“Ek is Lethabo. Ek hou van jou hoed!”

“Dankie, Lethabo. My hoed kom van Ghana af! Dit is die kleure van Ghana se vlag − rooi, geel en groen.”

“Waar is Ghana?” vra Lethabo.

“Dis daar ver bo in Afrika,” antwoord Felix.

“Wat is ’n Anansi-spinnekop?” vra Lethabo.

“Ek kom van die familie van Anansi-spinnekoppe. Ons is beroemd. Ons kom van Wes-Afrika. Party van ons beland dikwels in die moeilikheid, maar nie ek nie. Wel, nie gereeld nie,” lag Felix.

“Hoekom is jy hier?” vra Lethabo.

“Jy het my geroep,” sê Felix.

“Maar ek het jou nie geroep nie!” sê Lethabo.

Felix lag lekker. “Ja, jy het, toe jy die wysie geneurie het. Maak nou asseblief jou oë toe, ek het vir jou ’n verrassing.”

Lethabo sit haar hande oor haar oë. Sy kan hoor hoe Felix oor die vloer skarrel. Dan vul ’n geluid die kamer. Dum dum de dum … dum dum de dum. Dit klink soos die geluid wat haar ma se vingers op die tafelblad gemaak het, maar nader en harder.

“O, wat kan dit wees?” roep Lethabo.

“Maak oop jou oë!” skree Felix.

Felix speel agt tromme gelyktydig. Elke klein pootjie is op ’n trom. Die tromme staan in ’n sirkel om hom. Sy kop is vooroor gebuig terwyl hy elke trom slaan. Dum dum de dum … dum dum de dum.

“O, ek is mal hieroor!” straal Lethabo. Sy spring in die kamer rond en sing terwyl hy speel.

Die geluid van die tromme en Lethabo se stem vul die klein kamertjie. Dit bons van die mure af, styg op na die plafon, val op die mat, wriemel in hulle mae, kielie hulle tone en speel saam met die ritme van hulle harte.

“Is als reg, Lethabo?” Mamma loer om die deur.

“O ja, Mamma,” sê Lethabo. “Ek dink maar net aan my verjaardag.”

Lethabo se mamma maak die deur toe en gaan terug kombuis toe. “Ai tog, wat gaan ek doen?” sê Mamma.

“Felix! Waar is jy?” Lethabo kyk onder die bed. “Jy kan maar uitkom.”

“Dit was so hittete!” sê Felix. “Grootmense jaag my altyd weg.”