Die voorkant van Sipho se hemp was nat. Hy het die pyn intens gevoel toe dit gebeur het. Nou het hy niks gevoel nie. Hy het gesweef.

‘Ek is besig om dood te gaan Mamma’ , het hy stil gesê in die diepste deel van sy siel.

Sipho het hoog bokant homself gesweef toe hy dit gesê het terwyl hy afgekyk het. Af, af, deur die stil blare van die eikebome, en hy het sy stil liggaam sien lê op die teerpad met sy bloed in ’n sirkel om hom.

Pumela en Sipho het vir die eerste keer liefde gemaak in Pumela se bed, die oggend na hulle afspraak by Rumours. Hulle was die hele nag op. Na Rumours toegemaak het is hulle na ’n vriend se huis toe. Albei het boodskappe na hulle ma gestuur om te sê dat hulle nie bekommerd moes wees nie. Nie een van hulle kon dit oor hulle hart kry om totsiens te sê nie. Hulle het aan mekaar vasgeklou. Hulle het ’n privaat plekkie by hulle vriend se huis gekry en mekaar lank en teer gesoen. Hulle wou nie haastig wees nie. Hulle het in verwondering na mekaar gestaar.

“ Hoekom het dit ons so lank geneem?” het Pumela een of ander tyd gedurende die aand gevra. Sipho het met ’n soen geantwoord.

Dit was laatoggend toe Sipho en Pumela by haar huis aangekom het. Haar ma het alreeds werk toe vertrek en die huis was leeg.

Hulle het stadig liefde gemaak in Pumela se slaapkamer, met die deur toe vir die wêreld. Sipho het vir Pumela gesê dat hy nog nooit iemand so pragtig soos sy voorheen gesien het nie. Pumela het hom vertel dat sy altyd gek was oor alles van hom – beginnende by sy knieë, wat sy gedink het net die oulikste was toe hy tien jaar oud was!

“My knieë?” het Sipho gesê, en teruggeval op die hoop kussings op haar bed.

“Jip”, het Pumela gesê, en in sy oë gelag. “Jou knieë was so oulik. Maar soos die tyd verby gegaan het, was dit ook jou oë, en jou hande, en jou boudjies …”

Die twee het die res van die dag saam deurgebring en was nog by Pumela se huis toe haar moeë ma tuiskom. Eers toe het Sipho vertrek. Hy het uitgeput gevoel.

“Ek het onlangs nie goeie dinge oor daardie jongman gehoor nie,” het Pumela se ma gesê, na hy weg is. “Hy en daardie ander: Mihlali, Mpho en Kazadi. Hulle was almal baie in die moeilikheid.”

“Nee, Mamma, jy’s verkeerd,” het Pumela gesê, terwyl sy agter haar hand gaap. “Sipho is nie soos hulle nie. Hy ken hulle van sy kinderdae af, maar hy is anders. Hy is slim, en ’n harde werker.”

“Ek hoop so,” het haar ma gesê,terwyl sy in ’n stoel neersak en haar voete in die lug sit. “Ek was so gelukkig toe jy opgehou het om Jarrod te sien. Ek hoop hierdie Sipho is wie jy sê hy is.”

“Jy bekommer jou te veel Mamma. Wag maar en kyk. Sipho en ek, ons twee gaan baie goed doen in die skool. Nou, laat ek vir jou ’n koppie tee maak.”

Maandag by die skool was niemand verras om Sipho en Pumela saam te sien nie.

“Dit was lankal tyd gewees Meisie,” het haar vriende gesê.

“Wat bedoel julle?” het Pumela gevra.

“Wel dit was vir ons almal al vir jare lank duidelik dat julle twee vir mekaar bedoel is.”

Pumela het nie geweet dat haar gevoelens vir Sipho so duidelik was nie.

Sipho het nader aan haar in die klas beweeg, met studente wat uit hulle banke beweeg het om die twee liefdesduifies in ag te neem. Die onderwysers het hulle wenkbroue opgetrek, en een het selfs gesê, “Ek hoop nie jy gaan toelaat dat hierdie nuwe liefdesverhouding jou aandag te veel aftrek nie Pumela.”

Om die waarheid te sê, het die ‘liefdesverhouding’ die teenoorgestelde uitwerking gehad. Pumela het so tevrede, so rustig gevoel, dat haar werk selfs meer verbeter het.

Sipho kon dieselfde sê. Sy ma was in haar noppies toe Pumela begin het om na hulle te kom en tyd spandeer het om saam met Sipho te studeer. Hulle het die meeste naweke saam spandeer, nadat Sipho sy skof by Game klaargemaak het, waar hy aan die begin van die maand begin werk het.

Almal het gelukkig gevoel; Sipho was gelukkiger as wat hy ooit kon onthou het.

Aan die einde van hulle Graad 11 jaar was Pumela bo in die graad en Sipho was sesde. Sy ma was ekstaties.

Intussen was Mihlali, Mpho enKazadi in die moeilikheid met die gereg en Mihlali was self gearresteer vir huisinbraak. Hy was slegs sewentien, dus het sy ouderdom aan sy kant gewees en dit was nie lank of hy is weer vrygelaat nie. Sipho het vermoed dat Mihlali beweeg het na sterker dwelms kort hierna en was verontrus toe hy hoor dat hy waarskynlik tik gebruik.

Mpho en Kazadi het Sipho eendag vroeg in die nuwe jaar buite sy huis voorgekeer.

“Ons sien jou nooit meer nie my bra,” het Mpho gesê.

“Werk jy nog steeds aan daardie nêrens kom werkie by Game, hê?” het Kazadi gevra.

“Ek fokus net om my matriek vanjaar te kry hoor,” het Sipho geantwoord, hande geskud en verby hulle gekyk na die voordeur van sy huis.

“Matriek is niks,” het Kazadi met ’n skouerophaal gesê.

“ Hierdie plek is vol mense met matriek, en hulle het steeds nie werk nie,” het Mpho gesê.

“Ek gaan verder studeer as ek klaar is,” het Sipho gesê, en begin frons.

“Dit neem geld bra,”het Kazadi gesê en weer sy skouers opgehaal. “En jy kan nog steeds partymaal vir ons werk. Ons doen goed bra. Een van die dae gaan ons ’n kar kry. Die besigheid blom.”

“Mihlali lyk nie te goed nie,” het Sipho gesê.

“Mihlali is ’n dwaas,” het Mpho gesê. “Mihlali is klaar. Maar jy kan saam met ons ’n bier gaan drink. Terwille van die ou dae.”

“Ja, het Kazadi saamgestem,” kom vir ’n bier. Ons maak baie geld. Met die tipe geld wat ons maak kan jy daardie pragtige meisie van jou in styl aanhou. Die tipe styl waarin sy behoort aangehou te word.”

Sipho het na die voordeur van sy huis gekyk. Pumela sou haar pa daardie aand gaan sien het, en hy het nou net van die slegste, verveligste skof ooit by Game gekom. ’n Bier het goed geklink.

“Oukei dan,” het hy gesê. “ Net terwille van die ou dae.”

By terugskouing het Sipho gedink dat alles wat later gebeur het, toe begin het.

***

Vertel ons wat dink jy: Sal Sipho ’n goeie matriek kry? Was Pumela reg om in hom te glo?