Eendag sien Stallone hoe ’n ou man ’n skoolmeisie in sy kar in probeer dwing. Soos blits spring hy van die bushalte af tot op die man se motorruit, ’n paar ander katte op sy hakke.

Stallone hurk – en pie op die man se motorruit!

Die ou is , om die minste te sê, geskok. Hy sit sy ruitveërs aan, maar Stallone val dit met sy naels aan en breek dit. Kort daarna jaag die ou met skreeuende bande weg.

Die meisie se redding is maar net die begin. Mama Engel is ’n ou dame wat lief is vir katte en ons altyd kosgee as ons by haar plek aankom. Toe twee inbrekers een aand by haar huis probeer inbreek, hardloop ons al springend van dak tot dak daarheen.

Toe bespring ons daai ouens en maak so ’n geraas dat dit al die bure wakker maak. Die diewe kan nêrens heen hardloop nie en skrik hulle oor ’n mik vir die gemiaau en vir al die katoë wat hulle van die dakke af dophou. Mama Engel skakel toe die polisie en die twee misdadigers word gearresteer.

Op dié wyse patrolleer ons die strate elke aand, en daarby word ’n kat op elke dak gestasioneer.

Een aand sien ek hoe een van die ouens wat Pa se kar gesteel het in die buurt rondsluip. Ek versprei die boodskap dat ons hom moet volg om te sien waarheen hy op pad is. Ons volg hom van die dakke af, terwyl Stallone die voetsoldate in die strate lei.

Die dief stop voor ’n verwaarloosde garage en peuter aan die slot. Die deur piep oop en daar staan Pa se kar. Die maer outjie skakel die motor aan, ry met dit uit die garage en laat dit ’n rukkie luier. Hy sit daar en steek ’n zol aan.

Vertel ons: Kry jy dit reg om die verbeeldingswêreld van onwerklike vreemde stories of fantasieverhale soos dié voor te stel? Hou jy van sulke stories?