“So jy’s ernstig oor die besigheid?” vra ek vir Warren.

“Ek’s so ernstig soos die son vandag skyn,” sê hy.

Die kinders wat krieket speel gil. Iemand het die paaltjies raakgegooi.

Ek skud my kop. “Ek kan nie tronk toe gaan nie.”

“Hou op soos ’n papbroek praat. Niemand gaan tronk toe nie,” Warren klap sy tong. “Wil jy sien hoe lyk die huis?”

“Watter huis?”

“Die huis wat ons moet inbreek.” Warren staan op en skud sy broek af. Hy tel ’n leë bierbottel op. “Vat die ander bottel,” sê hy. “Stap gou saam my huis toe.”

Warren bly twee blokke weg van my huis af. Hy bly saam sy ma in die huis. Sy pa het ’n ander vrou, maar hy is nog so nou dan daar rond.

Ek het matriek klaar gemaak, maar nie Warren nie. Hy’t twee keer gedruip en toe los hy die skool in graad elf. Dis toe hy begin rondskarrel en mense se goed begin steel. Hy gebruik nie tik of so nie. Ek en hy het al saam met tik experiment, maar besluit dis nie vir ons nie. Nou rook ons net sigarette en ons drink nou en dan ’n bier. Ons ander skoolvriende wat tik lyk nou soos geraamtes. Ek sien hulle baie soos zombies hier rondloop.

’n Jong meisie kom uit die ander rigting aangestap met ’n sak groceries. Dis Candice; sy bly in Warren se straat. Warren stop om met haar te praat. Ek knik vir haar en loop aan, wag dan vir hom op die hoek langs die stopteken.

“Ek smaak vir Candice,” sê hy toe hy by my aansluit.

“Jy kan haar mos vra om saam jou uit te gaan,” sê ek.

“Ek gaan haar vra,” sê hy. “Sodra ons die goed gaan steel, dan koop ek my ’n paar nuwe Nike-tekkies. As sy my nuwe tekkies sien, dan gaan sy gouer ja sê vir ’n relationship.”

Ek kyk na hom soos ons loop. “Ek sien nie vir Candice so nie,” sê ek. “Sy worry nie of jy brand names dra nie. By haar gaan dit oor die soort persoon wat jy is.”

“As jy so sê,” sê hy, “maar ek soek nog steeds daai nuwe tekkies.”

By sy huis maak Warren die hek met ’n kreun oop. Sy pa se blou en wit Citi Golf staan langs die huis. Sy pa parkeer die kar nog soms daar – daar’s nie plek by die ander vrou nie.

“Ek gaan een aand die kar vat en rondry,” sê Warren.

“Jy soek weer moeilikheid met jou pa,” sê ek.

Hulle kombuisdeur is oop. Sy ma is besig met kos maak, want ek ruik speserye en gebraaide vleis. Ek groet haar soos ons verby die oop deur loop en sy groet terug.

Agter in Warren-hulle se jaart is ’n duiwehok en ’n klomp rommel. Kettings, leë bierbottels in bierkratte, wiele, handvatsels en klomp ander goed. Ons sit die leë bierbottels in ’n leë krat. Daar’s twee bikes. Warren tel die een bike op.

“Kry vir jou die ander bike,” sê hy.

“Wie se bike is dit?” vra ek.

“Dis myne,” sê hy. “Ek het dit self opgebou. Dis vir jou om mee te ry.” Warren is baie goed met sy hande. Stukkende radios of TV’s maak hy enige tyd reg.

Ons stoot die bikes straat toe en klim op. Dan ry ons uit Valhalla Park uit. Ek het lanklaas bike gery. Dit voel nogal lekker om die wind so in my gesig te voel. Warren ry voor, want hy weet waar die huis is.

Ons kom in Monte Vista. Dis baie stiller hier. Hier’s niemand wat rondstaan op straathoeke nie. Ons ry verby sekere huise en die honde blaf tot hulle ons nie meer sien nie.

By ’n openbare swembad stop Warren en ketting die twee bikes vas.

“Ons moet verby die huis loop,” sê Warren. “Ek wil jou alles wys.”

Die straat is doodstil, mens hoor net voëls bo in die bome. Ons loop op die sypaadjie.

“Jy moet normal lyk,” sê Warren. “Dit moet lyk asof ons in die area bly.”

“Okei,” sê ek, vee die sweet in my nek af.

Dis duur huise. Swembaddens. Hoë mure. Veiligheidshekke. Alarms. Alsatians. Pitbulls. Die mense vat hulle veiligheid ernstig op.

Ek sien dadelik die huis waarvan Warren praat sonder dat hy my sê. Die huis het ’n oop erf voor. Die gras is mooi kort, dis maklik in die vorige paar dae geknip, ek kan ruik. Daar’s ’n sementpaadjie wat kronkel tot by ’n houtvoordeur met ’n wit Trellidoor voor dit. Bo die venster is ’n Armed Response-bordjie. Hoekom het Warren my nie daarvan gesê nie? Aan die regterkant is ’n dubbele garage.

“Ons gaan klop aan die voordeur,” fluister Warren oor sy skouer vir my.

“Wat as iemand die deur oopmaak?” vra ek.

“Dan vra ons net ’n bietjie water.”

“Is jy seker?” vra ek versigtig.

“Ja. Probeer om rond te kyk of daar mense by die ander vensters loer of iets.”

My hart begin al vinniger klop, ek’s nie die soort dinge gewoond nie. Ons gaan niks doen nie, maar ek’s bekommerd. Warren is nie altyd voorspelbaar nie.

Hy klop aan die houtvoordeur en ek kyk rond. Ek sien nêrens ’n gordyn wat roer of iemand wat by ’n venster loer nie. Niemand maak die deur oop nie, so hier’s nie mense nie.

Warren kyk op sy horlosie. “Dis nog vroeg,” sê hy. “Kom ons loop.”

“Ek soek ’n matras,” sê ek toe ons weer op die bikes huis toe ry.

“’n Matras?” vra Warren verbaas. “Hoekom soek jy een?”

“Chantal wil vanaand vir Keisha bring en by my kom bly. Het jy ’n matras wat jy nie gebruik nie?”

“Nee, maar ek weet waar jy vandag ’n matras kan kry.”

“Waar?” vra ek.

“Nie ‘waar’ nie, ‘hoe’,” sê hy.

“Hoe?” vra ek.

“Ons breek by daai huis in, dan het jy oorgenoeg geld om ’n matras te koop.”

Vertel ons: Wat dink jy gaan Michael doen? Wat sou jy vir hom sê?