Ek kry die volgende dag ná werk weer vir Candice by die fisheries. Sy gee vir my ’n plastieksak vol frikkadelle, vetkoeke en ’n paar stukkies maasbanker. My favourite. Ek gee vir haar ’n soen en ons loop stasie toe.

Ek en Candice het ’n Toyota. Ons ry soggens met die kar tot by Goodwood-stasie en parkeer dit daar aan GrandWest se kant. Dan vat ons die trein Kaap toe. Ons het elkeen ’n monthly en ry eersteklas. So spaar ons petrolgeld.

Op die stasie staan die trein reg, en ons klim in, kry plek by ’n oop venster. Om ons gaan sit mense en sit hul sakke neer. Hulle sug van verligting. Selfone en oorfone word uitgehaal en vensters word oopgemaak sodat vars lug die wa kan vul. Êrens speel iemand reggae. Die trein se enjin begin sidder en fluit.

“Ek wietie so mooi oor die prank waarvan jy giste gepraat hettie,” sê Candice. “Dit mak my geworry en ongemaklik.” Sy hou haar handsak op haar skoot.

“Candice, os het net ’n duisen subscribers. Ons het mee nodig, baie mee.”

“Dit bieteken nie jy moet roekeloos wiesie.” Sy lyk bekommerd. “Jy wil nou met drug dealers gaan mos. Daai mense is terrible. Hulle doen terrible goed. Ek willie eendag oppie stoep stan en dan skiet mense op my nie.”

“Nieman gan op ons skiettie,” fluister ek. “Ons lossie conversation vir wannee os in die kar sit.”

“Lee-Roy, ek wiettie so mooi nie …”

“Candice, kyk gou hoeveel views het os laaste prank op YouTube gekry. Asseblief, wil jy nie daai vir os doenie?”

Candice haal haar sel uit haar handsak. Sy kyk by die venster uit. Ons ry verby treine wat swart gebrand is. Boemelaars wat ronddwaal en leë blikkies vir recycling kollek. Ek sal die treinspoor van my lewe moet verander. Drasties verander. Die taxi en treingeld gaan elke jaar op, maar die pay bly dieselfde. Niemand gaan my mind change nie.

Candice lag terwyl sy na haar selskerm kyk.

“Hoeko lag jy?” vra ek.

“Ek kyk nou na die video wat os op YouTube gesit het,” sê sy. “Die mense op YouTube sê jy moes daai man geklap het. Die een wat jou tien die boem vasgedruk het.”

“Dit was ’n prank,” sê ek. “Daai soort goed gebeur.” Ek gaan sit langs haar. “Hoeveel views het die video gekry?”

“Vyf en twintig duisend views. Die mense is mal oor die video.”

“Hoeveel subscribers?”

Sy sug. “Die subscribers is nog dieselle.”

“Sien jy waarvan ek praat? Klomp mense kyk na die video, maar hulle subscribe nie.”

Sy kyk op na my. “Moenie so mismoedig klink nie. Mense kyk dit. Dis ’n baie goeie ding.”

“Gan vir jou sê wat is goed. Goed is wannee een van ons videos viral gaan. Dit het noggie gebee nie. Voo daai gebee, is ekkie tevriede nie.”

Ons klim by Goodwood-stasie af en loop kar toe. Die kar is altyd veilig hier naby GrandWest, baie security. Candice gee my die karsleutels en ek sluit oop. Ons ry deur Ruyterwacht en verby die Elsiesrivier-polisiestasie.

“Os gaan Ballas se huis dop hou,” sê ek vir Candice. “So vir twie dae. Dan kan os sien hoeveel is hulle. Os wag ons kans af. Wannee Ballas eendag ry, dan doen ons die prank.”

“Ek weet rêrig nie wat om vir jou te sê nie, Lee-Roy,” sê Candice. “ Lyk my jy willie vir my lysta nie.’’

Ons hou Ballas se huis vir drie dae dop. Dis net hy en twee van sy boys wat gereeld daar is. Daar is ’n vrou ook. Hulle gaan elke tweede dag so 18:00 ’n ruk uit, dan’s net die vrou of ’n junior daar. Ek sê vir Candice ons wag vier dae, dan doen ons die prank een middag na werk.

Vier dae later kom ons die middag ná vyf by die huis. Deon is nie daar nie; dit tel in ons guns. Die laaste ding wat ek nou nodig het is vir hom om hier rond te dwaal. Ek moet by sy slaapkamer uitkom, want ek het een van sy uniforms nodig. Het klaar vir my ’n gun gekry. Dis yster, maar fake, nie die regte ding nie. Ek sit ons sakke neer, terwyl Candice vir ons koffie maak. Ek gaan voel by Deon se kamerdeur. Dis gesluit. Die afgelope drie dae het ek die uniform gevat en saans weer teruggesit sonder dat Deon dit agterkom. Ons het elke keer gewag, maar Ballas-hulle het nie uitgegaan nie.

“Hoe gan jy nourie uniform kry?” vra Candice. “Lee-Roy, dis biete so. Dis meant to be. Os moenie die ding aanvang nie. Hoo wat ek sê.”

Ek vat die koppie koffie by haar. “Die deur is gesluit want Deon het sy kamersleutel sam wek toe.”

“Gaan jy wag tot hy huis toe kom?”

“Nooit! Hy gaan nee sê … Os gan nettie uniform leen, dis nie steel nie. Ek gan dit net vir ’n halfuur gebruik en terugbring. Daa sal nie ees stof oppie uniform issie.”

Ek loop by die agterdeur uit. Gaan loer by Deon se kamervenster. Voel met my vingers om die raam of ek die ruite kan oopmaak, maar dis ook gesluit. Ek gaan kombuis toe en kry ’n skroewedraaier onder die opwasbak. Ek gaan vandag by Deon se slaapkamer inkom, al moet ek iets breek om dit te doen. Deon gaan kwaad is, maar hy sal my maar net moet vergewe. Desperate times calls for desperate measures. Ek sukkel met die ruit, maar dit wil nie oop nie.

Candice kom loer by die agterdeur. “Jy gan die ruit briek, Lee-Roy!”

“Ek gaanie,” sê ek en dink.

“Oe jirre, jy dink nie mee normal nie!”

Ek loop verby haar en sy staan opsy.

Ek gaan sukkel weer met die kamerdeur. “Blerrie hel!” sê ek en staan ’n tree terug. Toe lig ek my regtervoet op en skop. Die kamerdeur sidder in die kosyn.

“Wat vang jy an?”

Ek skop weer twee keer hard, met al die krag in my regterbeen. Die kamerdeur skiet oop, hout spat.

Ek kyk om na Candice. “Was daai nou so swaa?” vra ek. “Nou kry ek die uniform. Die volgende stap is Ballas se huis. Hopelik kry ek nie vandag my dood nie.”

Vertel ons: Wat dink jy van Lee-Roy se plan? Wat gaan by die drug dealer se huis gebeur?