“Sê asseblief vir my hoekom jy na my toe gekom het,” sê Lethabo.

“Wel, ek weet dit is môre jou verjaardag. Wat wil jy graag hê?” vra Felix.

“’n Trom, Felix! Ek wil ’n trom hê!” Toe raak Lethabo hartseer. “Maar dis te laat. Die winkels is al toe.”

“Hie-hie,” lag Felix. “Vra vir jou ma vir ’n trom. Vra vir ’n trom van Wes-Afrika. Maak nou weer jou oë toe en maak ‘n wens. Tot siens, Lethabo!”

Lethabo maak haar oë toe. “Ek wens ek het ’n trom,” sê sy. Sy maak haar oë oop. Felix is weg.

“Mamma! Mamma!”

“Wat’s fout, Lethabo?” vra Lethabo se mamma toe sy in die kamer instorm.

“Mamma, ek wil graag ’n trom vir my verjaardag hê!”

“Maar Lethabo − ’n trom?” Haar mamma skud haar kop.

“Nie sommer enige trom nie, Mamma. ’n Trom van Wes-Afrika, asseblief.” En sy sing terwyl sy in haar kamer ronddans. Dum dum de dum!

Lethabo se mamma luister hoe sy sing. Sy dink aan haar pa. Mamma onthou hoe hy buite hul hut in die son gesit het. Hy het ’n groot trom tussen sy bene vasgehou. Hy het dit geslaan, en so al die mans en vroue van die dorpie na ’n fees uitgenooi. Daar het ’n vuur gebrand. Hy het vir Lethabo, sy nuwe kleindogter, geglimlag terwyl sy in haar ma se arms lê.

“O, hoe mis ek nou my pa,” dink Mamma. “Maar wag ’n bietjie! Ek het nog van sy goedjies in die koffer onder my bed.”

Mamma vind die ou koffer onder die bed. “O, nee, dis vol spinnekoppe!” kla Mamma.

Toe hulle haar stem hoor, skarrel die spinnekoppe weg. Mamma trek die koffer uit en maak dit oop. Binne-in vind sy ’n klein trom − net die regte grootte vir Lethabo.

“O, dankie, Pa! Ek onthou hierdie trom! Jy het dit vir Lethabo gemaak!”

Dis doodstil in Lethabo se slaapkamer. Mamma loop suutjies op haar tone na die slaapkamer en maak die deur oop. Die maanlig skyn op haar dogter terwyl sy slaap. Mamma sit die trom op die vloer langs haar bed neer en soen Lethabo op die wang. “Lekker verjaar, Lethabo,” sê sy sag. “Veels geluk met jou verjaardag van my en oupa.”