“So wat het jy by die gênsterhuis verloor?”

Kiara sit in die vierkant van haar skool, en kyk hoe die graad 8-seuns sokker speel (met ’n kosblik eerder as ’n bal). ’n Meisie en ’n seun staan daar en kyk af na haar.

“Ons het jou gesien,” sê die meisie. “Gister. Toe jy uitkom by die hek vannie gêngsterhuis. Bly jy daar?”

Kiara weet wie die meisie is. Haar naam is Zaakirah, en sy is in graad 10, in Kiara se klas, al het sy nog nooit voorheen met Kiara gepraat nie. Sy is mooi en plomp, korter as Kiara, en een van daardie meisies wat daarvan hou om haar haarstyl so gereeld moontlik te verander. Op die oomblik is dit in lang, dun vlegseltjies wat teruggebind is in ’n poniestert.

“Ek’s Zaakirah,” sê sy. “En jy’s Kayla, nè?

“Kiara,” help Kiara haar reg, en sukkel orent. Dit is die eerste keer dat ’n ander meisie met haar praat tydens pouse. Sy is nog nie lank genoeg by hierdie skool om vriende te gemaak het nie.

“O, jammer, dis reg,” sê Zaakirah. “En dis Jaydon.”

Jaydon glimlag en hou sy hand uit. Na ’n oomblik besef Kiara wat hy bedoel, en skud sy hand skamerig, los so gou sy kan. Jaydon is lank met breë skouers, en Kiara is seker hy moet baie ouer wees as Zaakirah.

“Jaydon is in graad 12,” sê Zaakirah, asof sy haar gedagtes lees. “Moenie oor hom worry nie, hy sê nie eintlik veel nie. Maar jy het nie my vraag geantwoord nie. Wat het jy in Esther-straat gemaak?”

Kiara huiwer. Sy het nie eens haar ouma vertel wat gisteraand met haar gebeur het nie. Wat sou hierdie skerp, mooi meisie en haar lang vriend van haar dink? Hoekom praat hulle eens met haar? Maar Zaakirah en Jaydon lyk so vriendelik en nuuskierig dat Kiara haar skaamheid voel verdwyn. In plaas daarvan voel sy skielik sy wil hulle beïndruk.

“Wel,” begin sy, effens huiwerig. “Julle weet daai ouens, die drie ouens wat by die corner shop uithang? Ek dink een van hulle se naam is Marky of so iets?”

“Of course!” knik Zaakirah gretig. “Daai ouens is trouble. Het hulle jou gepla?”

Kiara vertel gou haar storie. Hoe Marky en sy vriende haar senuagtig gemaak het met hulle ongewenste aandag. Hoe hulle haar gisteraand selfs gejaag het. Hoe sy in ’n poging om van hulle weg te kom per ongeluk oor die muur van die gêngsterhuis geklim het.

“Wow!” Zaakirah se oë glinster van opwinding. “Dis hectic! Wat het jy toe gemaak? Het hulle jou gevang, die tsotsis?”

“Nee, hulle hettie,” sê Kiara. “Ek het weggekruip agter ’n paar asblikke. Hulle het gestink, maar ek was so bang, ek het nie gemind nie!”

Jaydon, wat haar storie gefassineerd gevolg het, skud geluidloos van die lag.

“Maar wat van daai hond?” sê Zaakirah. “Daai hond aanie ketting? Het hy jou nie geattack nie?”

“Nee,” sê Kiara. En toe vertel sy hulle die ongelooflikste deel van die storie. Hoe die hond haar eintlik beskerm het deur te grom vir die gêngster wat uitgekom het om te kyk wat al die geraas veroorsaak het in sy jaart. “Sy het, rêrig!” sê Kiara toe sy haar nuwe vriend se ongelowige kyke sien. “Sy kon my maklik gebyt het die hele tyd wat ek daar was, maar sy hettie. Sy’t net na my gekyk.”

So dis female? Daai hond?” vra Jaydon. Dit is die eerste keer dat hy praat, en vir een of ander rede maak sy stem Kiara weer skaam.

“Ja,” sê sy, terwyl sy voel hoe haar gesig warm word soos sy bloos. “Jy sien … jy kon sien sy het kleintjies gehad, jy weet?”

Sy het spene gehad wat geswel was?” vra Zaakirah, glad nie verleë nie. “Arme ding.”

Toe lui die klok en hulle almal kyk om. “Dêm,” sê Zaakirah. “Luister, hoekom kry ons jou nie na skool nie? Dan kan ons saam met jou loop, en dan kan jy ons meer vertel. En as ons by jou is, sal Marky nie waag om jou te pla nie.”

En dit is presies wat gebeur het. Na skool daardie dag kry Kiara Zaakirah en Jaydon waar hulle buite die hek vir haar wag. Dit voel goed om saam met vriende te stap. Zaakirah lag en maak grappe, en al praat Jaydon nie juis veel nie, lyk hy geïnteresseerd in alles wat Kiara sê.

Toe hulle by die winkel op die hoek kom, sien Kiara vir Marky daar wag terwyl hy teen die muur leun en rook. Sy snak na haar asem en loop stadiger, hoop om sy oë te vermy, maar hy het haar klaar gesien.

Kiara wag vir hom om iets te sê, maar hy kyk net na haar. Sy oë gaan van haar na Jaydon en terug. Toe laat val hy sy sigaret, trap daarop, en gaan die winkel in sonder om terug te kyk.

“Jy moet my net sê as hy jou trouble gee, raait?” sê Jaydon.

Kiara knik bly.

“Kom ons loop in Esther-straat af,” sê Zaakirah, en voor Kiara kan keer, doen hulle presies dit. Nie lank nie, toe kyk hulle na die gêngsterhuis, al is hulle versigtig om aan die ander kant van die straat te bly.

“Ek het gehoor,” sê Zaakirah, “dat die ouens daarbinne van die ergste gêngsters is. ’n Ou wat ek geken het, jy weet, Brandon by die skool?”

Kiara skud haar kop.

“Wel, anyway, Brandon het my vertel hy het hier af geloop toe sien hy een van hierie ouens wat by die deur uitkom. Die volgende oomblik hou die ou nie van hoe Brandon na hom kykie en haal ’n mes uit. Wil weet wat sy case is. Brandon sê die ou het die oë van ’n corpse gehad.” Zaakirah ril. “Dooie oë, jy weet?”

Kiara kyk senuagtig na die voordeur van die gêngsterhuis. Sy wil wegkom, maar sy wil ook nie dat Jaydon en Zaakirah sien hoe bang sy is nie.

Terwyl hulle so kyk, beweeg iets agter die hek. Kettinghond loop na die hek en kyk uit na die straat.

“Daar’sit!” sê Zaakirah. “Wow. Wat ’n monster.”

Maar as Kiara nou na Kettinghond kyk, sien sy haar nie meer as ’n monster nie. Sy sien hoe haar ribbes uitstaan in haar sye en die seerplek waar die halsband haar rou geskaaf het. Sy merk op dat daar nie eens ’n bak water vir die hond is om uit te drink nie, al is die dag warm en al bak die son op die gruis in die jaart waar sy vasgeketting is.

“Ek het gehoor,” sê Jaydon saggies langs haar, “dat die mense in hierie huis ’n dog fighting ring run. Dis waavoor al daai honde in die hokke is. Hulle is fighting dogs.”

“Miskien is dit waar sy haar scars kry,” sê Zaakirah. “Laat hulle die meisiehonde ook veg?”

Jaydon trek sy skouers op. “Dinkie so nie. Maar jy kan sien dat hulle met haar breed. Miskien is die male honde rof en byt hulle haar. Of miskien kom die scars net daarvan dat hulle haar slaan.’

Zaakirah ril. “Dit is so cruel.”

“Dit is cruel,” sê Jaydon. “Dog fights is cruel.”

Kiara onthou die stories wat sy gehoor het oor hondegevegte. Dat die honde geslaan word en uitgelok word tot hulle vegmal is, en dan in die ring gegooi word sodat mense op hulle kan wed terwyl hulle mekaar in repies skeur. Dat, as ’n hond te bang is om te veg, of dit uit die ring spring om weg te kom, die eienaars die hond doodmaak. ’n Hond wat nie wil veg nie is vir hulle niks werd nie.

Skielik wonder sy wat die honde daarvan dink. Hou hulle daarvan om te veg, of doen hulle dit net omdat hulle opgelei is om dit te doen? Is ’n hond soos Kettinghond lief vir haar baas? Probeer sy hom tevrede stel, selfs wanneer hy haar uithonger en haar slaan, en haar heeldag alleen los?

Kiara voel ’n knop in haar keel. “Ek gaan daai hond daar uitkry,” sê sy, half aan haarself. “Hulle wil haar nie hê nie. Hulle dink sy is rubbish. Daar moet ’n manier wees om haar te rescue.”

“Dis great!” sê Zaakirah, dadelik opgewonde oor die idee. “Ons moet dit doen. Dink jy nie so nie, Jaydon? Sy het dan vir Kiara gered, het sy nie, daai hond? Sy verdien ’n beter lewe as dit.”

Jaydon lig sy wenkbrou vir haar. “Rêrig?” Hy draai na Kiara. “Wat’s jou plan?”

Kiara staar na hom. “Ek … ek weetie.” Sy het nie so ver gedink nie. “Ons kan seker rondvra, meer uitvind oor hierie plek?” Terwyl sy praat, vind sy sy kry meer selfvertroue. “Ons moet meer uitvind oor die mense wat daarbinne bly. Hoe baie van hulle is daar. Miskien gaan hulle partykeer uit.”

“Goeie idee!” sê Zaakirah. “Kom ons begin nou.”

En voor haar vriende haar kan keer, stap sy oor die straat tot by die voordeur van die gêngsterhuis en lui die deurklokkie.