Terwyl Zaakirah se vinger die deurklokkie van die gêng se huis druk, hardloop Jaydon tot reg agter haar. Hy sê nie ’n woord nie, gryp haar net aan die arm en sleep haar weg, terwyl hy vinnig in die straat af stap met Kiara kort op hulle hakke.

“Wag! Wa–“ Zaakirah probeer losruk. “Jaydon, los my, jou vark! Los my!”

Maar die seun loop net vinniger, tot hulle almal veilig om die hoek en buite sig van die deur is. Toe los hy Zaakirah se arm.

“Is jy crazy? Wat de hel is fout met jou!” raas Zaakirah, terwyl sy haar arm vryf. “Nou gaan ek ’n bloukol daar hê.”

Kiara moet glimlag. Zaakirah is klein, maar in hierdie bui is sy so vurig dat dit nie regtig saak maak dat Jaydon twee keer so groot soos sy is nie. En dit lyk nie asof Jaydon omgee nie. Hy gee net pad toe sy ’n hou na hom mik, asof hy heeltemal gewoond is aan haar humeur.

Zaakirah se vlegseltjies kom los uit haar poniestert, en sy pluk die rekkie af.

Toe sy sien Jaydon gaan niks sê nie, praat Kiara. “Wat was jy van plan om te sê? Virie ouens daarbinne?”

Zaakirah stryk haar hare glad na agter in ’n netjiese poniestert in. Sy lig haar skouers en praat deur die rekkie tussen haar tande. “Ek wetie. Ek sou seker sien wat hulle te sê het? Jy het gesê ons moet meer oor hulle uitvind.”

“Ons kan dit nie so doen nie,” sê Kiara. As ons rêrig daai hond wil help, sal ons dit versigtig moet doen. Alles uitvind wat ons kan, maar sonder dat die mense daarbinne daarvan weet.”

Jaydon knik. “Sy’s reg,” sê hy.

“Dis seker so,” sê Zaakirah onwillig. “Maar hoe gaan ons dit doen?”

“Planning,” sê Jaydon, en Zaakirah rol haar oë.

Jy wil ook altyd ’n plan hê,” sê sy. “So. Wat’s die plan?”

Hulle kry ’n plek in die speelpark waar hulle kan praat sonder dat ander hulle kan hoor. Kiara kan nie help om seker te maak Marky en sy vriende is nie daar rond nie, maar alles is OK. Hulle is heeltemal alleen in die park.

Nadat hulle ’n ruk daaroor gestry het, kom hulle met ’n plan vorendag. Jaydon het daarop aangedring dat hulle ’n lys moet maak van die probleme wat hulle moet oplos. Hulle het dit gedoen, en nou lees Zaakirah dit hardop.

“Een. Om in daai plek in te kom sonner dat die gêng weet ons is daar. OK, Jaydon, ek vang dit.” Jaydon het ’n groot punt gemaak oor hoe gevaarlik dit is om op enige manier die gêng se aandag te trek. “Twee. Ommie ketting van die hond af te kry sodat ons haar kan wegvat. En drie, ommie hond daar weg te kry sonner om gevang te word. Ek het ’n idee daaroor.”

Jaydon kyk na haar.

“Ons het twee honde,” verduidelik Zaakirah. So ons het baie collars en leads en goed wat rondlê. Ek kan maklik ’n collar en lead kry. Dit sal dit baie makliker maak om die hond weg van die property te kry.”

“Is jy nie bang sy sal jou byt nie?” vra Kiara.

“Sy’t jou nie gebyt nie, het sy?”

“Nee, sê Kiara, maar voel nie juis oortuig nie. Net omdat sy jammer voel vir Kettinghond, beteken dit nie sy is nie bang vir haar nie. Die hond sal tog nie weet waarom hulle daar is nie. Sy sal nie weet hulle wil haar help nie. Miskien sal sy dink hulle is inbrekers. Om die waarheid te sê, noudat Kiara daaroor dink, gaan hulle inbrekers wees. Hulle gaan die hond steel.

Maar Jaydon praat weer. “Kiara,” sê hy. “Jy het ons vertel jy kannie gêngsterhuis se jaart van jou venter af sien. Issit waar?”

“Ja.”

“Wel, dan sal jy ons master spy moet wees. Vamiddag en vanaand moet jy uitkyk en kyk wat jy kan sien. Of hulle enige guards het, watter tyd die honde gevoer word … daai soort ding. OK?”

Kiara knik, baie in haar skik. Jaydon praat so ernstig met haar, asof hy omgee oor haar opinie. Sy hou van die gevoel.

“Wel, ek moet nou waai,” sê Zaakirah. “Sien julle ouens môre by die skool.”

Jaydon val ook in die pad, in ’n ander rigting. Toe hulle weg is, kan Kiara nie help om te wonder oor hulle nie. Is hulle boyfriend en girlfriend? Dit lyk nie so nie. Hulle soen nooit nie, vat nooit aan mekaar nie, glimlag nie vir mekaar op daardie manier nie. Maar dan was sy nog nooit goed daarmee om daardie soort ding te te weet nie.

Die volgende dag by die skool ontmoet hulle pouse om notas te vergelyk. Jaydon het vir ’n verandering baie om te sê.

“Gister het ek bietjie gaan rondhang. By die corner shop, jy weet, en by daardie gat-in-die-muur-plek waar jy bier kan koop. Daar’s altyd ouens wat daar rondhang en grootpraat.”

“Het jy enigiets useful gehoor?” vra Zaakirah. Kiara kan nie help om te sien sy het ’n lang voorwerp toegedraai in koerantpapier wat uit haar skoolsak steek nie.

“Ek het,” sê Jaydon. “Jy weet mos ons het gepraat oor die dog fights? Wel, die ouens het net oor een ding gepraat. Dog fights. Lyk my daar gaan ’n event wees hierie volgende Vrydagaand. ’n Groot fight. Top honde van orals af. En hulle sê die ouens van daai huis, die gêngsterhuis, het almal honde in hierie fight. Hulle het daaroor geboast.

“Hou hulle die fight daar?” vra Zaakirah. “Ek meen, dis illegal, issit nie? Sallie cops nie involved raak nie?”

Jaydon skud sy kop. “Nee. Nie daar nie. Ek wetie waar die fight sal wees nie; hulle het nie gesê nie. Maar dit makie saak nie. Die kans is dat, as hulle hierie fight gaan hê, sal hulle almal uit die huis wees hierie Vrydag.”

“So dit sal ons kans wees!” sê Zaakirah. “Maar sal hulle nie die hond wil saamvat nie?”

Jaydon trek sy skouers op. “Hulle mag dalk. Maar ek dinkie hulle sal nie. Ek dink hulle laat net die males fight. En sy is in so ’n slegte condition.”

“So ons kan inglip terwyl hulle weg is,” sê Zaakirah. “Dit behoort easy te wees. Het jy enigiets uitgevind, Kiara?”

Kiara knik traag. Sy het die vorige aand die gêngsterhuis dopgehou, nes Jaydon haar gevra het. Hoe langer sy gekyk het, hoe meer het sy gewonder oor wat hulle beplan om te doen. Dit het na so ’n wilde plan gelyk.

“Ek het gekyk,” sê sy. “Hulle voer die honde omtrent sesuur innie aand. Dan is daar ’n ou wat elke nou en dan uitkom en dan agter rondcheck, seker maak dat die hek toe is, daai soort ding. Hy kyk selfs agter die bins.”

“’n Guard!” sê Zaakirah. Die nuus lyk nie of dit haar ontmoedig soos Kiara gedink het dit sou nie. Dit lyk of sy actually dink dit is opwindend.

“Het jy gesien hoe regular hy uitkom?” vra Jaydon.

“Ek het,” sê Kiara. “Hy kom nooit meer gereeld uit as een keer elke halfuur nie. Soms wag hy ’n uur of meer. En dan spandeer hy omtrent vyf minute om rond te loop en te check. En na omtrent elfuur kom hy minder gereeld uit.”

“Goeie werk!” Jaydon reik uit en tot Kiara se verleë plesier, slaan hy haar liggies met die vuis op haar skouer. “Dis wat ek spying noem!”

“Wag tot jy sien wat ek het,” sê Zaakirah, terwyl sy haar sak oopmaak en die lang pakkie uittrek wat Kiara vroeër gesien het. “Ek het hierie uit my pa se garage gesneak. Hy sal my doodmaak as hy weet…”

Sy draai ’n deel van die papier af, en Kiara sien iets wat lyk soos ’n langsteeltang met snylemme.

“Bolt cutters!” sê Jaydon. “Daai lyk mean.”

“Ja,” sê Zaakirah en draai die papier weer selftevrede om die boutsnyers.

“Hierdie sal deur die ketting sny, of selfs deur die fence wire, as ons moet. Hulle is superskerp en baie sterk. Die regte tools vir ’n dief.”

Kiara staar na haar. Dief se tools. Waarmee is hulle betrokke? Jaydon en Zaakirah dink blykbaar dis ’n speletjie. Maar is dit wat hulle beplan om te doen nie verkeerd nie? Hulle gaan ’n hond steel.

Maar as hulle nie Kettinghond daar uitkry nie, is Kiara seker sy sal nie lank leef nie. As die gêng haar nie doodmaak die volgende keer wat hulle haar slaan nie, sal sy van honger doodgaan, of siek word omdat sy koud en half uitgehonger is. Dis sekerlik reg om haar te probeer help?

Dan kom haar twyfel weer terug. Sy moes nooit hierdie ding begin het nie. Daar is te veel dinge wat verkeerd kan gaan. Wat as die gêng hulle vang? Wat as Jaydon of Zaakirah seerkry?

Aan die ander kant, wat as die gêng nie vir Kettinghond agterlaat nie, wat as hulle haar saamvat na die geveg, of as sy daar seerkry of selfs doodgemaak word?

Kiara kyk terwyl Zaakirah die boutsnyers terugsit in haar sak. Sy ril, en wonder wat maak haar banger: die gedagte om die hond te steel, of die kans dat die hond dalk nie eens daar sal wees wanneer hulle probeer om haar te steel nie?

Sy wens sy kon seker wees sy doen die regte ding.