Ná Ghaddafi se verdwyning weet ek nie wat om heeldag met myself aan te vang nie. Ek stap maar in die straat af om die buurt te verken. Die bure is oor die algemeen ’n vervelige klomp wat selde met mekaar praat. Hulle gaan werk toe in die oggend, kom in die aand terug, sluit die deur en kruip agter hul gordyne weg. Wat ’n lewe!

Die meeste van hulle het honde ook, maar hulle is oor die algemeen agter tralies en heinings. Hulle is soos gevangenes in ’n tronk. Oorkant ons is Tyson – ’n soort hond met ’n groot kop en ’n hartseer, eensame gesig – wat heeldag oor ’n hoë muur staan en loer. Soms, wanneer mense foto’s van hom wil neem, duik hy uit sig. Ek hou daarvan om daai grillerige brak te terg.

Langs hom is ’n groot, wollerige swart hond wat ek ‘die skaap’ noem. Hy blaf net vir sy baas, nie vir vreemdelinge nie. Asof dit nou gaan help.

Die huis langsaan behoort aan ’n polisieman en hy het ’n piepklein hondjie, Maksie, wat ’n blikkerige blaf het en in die huis slaap. Die polisieman se vorige hond, Flossie, was ’n grootbek wat baie geblaf het en die diewe weggehou het. Hy is die grootste deel van sy lewe vasgeketting – tot hy een aand losgeruk het, kop eerste in ’n aankomende kar vas gehardloop en homself afgeskryf het. Ek wonder altyd of dit selfdood was.

Die bure regs van ons het twee enorme Duitse herdershonde, maar hulle word selde gesien of gehoor. Hulle is baie private honde. So nou en dan blaf hulle ’n paar keer, sodat ons weet hulle is nog daar. Niemand gee om nie; hulle is ook gevangenes.

Soms wanneer dit baie stil raak in die straat en ek doodverveeld is sonder Ghaddafi, loop ek na elk van hierdie honde se huise. Dan dans ek bietjie rond om hulle te irriteer, sodat hulle soos mal goed begin blaf. Eers dan loer die bure by hul vensters uit.

Ek mis Ghaddafi, maar die lewe is lekker by Pa. Die afgelope tyd was hy altyd in ’n goeie bui en ek het hom dikwels hoor sing. Maar toe word sy kar gesteel en sy singery verander in sugte.

Ek het op die kar se motorkap geslaap en nie eens gehoor toe die dief die kardeur oopmaak nie. Toe ruk die sterk reuk van dagga my tot my sinne. Daar is twee van hulle en ek skreeu vir die maer outjie. Hy probeer my met geweld met ’n lang skroewedraaier steek. Ek spring op die windskerm en blaas en wys my tande, maar dit skrik hulle nie af nie en hulle stoot die kar by die inrit uit. Ek miaau en miaau, maar die bure en hul honde is almal vas aan die slaap.

Uiteindelik begin Maksie, die polisieman se hond, te blaf. Die lig gaan aan en ek dink ‘Fantasties!’, oortuig die polisieman sal met sy vuurwapen uitkom. Maar nee! Hy tel net sy hond op en gaan weer in sy huis in.

Toe kom pa uit, sien sy voertuig is weg en loop vinnig in die straat af om daarna te soek. Maar dit is lankal weg. Ek sien hoe sy skouers ’n paar oomblikke sak, toe ruk hy homself duidelik reg en versnel sy pas. Dis hoe hy is; ou skool en so taai soos ’n ratel.

Die polisieman en sy vrou is in daardie stadium besig om op hul stoep te rook en ek hoor hoe die polisieman vir haar sê: ‘Die ou man gaan stap darem baie vroeg vanoggend.’ Ek wil vir hom gil: ‘Sy motor is onder jou neus gesteel, jou idioot!’

Dis die laaste strooi. Ek het genoeg gehad! Ek besluit om my ou bende bymekaar te kry vir ’n swanesang. Ek spring van dak tot dak en versprei die nuus. Binne minute is die hele buurt se katte in my erf versamel. Teen dié tyd is dit al oggend en toe Pa terugkeer, vind hy die hele lot van ons besig om ons naels teen ’n blok hout skerp te maak. Hy krap sy kop, want hy weet nie wat aangaan nie.

Vanoggend begin ons ons eie buurtwag.

Ons kry ’n groot hupstoot toe Stallone, ’n lekker gespierde straatkat, by ons groep aansluit. Hy is ’n vreeslose vegter en straatslim.

In die aand klim ons op die dakke en in die oggende hang ons in die kerk agter die bushalte uit. Ons los ’n paar verkenners bo-op die bushalte en pas die kinders wat skool toe gaan op.

Vertel ons: Sou dit ’n goeie idee wees om katte op te lei om buurte in die aand op te pas?!