Bo, verby die blou lig wat vir hom geflits het en bo, verby die ronde geel maan, kon Sipho die gesig van sy ma sien. Sy het vir hom geglimlag. Hy kon die liefde in haar oë sien terwyl sy na hom gekyk het. Dit was dieselfde kyk in haar oë van sommige van sy heel eerste herinneringe. In sy hart het hy vir haar terug geglimlag. Van diep uit sy siel het hy haar naam geroep. Die paramedikus wat oor hom gebuk het, het nie ’n geluid gehoor nie.

Pumela het met Jarrod opgebreek in die middel van haar elfde skooljaar. Jarrod het die jaar van tevore gematrikuleer en het die dorp verlaat om sy fortuin in die stad te gaan soek. Sy was nie regtig jammer om hom te sien gaan nie. Hy het begin om haar te verveel. Selfs om vinnig te ry, vasklouend aan sy rug terwyl hulle op die snelweg gejaag het op sy motorfiets, het haar nie meer interesseer nie.

Haar pa het hom nooit goedgekeur nie.

“Hoekom spandeer jy tyd saam met daardie verloorder?” het hy haar verskeie male gevra. “Hy sal nooit iets in die lewe bereik nie. Dit is baie duidelik.”

“Nie almal het dieselfde idees wat belangrik in die lewe is soos jy nie Pa,” het sy geantwoord.

Pumela het opgemerk dat toe sy hom hierdie keer sien, het haar pa weer sy kar verander. Motors het haar nie geïnteresseer nie, maar die verandering van die kar was beduidend. Sy vorige kar was wit, hierdie een was swart. En sportief.

Pumela het geweet dat haar pa sonder twyfel ’n nuwe vrou gehad het om te pas by die nuwe kar. Die vrou sou ook ’n nuwer model wees. Jonger. Haar pa het altyd ’n nuwe vrou gehad.

Haar ma het nooit baie gesê nie, maar Pumela het geweet wat aan die gang was. Sy het geweet van die gevegte wat haar ma in die onderhoudshof gehad het met haar pa. Sy het sommige van die gesprekke gehoor.

“Maar Mandla, Pumela is nou ouer, en alles wat sy nodig het is duurder. En buitendien, die skool het my vertel dat jy weer agter is met die skoolfooie. Ek kan net nie uitkom nie. Die onderhoud moes jare terug vermeerder word.”

Pumela het haar ma hoor praat op die foon net ’n paar dae voor die nuwe kar, met die nuwe vrou verskyn het. Haar ma was stil aan haar kant van die lyn vir ’n lang tyd, en Pumela kon haar net indink wat haar pa se kant van die gesprek was. Uiteindelik het sy weer haar ma se sagte stem gehoor.

“Dit is nie reg nie Mandla. Sy werk hard en ek ook. Wat jy doen is nie reg nie.”

En toe het Pumela geraai, het haar pa waarskynlik die foon neergesit, want sy het haar ma diep hoor sug.

“Liewe Heer help my,” het sy saggies gesê. Pumela se ma was nie ’n vegter nie, nie soos Pumela nie.

“Moenie so met my praat nie, my meisie!” was haar pa se kwaai antwoord die meeste van die tyd vir Pumela.

“Ek sal met jou praat op enige manier waarvan ek hou! Minstens het ek my ongeskiktheid van jou geërf! Leef daarmee!” sou sy terugkap.

Pumela het goed gedoen in Graad 11, en sonder Jarrod, het sy terugbeweeg na die groep meisies tydens pouse, alhoewel sy altyd op die rand gestaan het.

“Haai Pumela,” het Sipho saggies vir haar gesê een pouse. “Jy het vir ’n lang tyd nou niks van my gekoop nie. Het jy ’n ander verskaffer?”

“Nee, glad nie Sipho,” het Pumela ernstig gesê. “Dagga werk nie meer vir my nie, en ek het opgehou gebruik. Ek stel voor jy doen dieselfde. Ons sal nie vir ewig op skool wees nie weet jy. Ek moet vir die volgende stap voorberei so goed as ek kan.”

Sipho het geknik. Hy het deesdae ’n gevoel gehad dat sy geluk besig was om uit te loop. Die probleem was geld. Sonder die dagga, het hy niks gehad nie.

Pumela het vir hom gekyk op daardie manier van haar, en dit was onmoontlik vir hom om weg te kyk.

“Kry ’n normale werk Sipho. Ek hoor Game huur personeel vir Saterdae en Sondae. As jy die werk kry sal ek vir jou Vrydagaand by Rumours betaal. My bederf,” het Pumela gesê en geglimlag. “Dis tyd vir ons om groot te word, my ou vriend.”

Sipho het op pad huis toe by Game gestop. Die salaris was nie goed nie. Hy kon minstens tien keer daardie bedrag maak deur dagga te verkoop. Maar hy is die werk aangebied, en het dit geneem.

“Hulle moes van my gesig gehou het,” het hy vir Pumela buite die skoolhekke gesê die volgende oggend.

Later die dag het die polisie by die skool opgedaag met honde en ’n dwelmsoektog gehou. Hulle het sy sak uitgeruik, maar niks is gevind nie, nie ’n blaar of ’n pit nie. Maar op ’n manier moes die reuk ingebed wees, want die honde was baie aanhoudend. Sonder bewyse was Sipho egter skoon.

“Ek het net geweet iets sou hier gebeur het. Ek is jou beskermengel,” het Pumela tydens pouse gesê en uitlokkend na hom gekyk agter ’n los vlegsel of twee. “Ek het altyd ’n gevoel gehad oor jou Sipho. Sien jou buite Rumours Vrydagaand?”

Sipho het so goed as moontlik aangetrek Vrydagaand. Hy het vroeg daar aangekom en net sy kop geskud as hy genader is deur mense wat wou dagga koop. Hy het sy woord gehou aan Pumela.

Toe sy opdaag, het Pumela so pragtig soos altyd gelyk. Haar stywe rok het haar kurwes gewys, en haar lang vlegsels was los en het agter haar rug gehang. Sipho het vorentoe getree en sy arms om haar skouers gesit. Hy het haar voel bewe.

“Kry jy koud?” het hy gevra, reg om sy trui uit te trek en vir haar te gee.

“Nee, het sy gesê, maar sy het nader aan sy skouer genestel, en haar arms om sy dun middel gevou.

Binne-in die klub het Pumela aangedring om vir hulle drankies te betaal. “Ek het belowe, onthou, en my pa was die afgelope tyd vrygewig. Hy het kontant in my rekening inbetaal.”

Pumela het haar sopieglas gelig en vinnig haar tequila afgesluk. Sy het skewebek getrek, toe na Sipho gekyk en geglimlag, “Kom ons hou partytjie!” het sy gesê.

Sipho en Pumela het die hele aand saam gedans, en slegs opgehou om op die balkon uit te gaan om vars lug in te asem. Hy het haar teen hom vasgehou en in die hoek waar dit donker was, het hulle die eerste maal gesoen. Pumela het aan hom vasgeklou, haar lippe het teen syne gehang. Albei het gevind as hulle eers begin soen, was dit moeilik om op te hou.

Dit was Pumela wat uiteindelik weggetrek het.

“Ek wil dans,” het sy in sy oor gefluister. “Daar sal later tyd wees vir al die ander dinge.”

***

Vertel ons wat dink jy: Hoe het Pumela se pa haar lewe beïnvloed? Het Pumela en Sipho ’n kans om gelukkig by mekaar te wees?