Dit was baie laat die Vrydagaand voor Kiara kon uitglip sonder dat haar ouma agterkom. ’n ’n Deel van haar het gehoop iets sal verkeerd loop sodat hulle die plan om Kettinghond te red sal moet afstel. Maar sover het alles presies gebeur soos dit voorspel is. Sy het gekyk toe die gêng die honde uit die hokke in bakkies en karre gelaai het, en weggery het met ’n getoet en geskree. Sy het gesien dat hulle Kettinghond nie saam gevat het nie, maar haar gelos het, soos altyd vasgeketting in die jaart.

Nou loop Kiara vinnig in die donker straat af na die hoekkafee, waar Jaydon en Zaakirah afgespreek het om haar te ontmoet. Dit was ’n verligting om die twee van hulle te sien, die een klein, die ander so lank, waar hulle vir haar wag in die lig wat by die kafee se deur uitskyn.

“Haai!” sê Zaakirah. “So jy het OK weggekom? Is dit nie great nie?”

Kiara kon sien Zaakirah is baie opgewonde. Haar oë blink en sy bons op haar tone, asof sy gereed is om te begin rondspring.

“Haai, Kiara,” sê Jaydon in sy gewone rustige manier. “Is hulle weg?”

“Ja,” sê Kiara. “Ek dink hulle het omtrent allie honde in die hokke gevat. Maar nie vir haar nie. Sy is steeds gechain naby die hek.”

“Fantasties,” sê Zaakirah. “Dit is so cool. OK. Kom ons gaan.”

“Kom ons run net eers weer deur ons plan,” sê Jaydon.

Twintig minute later wys Kiara vir Zaakirah die pad wat sy gevolg het toe sy van Marky en sy vriende weggehardloop het. Hulle het besluit dit is die veiligste roete – niemand sal hulle sien ingaan op daardie stil plek nie. Hulle het ook afgespreek dat dit die twee meisies moet wees wat in die gênghuis se jaart moet ingaan en die hond bevry. Jaydon sal buite bly, om kywie te hou en vir hulle te wag by die hek.

“Iemand moet buite bly om hulp te soek as enigiets verkeerd gaan,” sê Zaakirah. Maar die werklike rede is dat Jaydon eenvoudig te groot is om deur die gaping in die hek te pas – die een wat hulle sal gebruik om uit die jaart te kom.

Jaydon laat hulle wag tot hulle sien die wag gaan terug in die huis in. As hy by die patroon hou wat Kiara uit haar venster gesien het, sal dit ten minste nog twintig minute neem voor hy weer sal uitkom. Nou lei Kiara vir Zaakirah op die roete wat sy gevolg het toe sy weggehardloop het van Marky. Alles lyk baie anders in die donkerte.

“Jy’s seker dis die regte pad?” vra Zaakirah in ’n stem wat hard genoeg is dat Kiara ineenkrimp.

“Sjj! Zaakirah, please. Netnou hoor iemand ons,” fluister sy.

“O. Sorrie,” fluister Zaakirah, steeds te hard na Kiara se sin.

Zaakirah kan dood eenvoudig nie lank stilbly nie. Nie lank nie, of sy praat weer. “Sjoe,” sê sy. “Dit stink hier. Moes onsie regs gedraai het daar agter nie? Ek is seker ons is op die verkeerde pad. Miskien kan ons net–“

Net toe sien Kiara die muur. Die maanlig glinster op die gebreekte glas bo-op die muur.

“Nee, hier’s dit,” fluister sy. Sy hoop Zaakirah hoor nie die vrees in haar stem nie. Sy sluk, haar mond droog. Wat sy eintlik wil doen is om die hele ding af te stel, en terug te gaan na haar warm, veilige bed. “Ek sal eerste oorgaan, OK?” sê sy, en kry ’n greep op die growwe klippe.

Dit is baie moeiliker om nou oor die muur te kom. Die vorige keer was sy paniekerig, en vrees het haar krag gegee. Nou moet sy haarself bo-oor trek, terwyl sy verwag dat iemand enige oomblik gaan skree en ’n lig op haar skyn. Uiteindelik is sy aan die anderkant van die muur, besig om te kyk hoe Zaakira haarself laat sak om by Kiara aan te sluit.

“So far so good,” fluister Zaakirah. “Lyk of hulle al die honde saamgevat het.”

Inderdaad, soos die meisies verby die ry hokke loop, staan een na die ander leeg, sommige met hul deure oop. Toe stop Zaakirah skielik en Kiara loop amper in haar vas.

Daar is ’n hond in een van die hokke. Kiara kan die lig sien glinster in sy oë, en hoor die gekrap van sy naels toe hy opstaan. Sy maak haar oë oop, verwag dat ’n geblaf uitbars wat die wag se aandag op hulle sal vestig. Maar in stede daarvan hoor sy die geritsel van plastiek. Sy maak haar oë oop en sien hoe Zaakirah iets kleins uit haar sak haal.

Kiara kan die hond hoor ruik, die gerommel van sy grom. Tot Kiara se verbasing tree Zaakirah nader aan die hok, terwyl sy die voorwerp voor haar hou. Kiara kan nie uitmaak wat dit is nie. Soet honne.”

Die selfversekerde klank van Zaakirah se woorde kalmeer die hond blykbaar en hy snuif harder. Dan is Zaakirah reg teen die hok en druk sy die voorwerp deur die draad, reg in die hond se mond.

“Been,” fluister sy aan Kiara toe sy terugtree en haar hande aan haar jeans afvee. “Dit behoort hom stil te hou.”

En dit is waar. Nou kan hulle net die gekraak hoor soos die hond die been kou.

Hulle loop saggies aan. Hulle kan die jaart nou sien waar Kettinghond na hulle staan en kyk. Agter die hond kom daar lig uit die gênghuis se venster: die blou, flikkerende lig van ’n televisie.

Goed, dink sy. Hy sal nie veel kan hoor met die TV aan nie.

Maar die gekraak van hul voete op die gruis klink steeds vir haar baie hard. Kettinghond is op haar voete, haar kop op, besig om die twee meisies dop te hou. Zaakirah het nog ’n been in haar hand.

“Soet honne,” sê sy. “Jy gaan nou stil wees, nè? Hier is ’n lekker been vir jou.”

Kettinghond lyk groter as ooit en Kiara kan nie help om te dink wat sal gebeur as daardie sterk kake een van hulle sou beetkry nie. Die hond is beslis nie geïnteresseerd in die been nie. Sy kyk van Kiara na Zaakirah en terug, haar oë glinsterend in die lig van die straat buite.

“Jy gaan my moet help,” sê Zaakirah. “Hier is die collar en leash. Sit jy dit vir haar aan. Ek sallie ketting sny.”

Voor Kiara kan protesteer, druk Zaakirah die halsband in haar hande en haal die boutsnyer uit haar sak.

As die hond hulle wou aanval, sou sy dit al gedoen het, sê Kiara vir haarself. Kyk hoe kalm staan sy daar. Sy sal my nie seermaak nie. Al wat ek moet doen is om hierdie halsband om haar nek te sit.

Lam van vrees stap sy tot by die hond. Zaakirah is klaar besig met die ketting, vloek saggies. Kiara moet gou maak as sy die halsband betyds wil aankry. Sy haal bewerig asem en hou die halsband uit na die hond se gesig. Tot haar verbasing druk Kettinghond haar snoet deur die halsband asof sy presies weet wat Kiara wil hê.

Eers dink Kiara die halsband is te klein, maar dan glip dit oor die hond se breë kop en gaan sit om haar nek.

Die saggeaarde manier waarop die hond die halsband aanvaar, is gerusstelend. “Soet honne,” fluister Kiara. Kettinghond draai haar kop en ruik aan Kiara se hand, raak saggies daaraan met haar neus en lippe.

Kiara beweeg haar hand stadig om Kettinghond se kop te streel, laat haar vingers oor die verflenterde ore beweeg.

Hoe sag is haar ore nie, dink sy.

Toe is daar ’n skerp klingelgeluid en Zaakirah kom orent. “Raait!” sê sy. “Done! OK, Kiara?”

“OK,” fluister Kiara. “Kom ons waai.”

Sy was bekommerd gewees dat Kettinghond nie saam met hulle sal wil gaan nie, maar sy hoef nie eens te trek aan die leiband nie. Die hond loop heel gehoorsaam saam met haar, wag terwyl sy deur die gaping in die hek beur en volg haar.

Dis asof sy weet ons wil haar help, dink Kiara. Dan gil sy amper soos sy skrik toe iemand uit die skadu tree.

“Dis ekke,” sê Jaydon. “Het julle haar?”

“Ja, lag Zaakirah. “Jaydon, ek het my amper natgemaak!”

“Kom ons move,” sê Jaydon, en die vier van hulle, die drie tieners en die hond, hardloop in Esther-straat af. Kiara verwonder haar steeds oor hoe gehoorsaam Kettinghond haar volg. Sy is seker die hond sou naby haar bly self al haal sy die leiband af.

Hulle hardloop al die pad tot by die speelpark en stop dan daar, laggend en uitasem.

“Wat nou?” sê Kiara toe sy haar asem terugkry. “Wat doen ons nou met haar?”

Hulle hou op lag en staar na mekaar. Dit is die een ding wat hulle nie beplan het nie.

“Ek kan haar nie huis toe vat nie. Ons bly in ’n flat,” sê Jaydon. “En my ma sal crazy raak. Kan jy haar nie vattie, Zaakirah?”

“No ways!” sê Zaakirah. “My honde sal haar doodmaak. Of,” sê sy, tewyl sy na die groot hond kyk, “actually sal sy hulle doodmaak. Anyways, ek bly heeltemal te naby aan daai plek. Die gêng sal haar in ons jaart sien en haar net terug vat. Of op ons kom revenge vat.”

Kiara voel asof iemand ’n emmer yswater oor haar uitgegooi het. Hoe kon hulle so stupid gewees het? “Ek kan haar ook nie vat nie,” stotter sy. “Ons bly ook in ’n flat. En my ouma…”

Hulle staan daar, kyk na die hond, wat terugkyk.

Wat het ek gedink? wonder Kiara. Sy lyk so vol vertroue.

Zaakirah begin iets sê, maar op daardie oomblik kom ’n polisievan om die hoek gekruie, met die draaiende lig wat blou glim oor die swaaie en bankies in die park. Die drie van hulle word verblind deur die kopligte, en dan, toe dit nader kom, ’n kollig wat reg op hulle skyn.

“Bly waar julle is!” sê ’n harde stem. “Wat gaan daar aan? Hou julle hande op sodat ek hulle kan sien. Moenie beweeg nie.”

’n Deur slaan toe die polisieman uitklim, maar Kiara is verblind deur die kollig en kan nie sien nie.

Wat sal Ouma sê, wonder sy paniekerig, as ek gearresteer word omdat ek ’n hond gesteel het?

***

Vertel ons: Het jy al ooit iets gedoen al is jy baie bang, soos Kiara toe sy die halsband aan die hond gesit het? Wat was dit?