Die strand lyk prentjiemooi. Oral hang Chinese lanterns en dansmusiek pols oor die maanverligte sand. Jongmense staan in groepies en kuier of dans op die strand.

Markus bring vir Melissa ‘n Hunter’s en vir my ‘n Coke van die strandkroeg af. ‘n Romantiese liedjie begin speel en hy lei Melissa eenkant toe om te dans.

Ek kan dit nie help nie – ek soek Pierre se bruin krulhare tussen die klomp dansendes.

“En as jy so alleen hier staan?” vra ‘n diep stem agter my.

Ek draai verbaas om.

“Drikus.”

Hy glimlag daardie glimlag waarop sy ortodontis baie trots kan wees.

“Ek kon jou nie laas oorreed om saam met my volleyball te speel nie,” sê hy.

“Wat’s die kans dat ek jou sover kan kry om met my te dans?”

Ek maak of ek ernstig daaroor dink. “Ek sou sê so 50% …”

Hy grinnik. “Dis goed genoeg vir my.” Hy hou sy hand na my uit. “Vicki, mag ek groot asseblief die eer hê om met jou te dans?”

Sy hand vou warm om myne. Hy is ‘n goeie danser. Ek kan die spiere op sy rug onder my hande voel.

Halfpad deur ons tweede dans sien ek die eerste keer vir Pierre. Hy staan by ‘n paar van sy pelle en gesels.

My hart gee so ‘n ligte plukkie en ek kyk dadelik weg.

“Sjoe, nou’s ek flou!” sê Drikus uitgelate toe die liedjie eindig. “Hoe lyk dit, is jy lus vir iets om te drink?”

Hy lei my oor die strand na waar sy vriende gesellig rondom ‘n vuur sit en kuier. Iemand haal bottels uit ‘n koelhouer en gooi vir my ‘n drankie. Drikus gee dit vir my aan. Toe ek die eerste sluk vat, spoeg ek dit amper uit.

“Is jy oukei?” vra Drikus met ‘n laggie in sy stem.

Ek knik.

Dis darem nie asof ek glad nie drank gewoond is nie. Ek het al ciders op partytjies gedrink, en wyn saam met my pa-hulle.

Ek en Drikus begin gesels. Hy vra my uit oor waar ek vandaan kom en van watter flieks en musiek ek hou. Ek voel hoe ek stadig maar seker ontspan. Net een of twee keer betrap ek myself weer dat ek Pierre se gesig tussen die dansendes soek.

Sonder dat ek vra, maak Drikus weer my glas vol.