Kiara Arendse staan by die skoolhekke en huiwer. Die son is besig om te sak en as sy nie vinnig maak nie, gaan dit donker wees teen die tyd dat sy by die huis aankom. Sy ril in die koue wind en trek haar dun skooltrui om haar. Sy gaan laat by die huis kom en haar ouma sal raas, die feit dat dit haar idee was dat Kiara na skool moes bly vir ekstra wiskundeklasse vergete.

Maar dit is nie die gedagte aan haar ouma se humeur wat Kiara se hart so vinnig laat klop nie. Dis iets anders wat haar senuweeagtig op en af in die straat laat kyk voor sy by die hek uitloop.

Dis die vrees om hulle te sien. Marky en sy vriende. Kiara is seker die drie van hulle is ouer as negentien, al kom hulle steeds skool toe as dit hulle pas. En hulle het onlangs aan haar begin aandag gee. Staar na haar met uitdagende oë. Roep agter haar aan as sy verbyloop, stamp haar per-ongeluk-aspris. Vat aan haar arm. Sê haar naam.

Kiara is te verleë om iemand te vra om te help. Marky en sy vriende het tog niks verkeerd gedoen nie. Hulle het net met haar gepraat, of vir haar gekyk op ’n manier waarvan sy nie hou nie. En vir wie kan sy vertel? Sy is nog steeds die nuwe meisie in die skool, die een wat geen vriende het nie.

Kiara word weer oorweldig deur verlange na die huis. Haar regte huis. Nie die woonstel hier in Wynberg wat sy met Ouma deel nie, maar die huisie aan die Natalse kus. Sy mis die warm Durbanse see, die getjirp en piep van vrugtevlermuise wat hierdie tyd van die dag sal rondvlieg. Hier in Kaapstad is daar net vuil duiwe en nou en dan ’n seemeeu wat krys terwyl dit in die nimmereindigende wind in sweef. Dis waar dat die huisie oorvol was, die skool verwaarloos en arm, maar ten minste het sy almal geken. Hierdie nuwe skool hier in Wynberg is so groot dat Kiara nie eens naastenby al die kinders in haar eie ouderdomsgroep, graad tien, ken nie.

“Jy moet jou vriende oornooi,” het Ouma nog daardie selfde oggend gesê. Maar watter vriende? Kiara dink aan die luidrugtige, wilde tieners wat deur die skoolgange en klaskamers storm en stamp. Die meisies in haar klas het klaar hul groepies. Daar is nie plek vir haar, die nuweling, nie. Geen kans om vriende te maak nie. Om nie van die seuns te praat nie…

Kiara hys haar skooltas hoër teen haar skouers op en stap uit in die pad. Haar skaduwee strek lank voor haar uit in die lig van die sakkende son. Sy sal regtig moet opskud om voor donker by die huis te kom. Sy sê vir haarself dit is belaglik om ’n paar boelies toe te laat om haar bang te maak. Marky en sy vriende hang altyd by die winkel op die hoek uit. Al wat sy moet doen is om ’n ander pad huis toe te kies.

Nie deur Esther-straat nie, herinner sy haarself. Ek sal twee blokke ondertoe loop en dan by die klein speelparkie oorsteek.

Esther-straat is die vinnigste roete huis toe. Maar Esther-straat is ook waar die “gêngsterhuis” is en Kiara is net so bang daarvoor soos vir Marky. Ouma het haar vertel van die gêngsterhuis. Sy sê die mense wat daar bly is wrede misdadigers wat geen genade vir hul slagoffers en geen vrees vir die gereg het nie.

Die gêngsterhuis lyk beslis soos ’n slegte plek. Dit is omring met hoë mure met gebreekte glas bo-op en bedek met graffiti. Dit is naby die blok woonstelle waar Kiara saam met haar ouma bly. So naby dat Kiara tot in die gêngsterhuis se agterjaart kan sien as sy by haar ouma se kombuisvenster uitkyk. Dit is hoe sy weet van die rye en rye hokke daar, elk met ’n groot, lelike, blaffende hond daarin.

Kiara het stories gehoor oor hierdie honde. Sy is nie seker of al die stories waar is nie, maar hulle maak haar steeds bang. Dat elke hond ’n afgerigte moordenaar is, bloeddorstig en sterk, met lang, skerp tande en kragtige kakes wat – wanneer hulle jou eers beet het – nooit laat los nie. Hoe die gêngsters die honde vir hondegevegte gebruik en duisende rande wen of verloor deur op die wenner te wed. Dat die gêng van die lyk van ’n lid van ’n vyandige gêng ontslae raak deur sy liggaam vir die honde te voer.

Die skrikwekkendste van die honde is egter die een wat nie in ’n hok is nie. Kiara het dit gesien. ’n Groot hond, vasgemaak aan die muur van die huis met ’n lang ketting. Terwyl die honde in die hokke in die agterwerf grom, blaf, tjank en kef, maak hierdie hond nooit ’n geluid nie. Dit hou haar dop met klein swart ogies, en om een of ander rede vind sy die stil kyk maak haar baie banger as al die ander honde se geraas. Dit is ’n groot hond, lelik en swart met soveel tande dat sy lippe nie daaroor kan sluit nie. Sy gesig is vol littekens, een oor verflenter, en die hond se nek so dik van die spiere dat Kiara nie glo die ketting is sterk genoeg om hom te keer indien hy sou besluit om haar te storm nie.

Kiara het selfs ’n naam vir hierdie hond. Sy dink aan hom as die Kettinghond.

En Kettinghond is die rede waarom Kiara te bang is om in Esther-straat af te stap, selfs al is dit die kortste pad huis toe. Sy is seker dat die hond een dag op haar gaan afstorm deur die half gebreekte hek. Dit is hoekom Kiara nou ’n ander roete huis toe kies, terwyl sy vinnig weg van die skool af stap.

Om te stap laat haar beter voel; warmer en meer selfversekerd. Sy begin selfs dink oor die aandete wat Ouma vir haar gereed sal hê. Sy was simpel om so bang te wees. Hierdie roete verby die speelpark is ’n goeie een, en sy sal binnekort veilig by die huis wees.

Kling.

Die geluid trek Kiara se aandag. Daar is iemand daar, agter in die speelpark, waar die muur ’n skadu gooi.

Kling.

Iemand hou haar dop, sy is seker daarvan. Sy snak na haar asem toe ’n lae fluit deur die lug klief en drie jong mans vorentoe tree in die geel gloed van die sakkende son. Marky en sy vriende. Al drie van hulle is daar. Hulle glimlag toe hulle haar sien en sy dink dat hulle soos honde lyk, soos hiënas, soos wolwe wat hul prooi raakgesien het en op die punt is om dit te begin jag.

“Haai, sweetness.” Dit is Marky. Hy is die grootste van hulle. Hy dra ’n skooluniform, maar sy wange is donker van die baardstoppels. “Probeer jy ons avoid, girltjie?” vra hy in ’n lae stem. Sy glimlag bereik nie sy oë nie.

“Kom hier, girtjie,” sê een van die ander. “Kom speel ’n bietjie, komaan.” Kiara se bloed stol in haar are toe hy ’n mes laat flits.

Sy draai om en hardloop. Iemand skree en dan is daar voetstappe, naby, so naby agter haar, hard, selfs bo die gehyg van haar eie asem. Sy hardloop. Om die hoek, in ’n smal straat af en dan nog een. Haar swaar skooltas hop op haar rug, die pyn van miltsteek boor in haar ribbes in, maar sy hardloop so vinnig as wat sy kan, ignoreer die pyn.

Hier is ’n gaping in die muur. Kan sy deurpas? Sy druk haarself deur die opening, huilend van vrees. Hoekom help niemand nie? dink sy. Waar is almal?

Sonder waarskuwing vou iets nats om haar. Dit neem haar ’n oomblik om te besef dat sy in iemand se wasgoeddraad vas gestrompel het, en kosbare oomblikke word verspil terwyl sy stoei om los te kom van die klammerige, klouende lakens en hemde.

“Waa hettie klein bitch heen gegaan?”

Kiara kyk vol vrees om. Dis is Marky se stem.

Sy begin weer hardloop, spring oor ’n lae muur in ’n stegie in. Iets word papgedruk onder haar voete en sy ruik die stank van rommel. Geen tyd om te wonder waar sy is nie. Daar moet ’n pad hier uit wees, dink sy nou paniekerig. Ja – daar is dit, ’n muur, nie so hoog soos die res nie. Dit het stukkende skerwe glas orals bo-op, maar op een plek, naby die hoek, is daar ’n stuk waar die gebreekte glas ophou. As sy net daar bo-op kan spring—

Geen tyd om te dink nie. Doen dit net.

Klara spring, gryp die bokant van die muur, druk die punt van haar skoen in die kraak, strek, skop haarself boontoe en vind tot haar blydskap dat sy dit gemaak het: sy is bo-op die muur, hang halfpad oor. Sy gly aan die ander kant af, land so hard dat die lug uit haar longe gepers word.

En oral om haar bars die blaffende stemme van honde los. Te laat besef Kiara waar sy is, en staar om haar in afgryse.

Sy is in die agterplaas van die gêngsterhuis.