“Chantal het my nou gebel,” sê ek vir Warren. “Sy klink geworry oor die phone. Sy kom nou na my toe.”

Ons sit op twee bierkissies op die sypaadjie voor my huis, besig om twee Castles te drink. Dis nie eintlik my huis nie, dis ant Sybil se huis. Sy’s my ma se suster. Ek bly saam my pa in die wendy house agter in die jaart. Ek’s agtien en ek sit sonder werk.

“Chantal wil seker met jou pa oor die baby praat,” sê Warren en steek ’n Stuyvesant op. Hy blaas die rook in die lug voor hom. Hy hou van rookkringe blaas. Warren is my beste vriend. Ons is al van laerskool af vriende, maar hy het altyd een of ander snaakse plan.

“Jissis!” sê ek. “Sal my rêrig moet ’n werk kry. Keisha het babamelk nodig. Sy makeer klere ook. Baie dae dan weet ek nie eers hoe moet ek aan geld kom nie. Ant Sybil het gister weer geskel toe ek haar geld vra om vir die baby iets te koop.”

“Ja, Michael,” sê Warren en sluk bottelmond aan sy Castle. “Ant Sybil raak nou moeg van jou.”

Warren is reg, maar wat moet ek doen? Ek kyk na die kinders wat met ’n plank en bierkissies in die pad krieket speel.

Ek vryf met my hand oor my kortgeskeerde hare. “Ek sal moet ’n plan maak. Ant Sybil sê ek wil ’n grootman gewees het deur kind te maak, nou moet ek voel hoe’s dit om grootman te wees.”

Warren fluit deur sy tande. “Ek kry vir jou jammer ou broe. Nou moet jy agter jou pa ook kyk. Hy vat weer ’n trek aan die sigaret en kyk vir my uit die hoek van sy oog. “Ek het ’n plan,” sê hy.

Ek sien die kyk in Warren se oë. Warren kom nou ’n paar maande gelede van Bonnytoun af. Dis ’n plek waar die hof jou stuur as jy onder agtien is en jy loop hof vir misdaad. Warren het ’n huisbraaksaak gehad. Die hof het hom vrygespreek op die saak, want daar was nie genoeg bewyse om hom skuldig te bevind nie. Nou dwaal hy ook ledig hier in Valhalla Park rond.

“Ek weet van ’n plek waar ons vinnig geld kan kry,” sê Warren.

“Hoe bedoel jy?” vra ek. Ek het al een keer saam Warren appelkose uit iemand se boom uit gesteel, maar niks erger as dit nie.

Warren bekyk die sigaret in sy hand, vat dan ’n trek. “Dis ’n rykman se plek. Daar’s ’n klomp geld daar. Daar’s maklik duisende rande wat net rondlê in daai huis.”

“Hoe weet jy van die geld wat so rondlê?”

“Dis obvious,” sê hy. “Die huis is so groot soos ’n paleis.”

“’n Paleis?”

“Dis ’n groot plek,” sê hy. “Double storey. Ek het al ’n paar keer met my bike daar verby gery. Het sommer twee keer aan die deur gaan klop en gevra vir ’n bietjie water.”

“Wat het gebeur?” vra ek.

“Daar’s nie ’n bediende nie, niemand het die deur oopgemaak nie. Dit sê vir my die huismense is in die werk.”

“Ek weet nie so mooi nie, Warren,” sê ek. “Jy weet ek het nog nooit so iets gedoen nie. Ek wil nie tronk toe gaan nie.” Ek beduie in die wolklose lug in. “Daai ander ou wat nou die dag uit Pollsmoor uitkom was wreed verkrag daar. Ek hou hom dop. Hy’s nie meer dieselle nie.”

“Dit gaan maklik wees,” sê Warren. “Daar’s nie burglar bars voor die vensters nie. Daar’s nie ’n hond wat blaf nie. It’s like taking candy from a baby.”

Ek kyk voor my en dink na.

“Jy worry onnodig,” sê Warren. “Niemand gaan ons vang nie. Jy gaan sien. Ons gaan voor by die huis in, maar ons gaan agteroor die muur spring wanneer ons klaar die goed gesteel het.”

“Ek dink nie dit gaan werk nie,” sê ek, my oë weer op die kinders in die pad.

“Dink daaroor,” sê Warren. “Onthou, jy moet agter jou pa ook kyk.”

My pa loop met krukke, want sy linkerbeen is by die knie af. Hy en my ma was saam in ’n karongeluk. My ma het by ’n klerefabriek gewerk. My pa was ’n electrician, maar hy was nooit daar vir my nie. Die dag van die ongeluk het hy opgedaag, saam met my ma winkel toe gery in haar geroeste ou Golfie. Hulle het in die kar gestry. Ek ken nie die hele storie nie. My ma het haar oë van die pad af gehaal en beheer oor die kar verloor. Sy’s op slag dood, maar my pa het gelewe. Nou moet ek agter hom ook kyk.

Aan die bokant van die straat kom Chantal met Keisha op haar heup aangeloop. Chantal dra swart tights en ’n swart T-shirt vandag. haar donker hare in ’n ponytail. Keisha is in ’n wit kruippakkie. Kan sommer op Chantal se gesig sien sy’s kwaad vir iets. Haar oë is op skrefies en haar lippe dun.

“Jou girlfriend lyk nie baie happy nie, bra” sê Warren.

“Jy’s heeltemal reg,” sê ek.

Keisha begin huil toe Chantal met haar op die sypaadjie loop. Die naam Keisha was Chantal se idee. Sy’s al twee jaar oud. Soek graag ’n beter lewe vir my dogtertjie, maar hoe?

Ek drink die glas bier vinnig klaar en staan op. Dis bloedwarm.

Toe Chantal by ons kom, sus sy vir Keisha. Warren groet haar en sy knik vir hom.

“Dis ’n mooi dag Chantal,” sê hy. “Moenie so sad lyk nie.”

“Warren ek voel nie lekker nie, dis al.” Chantal kyk na my. “Kan ek gou met jou praat?”

Ek kyk om na die jaart. My pa is nie nou in die wendy house nie. Hy kry disability, maar hy’s altyd by ’n vriend van hom. Hulle hoop om ’n repair business te begin.

“Kom ons gaan praat daarbinne,” sê ek en loop vooruit na die wendy house. Ek sluit die deur oop en ons loop in.

Sy kyk rond asof sy nog nooit hierbinne was nie. Daar’s die ou Sealy Posturepedic-kooi. Daar’s ’n groot kas, maar die deure sluit nie meer nie en ek het dit met skoenveters vasgemaak. Daar’s ’n tafeltjie met ’n geel kommetjie waar ek en my pa die skottelgoed in was. Langs die groot kooi staan ’n geel emmer om vir ons mee te was. Ons gebruik die badkamer in die huis as ons toilet toe wil gaan.

Ons staan twee treë binne-in die wendy, langs die houtkas.

“Michael ek kan nie meer so aangaan nie,” sê Chantal. “Ek en my ma-hulle het nou lelik by die huis geskel.”

“Waaroor het julle geskel?”

“Oor ’n klomp goed,” sê sy en kyk weg. “Keisha huil elke aand en my pa moet soggens gaan werk. Keisha makeer baie goed … My ma het my nou uit die huis uit gesit. Hulle sê ek moet ander blyplek gaan soek.”

“Waantoe moet jy gaan?” vra ek. Ek maak ’n glas vol water en hou dit vir Keisha om uit te drink, versigtig dat sy nie verstik nie. Sy sit haar taai handjies oor myne en sluk dors.

Chantal sug, kyk my dan in die oë. “Ons het nêrens om na toe te gaan nie. Ons trek vandag hier by jou in. Ek en Keisha.”

Vertel ons: Wat dink jy gaan Michael doen? Wat moet hy doen?