Kiara kyk wild rond. Oomblikke gelede was al waaraan sy kon dink om weg te kom van Marky en sy twee vriende. Sy kan steeds die drie van hulle vir mekaar hoor skree aan die anderkant van die muur. Maar die vrees wat haar die krag gegee het om van hulle weg te hardloop, slaan nou haar asem weg.

Daar is geen twyfel nie. Dit is die gêngsterhuis in Esther-straat.

Sy hurk op die vuil sement, te bang om te beweeg. Oral om haar is daar hondehokke en die honde is reeds besig om te blaf en te knor, sommige van hulle besig om die ogiesdraad van hulle hokke te byt. Kiara kyk in afgryse hoe die hond in die hok naaste aan haar homself teen die draad gooi en in woede daarna byt. Sy weet nie baie oor honde nie, maar sy weet genoeg om hierdie een se soort te herken. ’n Vegbulterriër, ’n pit bull.

Die hond se tande flits terwyl dit blaf, aanhoudend, die geluid so hard dat Kiara haar hande oor haar ore wil druk.

Ek moet hier uitkom, dink sy paniekerig. Selfs al kry die honde my nie, wat van die mense wat hier woon? Die gêng?

Sy kyk op na die muur. Selfs al kon sy die krag bymekaarskraap om dit weer uit te klim, wag die ouens vir wie sy weggehardloop het heel moontlik nog vir haar daar. Sy sal op ’n ander manier moet uitkom.

Met haar skooltas vasgeknyp voor haar loop sy vinnig voor die ry hokke af met bewende bene. Ten minste is daar nog niemand buite nie, maar Kiara is seker dit sal nie lank so bly nie. Iemand sal uitkom om te sien waarvoor die honde so blaf.

Die hek, dink sy. Sy het dit dikwels genoeg gesien wanneer sy in Esther-straat afgeloop het. ’n Half gebreekte hek met ’n gaping langs die muur. As sy net daarby kan uitkom, is sy seker sy sal deur die gat kan uitbeur.

Sy bereik die einde van die ry hokke en kyk senuagtig verby dit, uit oor die werf en verder. Daar is die hek. Sy kan selfs ’n stukkie van Esther-straat sien aan die anderkant. Maar plaas dat sy na die hek hardloop, staan Kiara net waar sy is, en staar.

Sy het vergeet van Kettinghond.

Kettinghond, die hond wat nie in ’n hok is nie. Die een hond wat altyd daar is, by die hek sit. ’n Ketting sleep van die hond se halsband tot agter by die huis. Die ketting is baie lank. As hy wil, kan die hond baie maklik by haar uitkom.

Vir ’n lang ruk staan Kiara en bewe, skaars in staat om asem te haal. Daar is geen kans om verby die hond te glip nie. Dit het haar klaar gesien. Maar dit blaf nie soos die honde in die hokke agter haar nie. Dit staan, kop opgelig, ore gespits, en kyk reguit na haar.

Kettinghond lyk selfs groter as tevore. Sy gesig is oortrek met baie littekens, en Kiara kan die glinstering van tande tussen sy lippe sien. Hy lig sy kop en snuif, ruik die lug.

Toe skree ’n stem van die huis af. Die honde agter haar maak soveel geraas dat Kiara nie die woorde kan uitmaak nie, maar die klank van daardie stem laat haar bloed stol. ’n Man se stem. Grof en kwaad.

Sy onthou al die stories wat sy gehoor het oor die gêng wat hier bly. Wat het haar ouma oor hulle gesê?

“Hulle is wreed, daardie mans. Hulle het geen genade nie. Hulle sal vat wat hulle wil hê, maak nie saak watter skade hulle doen nie. Dit is die beste om ver van hulle af weg te bly, en om niks te doen wat hulle aandag trek nie.”

En hier is sy. Kiara probeer nie dink oor wat mans soos daardie sal doen aan ’n meisie wat hulle alleen in hul eie agterplaas vind nie…

Moenie paniekerig raak nie, sê sy vir haarself. Hulle het my nog nie gevang nie. Al wat ek moet doen is om by daardie hek uit te kom.

Sy kyk rond in die werf. Die ry asblikke met wieletjies staan naby die hek. As sy net daar kan uitkom, kan sy agter die asblikke wegkruip en al langs die muur beweeg tot by die hek. Maar om daar uit te kom, moet sy verby Kettinghond gaan.

’n Deur klap binne die huis en Kiara weet sy het nie meer baie tyd nie.

As ek hardloop gaan die hond binne sekondes op my wees, dink sy. Daar is geen manier hoe ek vinniger kan hardloop as daai ding nie.

Treetjie vir treetjie loop Kiara nader en nader aan die asblikke, en ook nader aan die hond.

Haar hart klop in haar borskas, haar bene voel lam. Elke oomblik verwag sy dat die hond haar gaan bespring, haar gaan gryp met daardie kragtige kake…

Maar Kettinghond kyk net na haar, draai sy kop om haar te volg terwyl sy stadig die werf oorsteek.

Amper daar. Sy strek ’n hand uit, een vingerpunt raak aan ’n asblik. Toe verloor sy haar moed en beweeg vinnig, druk haarself agter die asblik in, ignoreer die suur stank van die rommel.

Net betyds.

Net toe sy hurk agter die ry asblikke, klap ’n deur en hoor Kiara die geknars van voetstappe op die gruis.

“Sjarrap! Bly stil!”

Die man praat sleeptong, asof hy gedrink het. Hy vloek op die honde, en een vir een hou hulle op blaf. Nou hoor Kiara sy voetstappe duidelik. Hulle kom nader en nader aan haar wegkruipplek.

“Wat’s jou case, jou lelike bitch?”

Vir ’n oomblik dink sy die man het haar gesien, dat hy met haar praat, maar dan besef sy hy praat seker met Kettinghond.

Kiara knyp haar oë toe en hou haar asem op, luister met al haar mag. Wat is daardie geluid? ’n Lae gerommel, wat styg tot ’n gegrom. Kettinghond is besig om te grom. Die geluid is so naby dat sy die rasperklank hoor elke keer wanneer die hond inasem, die klingel wanneer haar ketting beweeg.

“Wat de hel is met jou vekeerd, jou rubbish?”

Tot Kiara se verbasing, klink die man senuagtig. Die hond grom nie vir haar nie, besef sy. Dit grom vir hom.

Ag, asseblief laat hy net weggaan, dink sy. Laat hy net weggaan…

“Ag, vergeet dit.” Die man vloek en spoeg. En tot haar onuitspreeklike verligting, hoor sy sy voetstappe wegraak en die deur klap.

Ek moet nou uitkom, sê sy vir haarself. Ten minste het die hond opgehou grom. Sy loer uit tussen die asblikke. Die hond het omgedraai om na haar wegkruipplek te kyk. Kiara wag dat hy weer begin grom, maar in plaas daarvan gee die hond ’n sug en gaan lê, met sy kop op sy pote.

Kiara staar verbaas na die hond. Nie net omdat Kettinghond blykbaar nie belangstel om haar aan te val nie. Dit is oor die ry geswelde spene op die hond se maag. Kettinghond is nie ’n hy nie, sy is ’n sy. En daardie spene wys dat sy nie te lank gelede nie kleintjies gehad het.

Stadig staan Kiara op, op die uitkyk vir enige teken van agressie van die hond af, maar Kettinghond hou haar net stil dop.

Sy het my beskerm, besef Kiara. Sy weet waar ek weggekruip het, en sy het daar gaan staan en die gêngster laat weggaan.

Die gedagte laat haar opnuut na die hond kyk. Sy sien hoe maer sy is, en die vars merke en snye op haar wat oor die ou littekens lê.

Hulle slaan haar, besef sy. En wat het hulle met haar kleintjies gemaak?

Net ’n paar treë toe is Kiara by die hek. Binne ’n oomblik het sy deur die gaping tussen die hek en die muur gebeur. ’n Vinnige blik op en af in die straat wys haar dat alles veilig is, en na ’n laaste kyk na Kettinghond, wat haar steeds doodstil lê en dophou, hardloop Kiara die res van die pad huis toe.

Later daardie aand, toe sy in haar ouma se kombuis staan, kyk Kiara by die venster uit na die agterjaart van die gênghuis. Selfs in die donker kan sy net-net die hond uitmaak waar sy naby die hek lê.

Hulle gee nie eens vir haar ’n kombers om op te lê nie, dink sy. Ek wonder hoekom sy my gehelp het? Miskien het sy aan iemand anders behoort, voor die gêng haar gekry het. Hulle steel mos honde, nie waar nie?

Vir ’n lang ruk staan Kiara en kyk na Kettinghond, en dink hoe koud dit daar buite op die gruis is, wonder of sy honger of dors is. Wonder wat met haar kleintjies gebeur het.

En stadig maar seker, amper sonder dat sy dit besef, maak Kiara ’n besluit.

Sy weet nie hoe sy dit gaan doen nie, of wie haar gaan help nie. Maar op ’n manier moet sy vir Kettinghond red.