Ek kyk verbaas na Chantal. “Wil jy en Keisha hier by my kom bly?”

“Ja,” sê sy, versit Keisha na haar ander heup.

“Chantal, ek en my pa bly hier in die wendy house,” sê ek. “Kyk hoe beknop is die plekkie.” Ek skud my kop. “Hoe en waar gaan julle twee slaap? En jy sê dan nou Keisha huil elke aand.”

“Michael,” Chantal sus vir Keisha op haar heup. “Ek was in matriek toe ek swanger raak met Keisha … met jou kind. Ek het my hele lewe voor my gehad. Ek wou ’n lawyer word. Nou’s my hele lewe deurmekaar. Ek en my ma-hulle skel elke dag. Michael jy kry nooit ’n werk nie, wat beteken jy onderhou nie jou kind nie. Nou moet ek elke maand in ’n ry gaan staan om SASSA-geld te kry. Ek’s nie soos die ander meisies nie. Ek word skaam om daai geld te trek, maar ek sit elke maand my trots in my sak. Ek doen dit nie vir my nie.” Sy knik in Keisha se rigting. “ Ek doen dit vir haar.”

“Ek hoor wat jy sê Chantal …”

“Moenie hoor nie Michael,” sê sy kwaad. “Doen iets. Moet ek nou spyt is omdat ek vir jou as ’n boyfriend het? Moet ek spyt is omdat jy my kind se pa is?”

“Ek het my CV oral gestuur,” sê ek. “Ek het vir klomp mense gevra om uit te kyk vir iets daar waar hulle werk. Die beste wat ek nou kan doen, is om te wag en kyk.”

“Wag en kyk?” vra sy sarkasties. Sy kyk dwarsdeur my so kwaad is sy. Sy wys met haar regterwysvinger straat toe. “Jy en Warren sit lekker hier buite in die son. Julle sit en drink biere, maar jou kind het nie geld vir babamelk nie. Daai kan ek nie verstaan nie.”

Ek sug hoorbaar. “Ek het nie daai biere gekoop nie. Warren het daai biere gekoop.”

Chantal druk ’n dummy in Keisha se mond en sy hou op huil. Sy lê vir Keisha versigtig op die kooi neer. Sy kyk weer om na my.

“Michael, dit maak nie saak wie’t die biere gekoop nie. Die feit is, jy sit en drink, maar jou eie kind het nie iets om te eet vir die aand nie. Is dit die soort pa wat jy is?”

Ek leun teen die deur en kyk op na die plafon. Wat moet ek vir Chantal sê? Wil sy hê ek moet geld gaan toor? Wil sy hê ek moet geld gaan steel? Jissis! Hoekom dink ek nou aan geld steel?

“Wat verwag jy van my af?” vra ek.

Sy staan met haar vuiste op haar heupe. Ek ken vir Chantal goed, as sy staan soos sy nou staan, dan is sy ernstig en dan vat sy drama van niemand nie.

“Ek wil hê jy moet ’n pa is vir jou kind. Ek wil hê ek en Keisha moet vandag hier kom bly. My ma het my gewaarsku jy’s nie die regte boyfriend vir my nie. Ek was hardkoppig, want ek het gedoen wat ek dink is reg. Ek vra jou mooi asseblief Michael, moenie my ma reg bewys nie.”

Ek maak my oë toe en weer oop. Waar gaan almal slaap? “Hier’s net een kooi en ek en my pa slaap daarop. Laat ek nog ’n matras êrens gaan soek. Vir ant Sybil vra of sy nie ’n ekstra een het nie. Gaan by Warren ook hoor of hy nie ‘n matras het nie. Kan jy solank huis toe gaan? Sal later vir jou en Keisha kom haal.”

“As jy nie ’n matras kry nie, dan moet jy my laat weet,” sê sy. “Ek het ook vriende. Sal by hulle ook hoor vir ’n matras.”

“Dit gaan nie net oor die matras nie,” sê ek moedeloos.

“Waaroor gaan dit?” vra sy.

“Oor ’n klomp dinge,” sê ek en kyk by die voordeur uit na die klere op die wasgoedlyn. “Waar gaan ons almal kos kry? Soos dit klaar is, sukkel ek en my pa. Hoe gaan jy vir jou was en ons is twee mansmense hier? Wat sê ek vir ant Sybil oor hoekom jy hier wil bly? Dis nog steeds ant Sybil se jaart.”

Chantal tel vir Keisha op. “Maak ’n plan,” sê sy. “Ek sal help daar waar ek kan.”

Ons gaan uit en ek sluit die deur. Warren sit nog steeds buite op die sypaadjie en drink. Ek neem vir Chantal tot op die hoek van die straat, loop dan terug en gaan sit langs Warren.

“Ek weet nie hoe gaan ek maak nie Warren,” sê ek. “Chantal en Keisha wil nou by my kom bly.”

Hy wys met sy duim na die wendy house toe. “Daarbinne?”

Ek knik.

Warren steek weer ’n sigaret op. “Ek het jou gesê hoe moet ons maak,” sê hy.

“Hoe moet ons maak?” vra ek.

“Ons gaan breek by daai huis in en steel al die goed.”

Vertel ons: Waar dink jy gaan Michael ’n matras kry?