“Ons het dit toe gedoen,” spog ek by die ouens by die skool.

Vince stik in sy toebroodjie. “Wa-a-t? Rêrig?”

“Great!” sê Kevin. Hy klap my op die skouer. “En hoe wassit?”

“Amazing! Rêrig amazing.” Ek is vol bravade. Maar ek lieg vir hulle. Ek wys dit nie, maar ek kry skaam vir myself.

Ek vertel myself dat ek by Nita móés slaap. Ek moes sien hoe dit is met ‘n girl. Ek moes die gevoellens binne my toets. Ek moes weet wat voel reg, en wat voel verkeerd.

Maar wat gebeur het, het dinge net nog meer complicated gemaak.

Dit word ‘n worsteling. Ek soek antwoorde. Wie is ek? Wat is ek? Hoekom is ek so?

Ek soek in die Bybel. Ek kry teksverse wat my stukkend sny. Maar ek worstel steeds met God. Ek probeer ‘n deal maak. Maak my anders, en ek sal enige iets vir U doen. Dit voel of Hy my nie hoor nie.

Ek soek antwoorde op die internet. Ek lees ander mense se stories. Ek huil terwyl ek sommiges lees.

Ek soek in tydskrifte. Een van my ma se ou Insig-tydskrifte het ‘n onderhoud met Nick Mallet, die ou wat destyds die Springbokke afgerig het. Hy vertel in die artikel dat een van die hardste ouens teen wie hy gespeel het, het ‘n boyfriend gehad. Ek lees van Gareth Thomas, die Walliese rugbyspeler, wat uitgekom het. ‘n Gay rugbyspeler! Die meeste mense het hom aanvaar nes hy is.

Dis die ding: aanvaarding.

Maar eers moet jy jouself seker aanvaar.

VRAAG: Wat sê die Bybel regtig oor homoseksualiteit?