“Ai tog,” dink Lethabo se mamma waar sy by die kombuistafel sit. “Wat gaan ek doen? Dit is môre Lethabo se verjaardag en daar is baie min geld vir ’n geskenk.”

Lethabo staan by die opwasbak en neurie terwyl sy die skottelgoed was. “Mmmm la la … Mmmm la la.”

“Lethabo,” sê Mamma, “dis môre jou verjaardag. Wat wil jy vir jou verjaardag hê?”

“O, Mamma,” sê Lethabo, “ek weet nie wat ek wil hê nie.”

“Ek sal aan iets dink,” sê Mamma.

Dum dum de dum … dum dum de dum. Mamma se vingerpunte trommel op die tafelblad. Lethabo hou van die geluid. “Dum dum de dum … dum dum de dum,” sing sy saggies terwyl sy na haar kamer toe stap. Sy trek haar skoene uit en gaan sit op haar bed. “Wat wil ek vir my verjaardag hê?” sê Lethabo hardop.

“Snaaks dat jy dit vra!” sê ’n stem.

“Wie’s daar?” sê Lethabo en spring regop. “Ek sien niemand nie.”

“Ek’s onder die bed!” sê die stem.

“Kom asseblief uit!” Lethabo spring weer op haar bed. “Eeek!”

Daar, reg voor haar, staan ’n spinnekop. Hy staan op agt lang bene. Hulle lyk soos stokkies.

“Ek is jammer ek het jou laat skrik!” Die spinnekop buig vorentoe. “My naam is Felix. Ek is ’n Anansi-spinnekop.”