Dinsdagoggend wil my ma George toe ry om ‘n paar laaste Kersinkopies te doen. Dis ‘n winderige, bewolkte dag, daarom besluit ek en Melissa om saam te gaan.

My pa is weer douvoordag weg om vis te gaan vang. Vir die eerste keer in jare het hy ‘n tan en hy praat nie oor sy werk nie.

Ons loop die winkels plat. By ‘n stowwerige boekwinkeltjie koop ek vir Pierre ‘n tweedehandse kopie van To kill a mockingbird. Nou kan hy sy ma s’n teruggee.

Net ná een kry ek my ma en Melissa by die koffiewinkel waar ons afgespreek het om te ontmoet. Die plek is baie besig. Ons kry ‘n tafel agter ‘n muurtjie met potplante op. Terwyl my ma en Melissa badkamer toe gaan, bestudeer ek die spyskaart.

“Hei, my ou, dit lyk of jy die skoot hoog deur het!” hoor ek iemand bo die gedruis in die winkel sê.

‘n Paar seunstemme lag uitbundig.

“Ons het jou hierdie hele vakansie omtrent nog nie met ‘n oog gesien nie,” sê ‘n ander stem. “Lyk my dinge raak ernstig, of hoe?”

“Dis net ‘n vakansieromanse,” antwoord ‘n stem.

‘n Stem wat ek alte goed ken.

Die slukkie Appletiser word skielik suur in my mond. Ek begin hoes en die borrels brand deur my neus.

Al hoesend en proesend vlieg ek op en strompel by die koffiewinkel uit.

Ek maak of ek nie hoor hoe Pierre my naam roep nie.