Twee volle dae lank sulk ek in my kamer. Ek steek nie my neus by die deur uit nie, uit vrees dat ek hom sal raakloop.

Net ‘n vakansieromanse. Dis wat dit vir hom was. Vakansiepret. ‘n Manier om die tyd om te kry.

Hy het seker elke vakansie so ‘n prettige fling met ‘n gewillige, onnosel meisie.

As ek in ‘n fliek was, sou die weer saam met my gemoed gespeel het. Daar sou nare storms losgebars het wat almal se vakansie bederf.

Helaas.

Dis perfekte vakansieweer. My ma en Melissa en Markus (wat ook intussen gearriveer het) bring ure op die strand deur en dit lyk of my pa man-alleen die omgewing se vishulpbronne wil uitput. Ek is die enigste een wat dikmond in die huis sit.

Vrydagoggend kry Melissa my uiteindelik voor stok.

“Vicki, genoeg is genoeg,” sê sy. “Jy gaan niks beter maak deur die hele vakansie hier binne te sit en jouself jammer te kry nie. Ek en Markus gaan vanaand stranddans toe. En jy gaan saam.”

Ek is nie seker hoekom ek my laat ompraat nie.

Dalk wil ek Pierre wys ek is oukei, dat ek beslis kan pret hê sonder hom. En dat ek nie daarin belang stel om sy vakansieromanse te wees nie.

Ek trek die ligblou strandrokkie aan wat ek aan die begin van die vakansie gekoop het. My hare hang los oor my skouers.

Markus gee ‘n lawwe wolwefluit toe hy my sien. “Sjoe, as ek nie klaar met jou ouer sussie uitgegaan het nie, het ek wraggies ‘n pass op jou gemaak!”

“Hei, watch it!” sê Melissa en gee hom ‘n vuishou teen sy arm.