde om so ’n mooi oggend te vermors.”

Kiara mor terwyl sy uit die bed klim, maar nie so hard dat haar ouma hoor nie. Haar oë is krapperig van die min slaap en sy het ’n paar bloukolle en krapmerke van die vorige aand se aktiwiteite. Maar die ergste van alles is die gedagte aan Kettinghond op haar eie in ’n DBV-hok. Sou konstabel Dirks genoeg tyd gehad het om die hond al na die DBV te vat?

Die oggend sleep voort en Kiara se bui verbeter nie. Ouma Arendse is ’n streng vrou, maar nie harteloos nie. Sy probeer aan maniere dink om haar kleindogter weer vrolik te kry. Sy maak vir Kiara haar gunsteling ontbyt, stel ’n uitstappie na die winkels voor om ’n fliek te gaan kyk, maar dit lyk of niks werk nie.

Uiteindelik lui die klokkie, en ouma Arendse gaan maak oop terwyl sy wonder wie hulle so vroeg op ’n Saterdagoggend kom besoek.

Kiara, wat by die kombuistafel sit, hoor stemme by die deur en dan haar ouma se stem wat roep: “Kiara! Gaste vir jou.”

Tot Kiara se vreugde hoor sy Zaakirah se stem roep, “Haai, girlfriend! Ons het gekom om jou weg te sleep.” En dan in ’n effens ordentliker toon: “Is dit olraait, missus Arendse? Kan sy saam met ons kom?”

“Ek kom!” skree Kiara, klaar besig om haar voete in haar skoene te druk. Sy gryp ’n denimbaadjie, kyk gou in die spieël of haar hare netjies is, en na ’n vinnige soen vir haar ouma, is sy by die deur uit, terwyl sy glimlag vir Zaakirah en Jaydon.

“Waarheen gaan ons?” vra Kiara toe die drie van hulle by die trappe af bondel.

“Na die SPCA, of course,” sê Zaakirah. “My suster gaan ons vat.”

Buite in die straat staan daar ’n smal, helderrooi luikrugkarretjie en wag op hulle. “Dis Faizah,” sê Zaakirah terwyl sy een van die deure oopmaak vir Kiara. “Faizah, dis Kiara. Sy’s in my graad by die skool.”

Faizah draai om en glimlag toe Kiara ingly op die agtersitplek van die motor. Kiara kan nie help om na haar te staar nie. Zaakirah se suster is beeldskoon. Haar grimering is perfek aangebring en haar blink hare in ’n gesofistikeerde styl gerangskik. Kiara kan nie haar oë sien nie, want hulle is verskuil agter ’n stylvolle sonbril.

“Hallo daar,” sê Faizah, en glimlag so vriendelik dat Kiara ’n bietjie minder geïntimideerd voel.

“Faizah het hierie kar annerdag eers gekry,” sê Zaakirah toe sy langs Kiara inklim. “Vir haar verjaarsdag, jy weet. Sy het een-en-twintig geword laas week. Is dit nie great nie? Al is dit eintlik bietjie klein. Jaydon kan skaars inpas.”

Jaydon is in die voorste passasiersitplek, en dis waar: daar is skaars plek vir sy lang bene. Kiara is verlig hy sit voor. Sy is steeds ’n bietjie skaam teenoor hom, en sy verkies om ’n sitplek met Zaakirah te deel.

“Het jy enigiets gehoor?” vra Kiara vir Zaakirah in ’n sagte stem toe hulle wegry.

Zaakirah skud haar kop. “Nee. Ek het die SPCA vanoggend gephone, maar hulle wil niks sê nie. Ek weet nie eers of daai cop-ou haar al na hulle gevat het nie.”

Ten spyte van haar kommer oor die hond, geniet Kiara die rit na die DBV. Dis net sowel dat Zaakirah se suster gaaf genoeg is om hulle te vat, dink Kiara, want dis nogal ver na Grassy Park waar die DBV is. Nie lank nie, toe draai hulle by die hekke in en Faizah parkeer die kar.

“Ek gaan hier bly en vir julle wag,” sê sy. “Ek willie weet wat julle mee besig issie. Een of anner scheme soos usual, neem ek aan. Moenie dat Zaakirah hier uitkom met enige nuwe pets nie, OK?

Toe hulle na die ontvangsarea stap, voel Kiara senuagtig. Al die gedagtes wat sy al die hele oggend uitstel, keer terug. Wat as die hond reeds dood is?

Zaakirah doen die praatwerk. Die ontvangsdame by die toonbank roep ’n vrou genaamd Amy wat na die honde kyk. Sy het kort, deurmekaar hare en dra reuse, waterdigte stewels.

“Ja,” antwoord Amy teësinnig Zaakirah se vrae. “Konstabel Dirks het baie vroeg vanoggend ingekom met ’n pit bull. Is sy julle s’n?”

“Nee, sê Zaakira. “Sy’s nie ons s’n nie. Ons het haar gekry. Sy was vasgech … um, ek meen,” pas sy aan met ’n kyk na haar vriende, “kan ons haar sien? Is sy OK? Kan sy hier bly? Kan jy ’n huis vir haar kry? Of–“

Amy lig haar hande op in protes. “Stadig nou,” sê sy. “Ja, julle kan haar sien. Ons het haar gewas en haar wonde behandel. Sy het nou net haar ontbyt gehad.”

Sy lei hulle deur ’n gebou en agter uit na waar die honde aangehou word. Hier gaan hulle in ’n gangetjie af vol hokke met ogiesdraad aan die voorkant. Hulle is leeg, maar baie skoon. Elke hok het ’n hond in, en sommige het ’n paar in. Kiara het nog nooit so baie honde gesien nie, alle vorms en groottes, almal besig om te blaf en te kef so hard hulle kan terwyl Kiara-hulle verbyloop.

“Hier is sy,” sê Amy. “Haai, ounooi.” Kiara merk op dat Amy se stem, wat taamlik onvriendelik was tot nou, sag en warm word toe sy met die hond praat. “Hallo, ounooi,” sê Amy vir Kettinghond. “Komaan, ounooi. Hier is ’n paar vriende wat jou kom sien het.”

Kiara sien dat Kettinghond alleen is in haar hok. Sy het opgekrul op ’n kombers agter in die hok gelê. Nou loop sy stadig na hulle toe. Kiara steek haar hand huiwerig deur die tralies van die hok en gloei van trots to die hond naderkom en aan haar vingers ruik, en toe kalm na haar opkyk en haar stert swaai.

“Sy ken my,” sê sy.

“Natuurlik ken sy jou,” sê Amy. “Sy is ’n baie slim honne.”

“So jy sal haar nie uitsit nie, sal jy?” sê Zaakirah. “Jy hoef haar nie dood te maak nie?”

Amy tel haar skouers op. “Sy is nog jonk. Met ’n bietjie sorg sal sy haar kragte herwin. Ons sal ’n toets doen om te kyk of sy aangeneem kan word. Maar jy weet,” sê Amy en steek ’n vinger deur die tralies om Kettinghond se kop te krap, “ek dink nie ons sal ’n probleem met haar hê nie. Dis ’n wonderwerk, as mens dink hoe wreed sy mishandel is, dat sy ’n werklike goeie geaardheid het. ’n Regte sweetheart.

“So,” dring Zaakirah aan, “julle gaan haar dan nié doodmaak nie? Julle gaan vir haar ’n huis kry?”

“Ek weet nie,” sê Amy. “Mense wil nie ’n hond aanneem wat soos hierdie een lyk nie.”

Vir ’n oomblik staan hulle na die hond en kyk. Dit is waar, dink Kiara. Kettinghond is nie ’n mooi hond nie, en as jy haar nie ken nie, is dit maklik om bang te wees vir haar.

“Môre!” Hulle almal draai om toe hulle ’n man se stem agter hulle hoor.

Dit is konstabel Dirks. Kiara kyk senuagtig na hom, haar hartklop skielik weer wild aan die klop. Wat maak hy hier? Hy moet geraai het hulle het Kettinghond gesteel.

“So ons ontmoet mekaar weer!” sê die polisieman. “Hierdie is die drie jongelinge waarvan ek jou vertel het, Amy. Besig met kwaaistreke, jy kan dit sommer sien. Moet ek vir jou van hulle ontslae raak?”

Tot Kiara se verbasing, lag Amy net en raak aan konstabel Dirk se skouer asof hy ’n grap gemaak het.

“Kom jy jou gevangene inspekteer, konstabel?” sê sy. “Sy doen goed, onder omstandighede.”

Konstabel Dirks hurk en kyk na die hond deur die tralies van die hok. “Jy het wondere uitgerig met haar, Amy,” sê hy. “Wat het sy gesê oor die wassery?”

“Nie ’n geluidjie nie,” sê Amy. “Sy is so soet as wat kan kom. Het my selfs toegelaat om haar ore skoon te maak.”

Kettinghond ruik nou aan die polisieman se hande, en Kiara sien haar stert swaai meer as ooit.

“Sy hou van konstabel Dirks!” sê Kiara verbaas.

“Ons het mekaar gisteraand bietjie leer ken,” sê konstabel Dirks, terwyl hy opstaan. “Kan ek haar iets gee?” vra hy vir Amy, en toe sy knik, haal hy ’n klein pakkie uit sy sak. “Biltong,” erken hy aan Kiara. “Kyk.”

Hy hou ’n stuk biltong op, en hou die hond streng dop. “Sit!” en Kettinghond gaan sit dadelik.

“Mooi so, honne!” sê konstabel Dirks, en gee die hond haar beloning.

“So,” sê hy aan Amy. “Hoe lank voor ek haar huis toe kan vat?”

Dit vat Kiara ’n oomblik om te verstaan. Selfs Zaakirah se laggende uitroep, en Jaydon se breë glimlag maak nie onmiddellik vir haar sin nie. Dis eers toe Amy sê: “So jy wil haar aanneem, konstabel?” dat Kiara verstaan. Dit voel asof ’n las van haar hart af gelig word.

Konstabel Dirks gaan Kettinghond aanneem. Sy sal nie veel langer op haar eie in hierdie klein sementhokkie hoef te bly nie. Sy sal nie doodgemaak word nie: sy gaan lewe.

En as daar iemand is wat haar veilig kan hou van haar vorige eienaars, moet dit sekerlik ’n man soos konstabel Dirks wees.

“O!” sê sy. “Konstabel gaan haar adopt? Rêrig?”

“Dis reg, ja,” sê konstabel Dirks. “Ek is al te lank sonder ’n hond. Ek hou daarvan om ’n hond om die huis te hê, en hierdie een sal net mooi by my pas.

Kiara kan nie ophou glimlag nie. Toe giggel sy terwyl eers Zaakirah, en toe Jaydon en selfs konstabel Dirks haar drukkies gee.

“Kan ons haar partykeer kom visit?” vra Kiara, terwyl sy afkyk na Kettinghond, wat hulle dophou en haar ore spits.

“Natuurlik,” sê konstabel Dirks. “Om die waarheid te sê, kan julle kinders my dalk help met iets. Ek kan net nie aan ’n goeie naam vir haar dink nie. Weet jy wat haar naam was?”

Hy kyk na Kiara met sy wenkbroue gelig. “Nee,” sê Kiara. “Ek weetie wat haar naam was nie. Maar konstabel Dirks kan haar ’n nuwe een gee, nè?

“Sekerlik,” sê die polisieman. “Maar ek is nie goed met daardie soort ding nie. Wat moet ek haar noem?”

“Officer Dirks kan haar Killer noem,” sê Zaakirah. “Of dalk Fang? Of … dalk Grizzly. Soos die beer, jy weet.”

“Wat van Rex?” sê Jaydon.

“Maar dis ’n seunsnaam!” lag Zaakirah.

“Wel,” sê Kiara. “Ek dink…” sy aarsel. Wat sou ’n goeie naam wees vir die hond wat haar gered het, wat haar ou lewe agterlaat en na ’n nuwe huis gaan?

“Ek dink,” sê sy uiteindelik, “jy moet haar Soetlief noem.”