’n Paar maande ná Milan se terugkeer raak ek swanger. Dwarsdeur my swangerskap probeer ek my geswelde maag vir Pa wegsteek. Ek is nie seker hoe hy op klein katjies sal reageer nie. Ghaddafi ondersteun my en bly in die omtrek, gereed om my te beskerm.

Een sonnige oggend is Milan vol streke en wip orals op Pa se lessenaar rond. Hy word vies vir haar, maar sy wil steeds speel. Ek oortuig haar toe maar om buitentoe te kom. Sy kom uit en gaan lê in die skaduwee van ’n kar oorkant die pad. Ek hou haar dop. Ek het seker ingesluimer, want ek hoor nie toe iemand die kar aanskakel en met dit oor my suster ry nie. Milan staan op, strompel na my en val net daar by my voete dood neer.

Op daardie oomblik breek my water toe, seker oor die skok, en ek gee geboorte aan ’n werpsel van ses pragtige katjies.

Dit is ’n moeilike tyd vir Pa. Milan is dood en nou is ek ’n jong ma. Hy bel sy dogter om my en my werpsel na die DBV te neem, waar hulle my kleintjies sal wegvat en my sal uitsit.

Pa kom saam en ek miaau jammerlik teenoor hom: “Hoekom doen jy dit?”

Maar hy sit net daar, vasgevang in sy eie emosies.

By die DBV vat hulle my kleintjies en maak my in ’n hokkie agter tralies toe. My hart ys terwyl ek na die pleitende gekerm van die ander katte in die dodeselle luister. Dis ernstig! Ek gaan in dié plek doodgaan!

Toe trek ek die hartseerste gesig wat ek kan en kyk na Pa deur die tralies. Ek kyk hom in die oë en pleit: “Wil jy dit regtig doen?”

Dis my beste toneelspel ooit, want Pa gee in en besluit om my te hou. Begenadiging! Ek word gesteriliseer en ná ’n nag in die hospitaal huis toe gestuur.

Toe ek terugkeer, het iets in Pa verander; hy is sagter. Ek ontdek gou dat ek toegang tot die huis en my eie stoel oorkant Pa se lessenaar het, waar ek ure luilekker kan verwyl. Soms, wanneer besoekers Pa oor sy lewe kom ondervra, gee ek my stoel prys en gaan buitentoe.

Wanneer ek egter aanvoel dat iemand nie van katte hou nie, weier ek om te skuif. En Pa, die versigtige ou klipkop, sien dit raak en weet dan die persoon kan nie vertrou word nie. Ja-nee! Ons is geheg aan mekaar. Ek dink nog altyd hy was sekerlik ’n kat in sy vorige lewe.

Ghaddafi het my baie geleer oor die straatlewe en hoe om teen mense terug te baklei. Eendag kom Trudy, ’n wegloper- Siamese kat hinkend by my aan. ’n Knorrige man met ’n pankop het haar met klippe gegooi omdat sy ’n nommer twee op sy gemanikuurde grasperk gelos het. Ek bespreek dit toe met Ghaddafi en hy beraam ’n aksieplan. Op ’n spesifieke oggend, net voor dagbreek, kom al die katte in die gebied stil-stil op die ou se grasperk bymekaar. In plaas daarvan dat ons die blombedding bollie en dit soos gewoonlik met grond toemaak, los ons dit in die oopte daar in die middel van sy grasperk.
Dis ’n stink storie en die knorrige man kry die boodskap. Van toe af betoon hy veel meer respek teenoor katte. Hy los selfs ’n bak water op sy grasperk sodat ons ons dors kan les.

Dis goeie tye.

Toe, op ’n dag, verdwyn Ghaddafi en ek sien hom nie weer nie. Ek vermoed dat hy stilletjies iewers heen gegaan het om dood te gaan. Hy was al oud en ek weet hy was moeg. Sy tyd het aangebreek. Hy wag vir my in die kattehemel.

Vertel ons: Hou jy van katte? Hoekom of hoekom nie? Kan jy jou verbeel dat hulle só oor ‘menslike’ dinge kan dink?