Ons stop met die bikes voor Warren se huis. Dis nou nà twaalf, die son amper reg bo ons. Ons staan op die sypaadjie en Warren steek ’n sigaret aan. Ek wonder hoekom ons nie die bikes gaan weg sit nie. Wat gaan nou weer in Warren se kop aan?

“Waar gaan jy ’n matras kry?” vra Warren vir my en blaas die sigaretrook uit.

“Ek gaan vir ant Sybil vra,” sê ek.

“Jy vra daai vrou reeds te veel,” sê hy. “Dan gaan jy nog moet vra of Chantal en Keisha ook agter in die wendy house kan bly. Ek het nou gedink soos ons gery het. Kom ons trek hoodies aan en dan gaan breek ons nou by daai huis in.”

“Is jy mal?” vra ek, my hart skielik weer hard aan die klop.

“Hoekom nie?” sê hy. “Dis nou ons kans. Ek gaan vir ons al twee hoodies kry dan ry ons weer terug na daai huis toe.”

Warren gee vir my die brandende sigaret en loop in die huis in. Hy kom terug met twee swart hoodies en gee vir my een.

“Alles gaan uitwerk,” sê hy terwyl hy sy hoodie aantrek. “Jy sal sien.”

“Ek hoop so,” sê ek. Ek besef dis nou of nooit. Ek gaan vandag iets verkeerd doen, maar wat anders kan ek maak? Ek moet vir Keisha sorg. Ek trek die hoodie vinnig oor my kop en kry my bike.

Ons ry weer soos dieselle pad, maar hierdie keer gaan ons nie met leë hande terugkom nie. Ons stop by die swembad en ketting die bikes vas, loop weer in die stil straat af. My hart klop woes. Dis dieselfde procedure. Warren klop aan die voordeur, ek kyk rond. Ek soek vir ’n gordyn wat beweeg of iemand wat by ’n venster loer. Niks. Aan die linkerkant van die huis is ’n dubbelhek van staal.

“Ek het nou genoeg geklop,” fluister Warren vir my. “Dis duidelik hier’s niemand hier binne nie.”

Ek wil sê kom ons gaan in, maar ek’s te bang. Warren is mos die brein van hierdie operasie.

“Kom ons loop agterom,” sê hy sag. “Wees net normal. Dit moet lyk asof ons hier rond bly.”

Ons loop tot by die hek. Daar’s nie ’n slot aan nie. Warren maak dit oop en ons loop in. Agter is ’n ovaalvormige swembad. Daar’s ’n braaidrom. Teen die vibracrete-muur is ’n hoop opgestapelde hout en ’n byl. Tot my verligting is daar nie ’n hondehok of ’n hond nie. My hart hou nie op hamer in my bors nie. Warren vat die byl en begin ’n kamervenster oop forseer. Hy moes al baie practice gehad het, want hy kry die venster gou oop.

“Loer net gou rond of jy nie mense sien hiernatoe kyk nie,” sê Warren.

Ek gaan loer oor die mure aan weerskante van die huis. By die huis aan die linkerkant is ’n bungalow. By die huis aan die regterkant is ’n Nissan-bakkie. Daar’s nie ’n siel nie.

“Hier’s niks mense hier rond nie,” sê ek vir Warren.

“Gaan kyk by die huis agter,” sê hy.

Ek gaan loer oor die agterste muur. Daar’s ook ’n swembad, maar dis doodstil. Ons kan langs die kant van die huis uit loop, dan is ons in die volgende straat. Ek gaan terug tot by Warren.

“Dis stil agter,” sê ek.

“Dis reg,” sê hy. “Help my gou op.”

Ek vleg my vingers inmekaar en laat Warren op die binnekant van my hande trap. Hy wikkel sy lyf deur die oop venster en die gordyn skuif agter hom toe. Ek staan met my rug teen die muur en kyk rond. Hy moet gou maak, want ek wil nie lank hier draai nie. Ons weet nie eers hoe laat kom die huismense nie.

“Psst!” Ek skrik, maar dis Warren wat by die venster loer. “Gaan jy nie deur die venster klim nie?” vra hy.

Ek soek my woorde. “Ek gaan hier wag. As daar mense kom dan fluit ek.”

“Is jy seker?” vra Warren. “Ek gaan net die goue kettings en ringe vat en die geld. As jy iets vir jou wendy house soek, dan sal jy dit self moet kom haal. Gaan nie goed dra tot by jou nie.”

“Ek gaan hier wag,” sê ek hees. My stem klink soos ’n vreemdeling s’n. Wat vang ek aan?

Warren verdwyn weer.

Dis nà ’n paar sekondes wat ek die skril geluid hoor. Eers is die geluid sag, maar dan word dit hard en duidelik. Dis ’n alarm.

Warren ruk die gordyn oop. Die alarm raas nou veel harder. Hy sukkel om by die venster uit te klim.

“Wat soek julle daar, julle bliksems!” roep ’n man agter my. Dit kom van my regterkant af, die huis waar die Nissan-bakkie is.

Dis genoeg vir my. Warren sukkel nog by die venster uit, maar ek gaan nie wag nie. Ek hardloop na die agterste muur toe en spring bo-oor. Die adrenalien pomp deur my liggaam. Ek hardloop langs die huis verby. Voor in die tuin spring ek oor ’n heuphoogte muurtjie. Ek hardloop op die sypaadjie af sonder om terug te kyk. Soos ek hardloop blaf en hap honde agter geslote hekke, maar ek kry my tweede asem en beweeg nog vinniger. Daar’s nie tyd om aan Warren te dink nie, ek moet nou by die swembad uitkom. Moet die bike kry en dan verdwyn.

Toe ek by die swembad kom, is ek uitasem en my bors aan die brand. Dis van te veel rook en te min oefen. Ek maak die slot en ketting van die bike los. Kyk ’n paar keer rondom my en begin ry. Ek onthou die pad terug, so ek ry in die agterstrate.

By die huis sit ek die bike in die wendy house. My pa is nie hier nie. Dis goed. Ek het tyd nodig om te dink. Het die mense vir Warren gevang? Dit lyk so. Ek voel skuldig. Wat het ek en Warren gedoen?

Vertel ons: Wat dink jy het met Warren gebeur? Wat kon Michael anders gedoen het?