My hart klop woes en ek haal swaar asem. Wat moet ek doen? Moet ek weghardloop? Ek het familie in Bonteheuwel, miskien moet ek by hulle gaan bly tot alles hier afkoel? Dié’s nou ’n gemors.

Ons voorhekkie kraak. Ek loer versigtig by die venster uit. Dis my pa.

“Hoekom lyk jy so bleek?” vra hy toe hy op sy krukke by die wendy house inkom.

Ek besluit om hom alles te vertel. Ek vertel hom van Chantal wat met Keisha hier by ons wil kom bly. Hy kom sit op die kooi langs my. Hy sit sy krukke op die sementvloer neer. Hy luister verder na alles wat ek vertel. Ek vertel van die inbraak. Ek weet nie waar’s Warren nie.

“Die’s mos Warren se bike?” vra my pa.

Ek knik.

“Jy’s in groot gemors seun,” sê my pa. “Maar moenie nou staan en weghardloop nie. Moenie dieselle fout maak wat ek gemaak het nie. Ek’s vandag nog spyt omdat ek vir jou en jou ma alleen gelos het. Ek’s jammer daaroor. Kyk wat het gebeur? Ek en sy het gestry in die kar oor alles. Dis hartseer en ek moet vandag daarmee saam leef. Jou ma kon nog vandag gelewe het, maar sy’s nie meer met ons nie.”

Ek vee my hande oor my gesig. “Hoe moet ek nou maak Daddy?”

“Wees ’n man,” sê my pa. “Jy het iets verkeerd gedoen. Jy sal jou moet oorgee aan die Boere.”

Ek staan op en loop op en af in die wendy house. Ek gaan tronk toe. Ek gaan tronk toe. Die woorde hardloop deur my brein. Wat sê ek vir Chantal? Wat van Keisha? Ek sug hard.

“Drink ’n glas suikerwater,” sê my pa. “As die besigheid afgehandel is, dan moet jy gaan study. Daar’s beurse. En ek sal kyk of ek nie die repair business aan die gang kan kry nie.”

Ek vat ’n koppie en gooi drie lepels suiker daarin, gooi water by. Drink die suikerwater in een sluk op.

Dis ’n uur later toe ek die polisiekar in die pad hoor stop. My pa het hulle gebel en verduidelik. Hulle boei my soos ’n tronkvoël en sluit my agter in die vangwa toe.

“Ek gaan saam polisiestasie toe,” sê my pa. Die polisie laat my pa voor by hulle ry.

By die polisiestasie lei die polisiebeamptes my na ’n kantoor. ’n Man in gewone klere staan op van agter ’n lessenaar en stel homself as luitenant Esterhuizen voor. Hy’t breë skouers, bruin hare en ’n baard. Hy beduie dat ek op die stoel oorkant die lessenaar kan gaan sit. Hy maak aantekeninge in ’n lêer voor hom. Op die mure agter hom is sertifikate. Daar’s ook groepfoto’s van Esterhuizen saam met sy kollegas in die polisie. Gaan hy my nou tronk toe stuur?

“Ons het jou vriend Warren. Wat het julle besiel?” vra Esterhuizen. Hy fluit kliphard. Hy vat almal my besonderhede. Skryf dit in die lêer voor hom neer. “Jy kan tronk toe gaan, jy weet mos. Maar dis jou eerste oortreding en jy het jou vrywillig oorgegee. Gee jou samewerking en dan kan ek probeer om die hof te vra vir ’n vry borg.”

Ek sê niks, want ek wil nie wys ek’s bang nie. Hy neem ’n verklaring van my. Ek vertel hom alles wat gebeur het. Ek vertel hom van die wendy house en van Chantal en Keisha en van die matras.

“So jy’t alles gedoen vir ’n nuwe matras?” Esterhuizen skud sy kop ongelowig van kant tot kant.

“Het dit gedoen vir die geld,” sê ek en kyk af na my hande.

Hy kyk my ernstig aan. “As ek geld soek, dan moet ek daarvoor werk. Geld val nie uit die lug uit nie.”

“Ek weet, meneer,” sê ek.

Een van die polisiebeamptes vat my na die polisieselle toe. Ek hoor die sleutels knars in die slot. Ek het al klomp stories gehoor van die tronk en die selle. Dis ’n plek waar die boewe jou beroof. Hulle roof jou skoene en sokkies en jou geld.

“Staan sommer hier by die hek,” sê die beampte. “Jou pa is hier, hy gaan nou met jou kom praat.”

Ek kyk vinnig in die sel rond. Ek was nog nooit in so ’n plek nie. Die mure is vol geskryf en daar’s ’n stort sonder ’n kop. Dis bedompig. Ruik muf. Daar’s iemand in die hoek van die sel wat agter sy hurke sit, sy gesig in sy elmboog versteek.

“Michael hoe gaan dit?” vra my pa agter my.

Ek kyk om en knik, want ek weet nie wat om te sê nie. Dit gaan definitief nie goed met my nie. Die’s die laaste plek waar ek wil wees.

“Ek het vir jou ’n tandeborsel en seep gebring,” sê hy en gee die sakkie.

“Dankie,” sê ek.

“Ek het met Chantal op die foun gepraat,” sê my pa. “Ek het vir haar alles vertel. Sy sê sy gaan by haar ma-hulle bly vir nou. Sy stuur groete en sê jy moet sterk wees. Michael sodra jy uitkom, dan maak ons ’n plan. Jy het jou hele lewe voor jou. Study en gaan werk vir jouself. Ek sal jou help.”

“Ek gaan so maak Daddy,” sê ek.

“Die beampte het ook met my gepraat en hy sê jy sal nie tronk toe gaan nie; jy sal ’n buitestraf of ’n waarskuwing kry. Hy sê as hy jou weer hier sien dan stuur hy jou tronk toe.”

“Baie dankie Daddy.”

Die beampte sê vir my pa hy moet nou gaan. Ek en my pa groet mekaar. Die beampte sluit die staaldeur.

Ek kyk om en sien dis Warren saam met my in die sel. Hy vertel my die man met die Nissan het hom gevang. Die Boere het hom daar gekry. Ek’s net bly nie een van ons twee het seer gekry nie.

“Ek gaan tronk toe Michael,” sê Warren en begin huil dat sy skouers skud.

Vertel ons: Wat dink jy gaan met Michael gebeur? En met Warren? Wat moet Michael vir Warren sê?