Peter Cho loop deur ’n verlate straat. Hy vind troos in die stilte. Onlangs het sy lewe uit ’n bombardement van eindelose vrae bestaan, besluite wat hy nie kon maak nie.

“Maar met resultate soos joune, kan jy enigiets doen Seun.” Sy pa se verwarde gesig. “Wat van astrofisika? Jou onderwysers, hulle sê almal…”

“Los die seun uit.” Sy ma se bekommerde stem.

Sy vriende het hom aangejaag oor meisies. “Hoekom kry jy nie ’n meisie nie, man? Jy’s altyd so alleen. ’n Bietjie vroulike aksie sal jou goed doen.” Philip was altyd bekommerd oor meisies, Peter nie. Al die meisies wat hy ontmoet het was té geïnteresseerd in die Kardashians of wie Idols gewen het. Peter was onaangeraak deur hulle patetiese pogings om koel te probeer wees. Hulle was patetiese skapies en hulle het te hard geblêr.

Dit was nodig dat hy iewers stil kon wees, weg van alles af. Die advertensie in die plaaslike koerant was ’n geskenk van Bo. Hier was hy nou dus in Mitchells Plain, besig om huis op te pas vir ’n verveelde paartjie wat besluit het om weg te kom van die sjarme van voorstedelike saligheid. En dit was salig. Die huis was volledig toegerus vir ’n tiener wat sopas die skool verlaat het. Dit het gemotoriseerde hekke gehad, verhitte vloere en ’n ysmasjien in die yskas vir alleen nagsopies.

Peter het doelloos geloop, sy skouers gebuig terwyl hy die koue wind wat deur sy dun hoodie gesny het, probeer ignoreer. “ Denke bo liggaam”. Dit is wat die jare by die dojo hom geleer het, en geduld, en waaksaamheid. Die enigste deel van sy hoërskool wat hy regtig geniet het was om agt A’s vir Matriek te kry en joejitsoe te leer. As dit by die ander goed kom het hy gevoel hoe meer hy geleer het, hoe nutteloser het alles gevoel. En noudat sy sekondêre opleiding voltooi was, het hy in limbo gesweef. Bokant hom was sy ouers se verwagtinge, en onder hom was sy geloof, wat stadig verminder het terwyl hy die geweldige leegte van die heelal besef het. Sy sinisme het alle aspekte van sy lewe geraak.

Klank het skielik in die naglug geklingel. Sy selfoon.

“Hallo.”

“Hallo, Peter. Dis Mnr. Wilson. Enige moeilikheid so ver?”

“Nee. Alles is reg. U het ’n wonderlike huis.”

“O, ja. Dankie. Ek wil jou net aan die hoofreëls herinner: geen vriende in die huis nie en geen gebruik van die telefoon nie. Maar ek is seker jy het baie lugtyd?”

“Ja, Mnr. Wilson.”

“Nog iets. As jy enige hulp nodig het, roep ons buurvrou, Mev. Pryce. Sy het ook ingestem om elke paar dae in te loer.”

“OK, dankie Mnr. Wilson. Geniet u vakansie.”

Peter het sy lugtyd nagegaan en die foon in sy sak laat gly. ’n Nuwe rede om sy lewe te haat. Geen lugtyd vir die volgende week nie. Hy wou nie sy ouers vir geld vra nie. Hulle sou dit vir hom gee, maar hy sou skuldig gevoel het. Hy moes ’n werk kry, dit het hy geweet. Iets om hom besig te hou terwyl hy sy siel deursoek het. Maar sover hy kon sê was sy siel iewers tussen die sterre versteek. Hy het opgekyk, maar hy kon net wolke sien wat die volmaan toegemaak het.

Net voor hom het ’n klein parkie oor die blok gestrek. Twee eensame swaaie en ’n glyplank. Dit was ’n neerdrukkende gesig vir enigeen ouer as vyf. Hy het dit oorkruis en die naam van die pad waarop dit staan onthou. Hy wou nie op die eerste aand in die gebied verdwaal nie. Die ryp op die gras het onder sy voete gekraak. Toe hy op die donkerte van die teerpad trap, het die flits van ’n beweging sy oog gevang. ’n Figuur was besig om na hom toe te hardloop.

Wie ookal dit was, het met ’n ritme gehardloop wat aan wanhoop gegrens het. Peter het gekyk terwyl die hardloper al nader gekom het. Sy asemhaling het versnel, wat klein rookwolkies in die vriesende lug ingestuur het. Die figuur was ’n paar meter weg. ’n Meisie. Sy was pragtig maar vuil. Haar voete was kaal, haar jeans geskeur en haar hare ’n gemors.

Peter het die meisie bekyk. Sy het na moeilikheid gelyk. Hy het nie geweet wat om te doen nie. “Wat as sy my in een of ander lokval lei?” het hy gedink. Hy het haar weer probeer peil toe sy naby was, in haar oë gekyk en opgemerk hoe bang sy gelyk het. Hy het sy suspisies afgeskud. Die meisie het sy hulp nodig gehad.

Peter het gesukkel om woorde te kry, en toe ’n paar uitgedruk: “Is jy OK?”

***

Vertel ons wat dink jy: Sal Peter die meisie help?