Dis die laaste game van die jaar. Ek moet myself vandag bewys. Ek moet volgende jaar die eerste span haal. Vandag gaan ek dit doen vir my span, maar ook vir myself.

Nita het ook kom kyk. Sy is iewers op die pawiljoen tussen al die mense. Die lug ruik na braaivleis. Oral is opgewonde stemme en vlae. Ek stap aantrekkamer toe. En toe sien ek hom. Henri is ook hier vandag.

Hy glimlag. My lyf word lam. Ek baklei teen my gevoellens. Hy stap na my toe.

“Hoop jy het ‘n great game, Brent. Wys hulle, mater!”

Ek hou ‘n ruk lank op met asemhaal.

My gedagtes gaan in overdrive.

Later, op die veld, loop dinge lelik verkeerd. Ons span se planne werk net nie uit nie. Dis asof elke ou vandag op sy eie mission is.

Gelukkig verbrou die ander span ook. Twee strafskoppe help ons naderkruip aan hulle telling.

Ons het nog net een drie nodig.

En toe kom die kans.

Die bal skiet af met die agterlyn. Voor my is ‘n gaping doellyn toe. Ek is teen die kantlyn, maar ek sal dit kan doen. Die bal land in my hande. Ek voel hoe elke spier in my lyf tot aksie oorgaan. Nou is my kans!

Die ander span se ouens pyl nader. Ek hou my oë op die doellyn. Ek gaan hom net daar langs die hoekvlag plant. Ek sien al hoe ek dit doen.

Die skare gaan mal.

Ek hardloop soos nog nooit tevore nie. ‘n Duikslag van die ander span is mis. Vorentoe! Nog ‘n duikslag. Ek wriemel my uit die ou se greep. Trap links, regs, links.

Ek is by die doellyn. Val vorentoe net toe nog ‘n ou se arms om my middellyf vou.

Ek druk.

Die fluitjie blaas nie vir die drie nie. Ek staan op. Kyk na die skeidsregter. “Jy het uitgetrap, boetie,” sê hy vir my.

VRAAG: Wat dink jy van Henri? Moes hy liewer wegbly van die rugby af?