Die volgende dag is ek, Candice en Deon besig om te braai op die stoep. Ons het die stoep mooi gemaak toe ons ’n jaar terug hier intrek. ’n Rankplant groei teen die stoep se pilaar op tot bo teen die afdak en daar’s ’n klomp plante in verfblikke oral gepak.

Nie een van ons het kind of kraai nie, nie eens ’n hond of ’n kat nie. Wat ek nou begeer is ’n vet bankrekening. YouTube gaan my help, want Belhar moet my los. Die mense hier is lief vir mekaar, maar die gangsters en boewe gee die plek ’n slegte naam. YouTube gaan my ’n tweede kans gee. ’n Tweede asem. ’n Nuwe geboorte. Moet die hero wees van my eie storie.

Ons sit almal rondom ’n wit tafel onder ’n gazebo. Ek en Candice het die wors en die vleis gebring. Deon het gesorg vir die wyn en Coke. Die broeiende hitte maak ons is al drie lig aangetrek. Ek en Deon in kortmoue en kortbroeke. Candice dra ’n swart sonbril en ’n kort rok wat haar mooi bene wys. Sy’s die mooiste girl wat ek nog ooit gehad het. Haar looks en haar personality maak van haar ’n keeper. Die lewe is nie so sleg nie.

Deon en sy girlfriend het twee weke gelede opgebreek. Weet nie wat het daar gebeur nie. Deon is ’n eienaardige ou. Hy pay ver meer as ek en Candice, maar hy leen byna elke maand by ons geld. Altyd een of ander verskoning. Iemand by die werk het sy wallet gesteel met bankkaart en al of sy ma het ’n duur oogoperasie gehad. Tot die volle waarheid later uitkom. Maar soms is dit goed om hom in die omtes te hê. Enige botsings met die gereg, soos ’n parkeerkaartjie, of problem met mense hier in Belhar, bel net vir Deon en hy sort dit chop-chop uit. ’n Regte wolf in skaapklere.

Deon staan op en sit sy glas wyn neer om die vleis en wors op die rooster om te draai.

“Wat het giste innie Kaap gebeu?” vra hy toe hy weer kom sit. Hy draai die glas wyn in sy hand.

“Dissie prank,” sê ek. “’n Man wou my slaan.”

“Het jy hom terug geslaan?” vra Deon.

“Nope,” sê ek. “Nieman het baklei nie.”

“Het so kwaad geraak vir daai blerrie man,” sê Candice. “Sekere mense kannie ’n joke vattie.” Sy kyk na Deon.” Het jy die video gesien?”

“Bring laat ek sien,” sê Deon.

Candice kom terug en gee haar sel vir Deon. Hy druk sy duim op die video en ek hoor duidelik die gesprek van gister.

Deon lag hard met sy kop agteroor. “As daai ou vir my so gegryp het, dan donner ek hom net daa.” Deon gee Candice se sel terug. “Wat’s julle planne verder?”

“Dink nou aan ’n nuwe prank,” sê ek.

“Jy dink sieke wee aan ’n gold digger-prank,” sê Candice.

“Ja,” sê Deon. “Almal op YouTube doen nou daai.”

Ek frons soos ek dink. “Ammal doen nou gold diggers. Ek probee aan iets niets dink. Candice, ammal moet praat van ons twie op YouTube.”

“Nou as ossie die gold digger gan doen nie, wat dan?” vra Candice.

“Ons moet iets doen wat viral sal gaan,” sê ek.

“Soes wat?” vra Deon. Hy staan weer op om die vleis te gaan omdraai en knyp sy oë toe vir die braaivleisrook. Dit begin al lekker ruik.

“Baie vannie youtubers doen fake goed,” sê ek. “Ek en Candice is die real deal. Het julle gehoo van daai girl wat haa boyfriend doodgeskiet het? Dit was ’n prank, hy het ’n bulletproof jacket aangehad, maar toe tref die koeël sy nek”

Candice lig haar wenkbroue. “Oe jirre, nee! Daai man is nou dood. Sy was mettie lyf met sy kind, toe skiet sy die arme man per ongeluk dood. Ek gaan toggie vir jou met ’n regte gun skiet nie.”

“Moenie ees dink om my gun te vra nie,” sê Deon vir my. “Jou kop is vol nonsens.”

“Hoe de hel gaan ek voo Candice staan soedat sy vir my kan skiet?” vra ek laggend. “Wat de hel? Ek het iets meer daring in gedagte. Dis wat ek probeer sê. Dit moet ’n video is wat ammal laat praat en share en kliek. Ek soek my en Candice se name op ammal se lippe.”

“Ek hoo jou,” sê Deon en kyk na die rooster. “Die vleis en wors is gaar. Ek’s dood vannie honger.”

Ná vyftien minute is die bord voor my vol aartappelslaai, vleis, wors en potjiekos. Die hitte van die speserye wasem by my neus in. Wil die chilli-sous en sagte vleis op my tong proe.

“Het vergiet om vir julle te sê,” sê Deon en wag tot hy ’n hap vleis klaar geëet het. “Ek was giste innie koerant. Oppie voorblad. Ek en ’n paar kollegas.”

“Wil daai koerant sien,” sê Candice terwyl sy haar vurk versigtig op die bord neer sit. “Wat het jy gedoen om soe famous te wod?”

“Hy lieg,” sê ek.

“Ek liegie, my bra,” sê Deon. “Kry net die koerant by iemand wat dit gister gekoep het. Kyk self.”

“Wat het jy gedoen?” vra Candice nuuskierig.

“Hoo die storie.” Deon sit ’n been op sy bord neer. “Eergiste ry ons innie Delft rond. My nuwe partner is ’n vrou. Haa naam is Natalie. Ken haa nie baie goed nie, maa ek probee uitfigure waa lê haa loyalty. Sy’s van Valhalla Park en sy vattie drama nie. Sy ken noggie my true colours nie. By my is daa net een ding wat saak maak, money talks. Met my laaste partner moes ek die meeste vannie praatwek doen, Natalie is annes. As os boewe optel, doen sy al die praatwerk. Sy vloek soos ’n blerrie matroos. Sy ruk die skelms rof rond. Laat hulle oppie grond lê terwyl sy met haa voet op hulle skouer staan en skel. Sy visenteer enige een wat verdag lyk en moenie met haa praat van jou regte nie. Jy kry vinnig ’n klap tienie kop. Lag my binne in my moer vir haa.”

“Klink sy dan nou soos Candice,” joke ek.

“Nee!” protesteer Candice. “Ek’s nie so rof nie!”

“Anyway, eergiste ry os rond in The Hague,” gaan Deon verder. “Die twee ouens staan langs ’n muur vol spray paint. Toe hulle ons sien angery ko, toe trek hulle skouers styf. Wil nog vir Natalie iets sê, maar toe skuu die bakkie se wiele soos sy stop. Sy’s by die bakkie uit en los die deur wawyd oep. Ek dinkie daai vrou het ’n boyfriend nie, want sy sal bo-op hom kop staan.

“Die twee klongens langs die muur se broeke is hanggat. Mussies en hoodies, maar die son skroei. Gesigte is net vel en been. Tikkoppe? Hulle ruik na gras en sand, asof hulle die vorige aand in ’n bos geslaap het. Teen die muur sê Natalie, ‘Bene oep en hanne tien die muur!’ Sy wag nie vir my nie. Ons kry drie gramme tik bo-op hulle. Smyt hulle agterin die vangwa. Ek sien dadelik hierie twee smokkel vir iemand.”

Deon skep ’n lepel vol aartappelslaai en eet sy mondvol klaar. “Ek gooi ’n klomp dreigemente vir daai twee rond, toe sing hulle soos kanaries. Vetel vir os waa die drughuis is en alles. Ek en Natalie kry nog mannekrag en gan trap amper daai deur af. Binne innie huis is ’n klomp gangsters. Toe hulle sien dis law enforcement, is hulle hanne in die lug en hulle gesigte tien die vloer. Ons speelie.”

“Was hulle gangsters?” vra Candice.

“Jip,” sê Deon. “Die hele lot van hulle. Parasiete! Ek’s vinnig in die slaapkame en ruk laaie uit. Laat die kouse, onderbroeke, handdoeke en alles netso oppie vloer spat. Wiet julle waa kry ekkie drugs en geld? Binne-in die kooi se matras weggestiek. Wie de hel stiek nog goed in ’n matras weg?” Hy lag skelm. “Daa was ’n rolletjie geld in ’n rekkie toegedraai. Daai geld het ek vir my gevat. Vinnig in my regterkous weggestiek voo die ander sien. Net die drugs vir my kollegas gewys.”

“Het daai jongens nie vir jou gepiemp nie?” vra ek nuuskierig. Hou maar my mond oor die geld. So Deon is ’n poliesman, maar hy steel gangsters se geld?

“Nope,” sê Deon. “Ek’s nie giste gebore nie.” Hy staan op. “Ek’s nou terug.”

Ek en Candice kyk hom agterna.

Sy skud haar kop. “Ten minste sal hy rent kan maak die maand.”

Ek draai na haar. “Ek het ’n plan vir ons volgende YouTube-video.”

“Wat’s jou plan?” vra sy.

“Ek gaan my soos ’n poliesman aantrek. Dan gan raid os ’n regte drug dealer se huis, daai Ballas-ou in Delft. Ons mak net seke Ballas en sy manskappe issie daa wannee ons gaan nie, net ’n junior of so. Wat sê jy?”

Vertel ons: Wat dink jy van Deon wat geld by gangsters steel?